Evolusie is 'n feit, nieteenstaande wat fundamentaliste sê

Antwoord se sogenaamde "studiestuk" oor evolusie ( http://www.antwoord.org.za/studiestukke/AVZ Evolusie.doc ) is van begin tot end deurspek met feitefoute, verdraaiïngs en wanpersepsies oor evolusie, skryf Leon Retief. Dit is in der waarheid verbasend dat iemand wat so ’n verbysterende onkunde oor ’n onderwerp ten toon stel homself desnieteenstaande bevoeg ag om ’n "studiestuk" daaroor te skryf! 

Die aanhaling van Wickramasinghe wat bo-aan die studiestuk staan vir eers daar gelaat word aangesien dieselfde soort argument ook later aangetref word. 

In paragraaf een lees ons : "Dit (evolusie) is nie op sigself ’n belangrike onderwerp vir Christene nie. Daar is hoofsaaklik twee redes waarom dit belangrik is vir Christene." Nie belangrik nie maar tog belangrik? Hoe kry mens daardie kloutjie by daardie oor? 

Ons lees voorts : "In die eerste plek is dit belangrik omdat verskeie mense dit gebruik om geloof in ‘n Skepper God aan te val en tweedens word die mens se menswaardigheid afgetakel." 

Baie mense dit gebruik inderdaad evolusie om geloof af te takel, maar die evolusieteorie neem geen kennis neem van ’n god nie, alhoewel dit ook nie die bestaan van ‘n god uitsluit nie. Dit sê net eenvoudig niks daaroor nie – net so min as wat bv. die swaartekragteorie, relatiwiteit, kwantumteorie of die teorie van kontinentale dryf iets daaroor te sê het. Waarom so iets van die evolusieteorie verwag word maar nie van ander teorieë nie is onduidelik. Ons word ook nie vertel waarom hierdie teorie nou juis ons menswaardigheid aftakel nie. Waarom is enigiemand minder mens omdat hy of sy ‘n primaat onder sy voorouers tel? Trouens, hierdie teorie toon hoe ons voorsate deur die eone ontwikkel het, wys aan ons uit hoe ons aan elke ander organisme verwant is en behoort ons te help besef hoe nou ons vervleg is met elke ander lewende wese op aarde. Dit beklemtoon ons verantwoordelikheid om hierdie planeet se ekosisteme met versigtigheid te bestuur. Verder : dit is nou al goed bekend dat ons en die sjimpansee nagenoeg 98% van ons genome deel – en hierdie feit bly staan ongeag wat enigiemand ook al van evolusie dink. Takel hierdie gemeenskaplikheid ook ons menswees af? Indien wel, waarom? Indien nie, waarom nie? 

Die skrywer van die studiestuk se onderrok hang so effe uit wanneer hy in paragraaf twee op bladsy 1 skryf dat die ondersteuners van evolusie hulself voorstel as "…intellektuele akademici wat baie verlig en ingelig is."  Die enigste afleiding wat uit hierdie ietwat sarkastiese aanmerking gemaak kan word is dat evolusioniste intellektuele snobs is. Stellings soos hierdie getuig nie van ‘n objektiewe benadering tot die evolusieteorie nie en kan ‘n leser kwalik geneem word as hy of sy die betrokke skrywer nie die voordeel van die twyfel wil gee mbt sy vermoë om ‘n objektiewe stuk oor evolusie te skryf nie? (Laat staan nog sy kennis oor die onderwerp!) 

Die sg. jong-aarde kreasioniste word glo in die media uitgebeeld as godsdienstige fundamentaliste, "…en nie baie ingelig oor die wetenskap nie." Die aangehaalde woorde, alhoewel ‘n veralgemening, is glad nie ver van die kol nie. Gegewe die onbetwisbare data oor die ouderdom van die aarde kan slegs wetenskaplike analfabete vandag steeds aanvaar dat die aarde slegs sowat 6 000 tot 10 000 jaar oud is. Daar kan met vers en kapittel bewys word dat baie jong-aarde kreasioniste geensins huiwer om doelbewuste leuens te vertel om hul saak te bevorder nie. Dit is op die ou end eintlik maar al wat hulle kan doen wanneer hulle ‘n argument oor evolusie moet voer, aangesien daar geen wetenskaplike bewyse vir hul standpunt is nie.  

Die skrywer van die studiestuk laat na om lesers in te lig ivm sy eie opinie oor die ouderdom van die aarde. Geen rede(s) word verstrek waarom hy kapsie maak daarteen dat jong-aarde kreasioniste as wetenskaplik oningelig beskou word nie – want hy self moet tog beter ingelig wees as jong-aarde kreasioniste as hy ‘n ou-aarde kreasionisme aanhang. Indien hy wel ‘n jong-aarde kreasionis is weet ons steeds nie op grond waarvan hy homself as wetenskaplik ingelig beskou nie. 

In die laaste paragraaf van bladsy 1 staan daar : "Die evolusioniste kies om die meganisme wat in evolusie voorgestel word, te glo sonder werklike wetenskaplike bewyse, terwyl die kreasioniste die saak vanuit hul verstaan van die Christelike geloof benader." Die eerste deel van hierdie stelling is louter, suiwer en ongebreidelde snert. Daar bestaan werklik soveel goed gefundeerde bewyse vir evolusie dat mens nouliks kan glo dat iemand wat homself bevoeg ag om ‘n studiestuk oor evolusie te skryf die berge bewyse kan miskyk – mens moet werklik moeite doen om sulke bewyse nie raak te sien nie! Die hele grootse samehang van die paleontologie, geologie, vergelykende anatomie en embriologie, etologie en genetika (en spesifiek molekulêre genetika) is "geen werklike wetenskaplike bewyse" nie?  

Die evolusieteorie is 150 jaar oud, daar word jaarliks derduisende navorsingsartikels daaroor gepubliseer, artikels wat die resultate van grondige navorsing weergee (en nie blote spekulasie en filosoferings bevat nie) en nog geen lewensvatbare alternatief vir hierdie teorie is gevind nie. Honderdduisende wetenskaplikes dwarsoor die wêreld aanvaar hierdie teorie omdat hulle besef dat die bewyse ten gunste daarvan oorweldigend is – kan enigiemand werklik glo dat soveel mense vir 150 jaar lank hulself om die bos kan lei en ‘n teorie aanhang wat geen "werklike wetenskaplike bewyse" het nie en wat merendeels bestaan uit spekulasie en filosofering? Dit is natuurlik so dat die "waarheid" van ‘n natuurwetenskaplike teorie nie beoordeel kan word op grond van wat ‘n "koppetelling" nie (die natuurwetenskappe is per slot van rekening nie ‘n demokratiese verskynsel nie) maar wanneer verreweg die oorgrote meerderheid van mense wat nagraadse kwalifikasies in hierdie vakgebied besit en wat aktief navorsing op die gebied doen van mening is dat die evolusieteorie ‘n realistiese weergawe is van die biologiese werklikheid dan is dit tog iets waarvan mens kennis moet neem sonder om dit sommer net so af te maak as dat die betrokke wetenskaplikes bevooroordeeld is en alles sommer maar net uit blote moedswillige hardkoppigheid (lees : hul aanhang van metodologiese naturalisme) voor die voet in die raamwerk van die evolusieteorie inprop, selfs al druis die waarnemings duidelik in teen die stroom van die teorie. By verre die oorgrote meerderheid van wetenskaplikes aanvaar hierdie teorie, maar hul mening word in twyfel getrek deur ‘n geringe handjievol medewetenskaplikes (dikwels/meestal om erg onwetenskaplike redes) en dan ook deur ‘n groot aantal mense wat geen kwalifikasies, ondervinding of insig in die natuurwetenskappe het nie en niks daarvan weet nie maar doodeenvoudig weier om die teorie te aanvaar – weereens om onwetenskaplike redes. Dit bly maar ‘n eienaardigheid – min mense sal argumenteer oor bv. kwantumfisika, maar laat die onderwerp net evolusie wees! 

Die geskiedenis van die afgelope paar eeue gee aan ons goeie voorbeelde van teorieë wat heersende beskouings, deur geestelikes daar gestel, omvergewerp het. Dit is seker nie nodig om weereens die hele kwessie van heliosentrisme en die ouderdom van die aarde op te haal nie. In beide gevalle moes denkende mense, geestelikes inkluis, eventueel tot die besef kom dat hulle hul sienswyses sal moet verander, al het dit eers gebeur nadat die aanhangers van die "nuwe" teorieë aan verguising onderwerp is.  

Ons lees ook : "Daar bestaan wel omstandigheidsgetuienis wat hierdie konsep (evolusie) ondersteun, maar geen direkte empiriese getuienis nie. ‘n Oorgang van een spesie na ‘n ander is nog nooit waargeneem nie en in die afgelope 150 jaar is nog geen nuut ontwikkelde spesie ontdek of geskep nie."  

Spesiasie is baie goed beskryf in ‘n groot aantal organismes en enigiemand wat evolusie met maar net minimale aandag bestudeer het (soos mens sou aanneem die skrywer gedoen het, alhoewel dit nou nie juis so lyk nie) behoort bewus te wees van die vakliteratuur op hierdie gebied. Hieronder is verwysings na waargenome voorbeelde van spesiasie.  

Ahearn, JN 1980. Experientia 36, 63-64.

Barton, NH 1988. Nature 336, 13-14.

Baum, D 1992. Trends in Ecology and Evolution 7, 1-3.

Boraas, ME 1983. Transactions of the American Geophysical Union 64, 1102.

Breeuwer JAJ en Werren JH 1990. Nature 346, 558-560.

Budd AF en Mishler BD 1990 Sys Bot 15, 166-171.

Bullini L en Nascetti G 1991. Can J Zoology, 68(8), 1747-1760.

Butters, FK 1941. Amer. Fern J. 31, 15-21.

Butters, FK en Tryon, RM 1948. Am J Bot., 35, 138.

Brock TD en Madigan MT 1988. Biology of Micro-organisms, 5e uitgawe. Prentice Hall, NY.

Byrne K en Nichols RA 1999. Heredity 82, 7-15.

Callaghan, CA 1987. The American Biology Teacher.

Castenholz RW 1992. J Phycol 28, 737-745.

Clausen J, Keck DD en Hiesey WM 1945. Carnegie Inst Wash Publ., 564, 1-174.

Cracraft, J, 1989. In : Speciation and its Consequences. Otto, E en Endler, JA (red), Sinauer Associates, Sunderland.

Craig TP en Itami WG 1993 Evolution 47, 1691-1710.

Cronquist A 1978 Beltsville Symposia in Agricultural Research 2, 3-20.

Cronquist A 1988 The Evolution and Classification of Flowering Plants, 2e uitgawe. The New York Botanical Garden, Bronx, NY.

Crossley SA 1974 Evolution 28, 631-647.

de Oliviera AK en Cordeiro AR 1980 Heredity 44, 123-130.

de Queiros K en Donoghue M 1988 Cladistics 4, 317-338

de Queiros K en Donoghue M 1990 Cladistics 6, 83-90

De Wet JMJ 1971 Taxon 20, 29-35

Del Solar E 1966 Proc Nat Ac Sc US 56, 484-487

Digby, L. 1912. Ann. Bot. 26, 357-388.

Dobzhansky, T en Pavlovsky, O. 1971. Nature 230, 289-292.

Dobzhansky, T. 1972. Science 177, 664-669.

Dodd, DMB. 1989. Evolution 43, 1398-1311.

Dodd, DMB en Powell, JR. 1985. Evolution 39, 1388-1392.

Donoghue MJ 1985 Bryologist 88, 172-181.

Feder JL, Chilcote CA en Bush GL 1988 Nature 336, 61-64.

Feder JL en Bush GL 1989 Evolution 43, 1813-1819.

Filchak KE, Roethele JB en Jeffrey LF 2000. Nature 407, 739-742.

Frandsen, KJ. 1943. Dansk. Bot. Arkiv no 4, 11, 1-17.

Galiana A, Moya A en Ayala FJ. 1993. Evolution 47, 432-444.

Gottleib, LD. 1973. Am J Bot. 60, 545-553.

Halliburton R en Gall GAE 1981 Evolution 35, 829-843.

Hurd LE en Eisenberg RM 1975 The American naturalist 109, 353-358.

Karpchenko GD 1927 Bull Appl Botany 17, 305-408.

Kilias, G, Alahiotis SN en Delecanos M 1980. Evolution 43, 730-737.

Knight GR, Robertson A en Waddigton CH 1956 Evolution 10, 14-22

Koopman, KF 1950 Evolution 4, 135-148

Lee RE 1989 Phycology, Cambridge University Press.

Levin DA 1979 Science 204, 381-384.

Lokki J en Saura A 1980 In : Polyploidy : Biological Relevance. (red H Lewis). Plenum Press, New York.

Macnair MR 1981 In : Genetic Consequences of Man-made Change (red JA Bishop en LM Cook). Academic Press, New York.

Macnair, MR en Christie, P 1983. Heredity 50, 295-302.

Manhart JR en McCourt RM 1983 Heredity 50, 295-302.

Mayr. E. 1970. Populations, Species and Evolution. Massachusetts, Harvard University Press.

McPherson SA, Smith Dc en Berlocher SH 1988 Nature 336, 64-66

Meffert LM en Bryant EH Evolution 45, 293-306

Mishler BD 1985 Bryologist 88, 207-214

Mishler BD en Donoghue M 1982 Systematic Zoology 31, 491-503

Muntzing, A 1932. Hereditas 16, 105-154.

Nelson G 1989 Cladistics 5, 275-289

Newton WCF en Pellew C 1929 J Genetics 20, 405-467

Otte E en Endler JA (red) 1989 Speciation and its Consequences. Sinauer Associates, Sunderland, MA

Owenby M 1950 Am J Bot 37, 487-499

Pasterniani, E 1969. Evolution 23, 534-547.

Powell JR 1978 Evolution 32, 465-474

Rabe, EW en Haufler, CH 1992. Am J Bot., 79, 701-707.

Rice, WR 1985. Evolution 39, 645-646.

Rice WR en Salt, GW 1988. American Naturalist 131, 911-917.

Rice WR en Salt GW 1990. Evolution 44, 1140-1152.

Ringo J, Wood D, Rockwell R en Dowse H 1989 The American Naturalist 126, 642-661

Sharman GB, Close RL en Maynes, GM 1991. Austr J Zoology 37(2-4), 351-363.

Shikano S, Luckinbill LS en Kurihara Y 1990 Microbial Ecology 20, 75-84

Smith DC 1988 Nature 336, 66-67

Soans AB, Pimentel D en Soans JS 1974 The American Narturalist 108, 117-124

Sokal RR en Crovello TJ 1970 The American Naturalist 104, 127-153

Soltis DE en Soltis PS 1989 Am J Bot 76, 1119-1124

Stanley, S. 1979. Macroevolution : Patterns and Processes. San Francisco, WH Freeman and Co.

Thoday JN en Gibson JB 1962 Nature 193, 1164-1166

Thoday JN en Gibson JB 1970 The American Naturalist 104, 219-230

Thompson JN 1987. Biological J of the Linnean Soc. 32, 385-393.

Vrijenhoek GL 1994 Ann Rev Ecology and Systematics

Waring GL, Abrahamson WG en Howard DJ 1990 Evolution 44, 1648-1655

Weinberg JR, Starczak VR en Jorg D 1992 Evolution 46, 1214-1220. 

Siegfried Scherer skryf in "Mere Creation : Science, Faith and Intelligent Design" 1998, (red Dembski W), Downers Grove Ill., dat "basiese tipes" deur ‘n intelligente ontwerper geskep is en dat hierdie basiese tipes families is – nie genera of spesies nie. Daar bestaan 12 genera in die hondfamilie en 34 spesies honde. Alle hondgenera- en spesies moes dus afgestam het van ’n familie. Die katfamilie het 37 spesies (wat ook van die betrokke familie moes afgestam het), die kalanderfamilie het sowat 65 000 spesies (wat ook van die betrokke familie moes afgestam het). Dit beteken dat, na die skepping van die verskillende families, al die verskillende genera en spesies uit die families moes ontwikkel het (my kursivering). Die proses is weliswaar nie waargeneem nie, maar moes uiteraard plaasgevind het – ons verneem dit dan so reg uit die IO-perd se bek! Hierdie verskynsel staan bekend as evolusie – dit is die woord wat gebruik word om die proses te beskryf wat plaasvind wanneer nuwe spesies tot stand kom. En dan vertel die skrywer van die studiestuk dat geen nuwe spesies ooit verskyn het dmv evolusie nie – ten spyte van wat sy mede-IO-ondersteuners ons meedeel?  

Die stelling dat evolusie aan ateïsme ‘n "intellektuele waardigheid" gegee het is nie korrek nie. (Asof ateïsme nou noodwendig intellektueel minderwaadig of onwaardig sou wees). Reeds in Napoleon se tyd het Laplace die beroemde (of dalk berugte) stelling gemaak dat hy geen skepper nodig het om sy kosmologiese paradigma te verklaar nie. Lank voor Darwin was daar al talle Britse denkers wat ateïste was en intellektuele aansien geniet het. Dieselfde was die geval in Frankryk en Duitsland van daardie tyd. 

Die stelling dat die oerknalteorie en die Kambriese ontploffing deel was van ‘n "sterk opstapeling van getuienis teen die meganisme wat Darwin vir evolusie voorgestel het" is bloot verkeerd. Die skrywer van die "studiestuk" laat na om sy lesers in te lig wat die verband tussen die oerknal en die evolusieteorie nou eintlik is, maar dit is nie verbasend nie – daar is doodeenvoudig geen verband hoegenaamd nie. Darwin het ‘n ruwe skatting van die aarde se ouderdom gemaak en na sy mening was dit ‘n paar honderd miljoen jaar oud. Dit sou volgens hom genoeg tyd gegee het vir al die spesies om te ontwikkel. Daar is geen sprake van "onbeperkte tyd" nie. 

Die beroemde Britse fisikus William Thomson, later Lord Kelvin, het geargumenteer dat die aarde veel jonger was as Darwin se benodigde ouderdom. Op daardie tydstip was chemiese prosesse en swaartekrag die enigste twee bekende bronne wat verantwoordelik kon wees vir die energie wat die son uitstraal. Thomson het die ouderdom van die son vir elkeen van die twee meganismes bereken en gevind dat swaartekrag die grootste waarde gegee het : slegs ‘n paar tien miljoen jaar. Termodinamiese berekenings het ook getoon dat die aarde se temperatuur selfs ‘n miljoen jaar gelede te hoog sou gewees het vir lewe om te kon bestaan. Hierdie bevindings het Darwin baie bekommer. 

Toe Thomson sy berekeninge gedoen het was radio-aktiwiteit nog nie bekend nie. Die ontdekking daarvan het getoon dat die aarde veel, veel ouer is as wat Thomson bereken het en daar was, en is steeds, voldoende tyd vir evolusie om plaas te vind. 

Ons lees op pp 5-6 : "Die fossielrekord het die egalige oorgang van een spesie na ‘n ander heeltemal weerspreek. Hierdie getuienis het dit genoodsaak dat die evolusieteorie drasties aangepas moes word om steeds geloofwaardig te bly." ‘n Leser moet in gedagte hou dat die fossielrekord in Darwin se tyd maar baie effentjies bestudeer was en dat daar baie bitter min daaroor bekend was. Sy aanname dat alle oorgange egalig en stadig was, was dus helemaal redelik, des te meer as mens in ag neem dat die ganse vakgebied van genetika destyds nog nie eers bestaan het nie en dat die molekulêre genetika van sulke veranderinge dus geheel en al buite enigeen se verwysingsraamwerk geleë was.   

Hoe dit ook al sy, indien met "egalige oorgang" bedoel word dat spesies (of dan ten minste sommige spesies) langsamerhand uit ander ontwikkel het (vir die doeleindes van hierdie argument word dit gradualisme genoem), dan is die stelling dat dit deur die fossielrekord weerspreek word helemaal verkeerd. Voorbeelde van gradualisme kan gevind word in :  

Chaline J en Laurin B 1986 Paleobiology 12, 203-216

Gingerich PD 1974 Nature 248, 107-109

Gingerich PD 1976 Am J Sci 276, 1-28

Gingerich PD 1980 Ann. Rev. Earth Planet Sci 8, 407-424

Gingerich PD 1983 Science 222, 159-161

Gingerich PD 1985 Paleobiol. 11, 27-41

Krishtalka L en Stucky RK 1985 Ann Carnegie Mus 54 413-486.

Macfadden BJ 1985 Paleobiology 11, 245-257

Martin RA en Barnosky AD, reds. 1993 Morphological Change in Quaternary Mammals of North America. Cambridge University Press, New York.

Pearson, PN, Shackleton, NJ en Hall, MA 1997 J Geol Soc Lond, 154, 295-302

Ward LW en Blackwelder BW 1975 US Geological Survey Professional Paper

861 

Gingerich het voorbeelde gevind van 24 stadige en 14 vinnige spesiasie-gebeurtenisse in die vroeë Eoseen, Macfadden het 5 stadige en 6 vinnige sulke gebeurtenisse gevind en so voorts. Chaline gee heelwat verwysings na ander publikasies waar sulke "stadige" of dan egalige spesiasiegebeure beskryf word. Oor die algemeen kan gesê word dat die literatuur gewoonlik tussen 1/4 en 2/3 van spesiasiegebeure as "stadig" of egalig beskou. Kreasionistiese literatuur hang oudergewoonte die sg "afwesigheid" van gradualisme aan die groot klok, maar verswyg versigtig dat dit wel plaasgevind het. ‘n Aanhaling van Gingerich (1985) oor Eoseen-soogdiere is van toepassing op die ganse fossielrekord : "The fossil record of early Eocene mammals appears to be both gradual and punctuated." 

Ons weet vandag dat evolusie sowel "vinnig" (punktueerde ekwilibrium) as "stadig" plaasgevind het en Gingerich se navorsing werp baie lig op hierdie saak. Sy studies het evolusionêre tempo’s in drie verskillende prosesse bestudeer : laboratoriumeksperimente, historiese kolonisasie-gebeure en die fossielrekord. ‘n Bruikbare maatstaf van evolusionêre tempo is die darwin, wat gedefinieer word as ‘n verandering in ‘n organisme se eienskappe (character) met ‘n faktor van e per miljoen jaar, waar e die basis van die natuurlike logaritme is. Die gemiddelde evolusionêre tempo in die fossielrekord was 0,6 darwins, die vinnigste in die fossielrekord was 32 darwins. Laasgenoemde is die belangrikste getal mbt vergelykings aangesien die waargenome evolusietempo in moderne populasies gelyk of groter as hierdie syfer moet wees.  

Die gemiddelde evolusietempo in historiese kolonisasiegebeure was 370 darwins – meer as tien keer die vereiste waarde. Die vinnigste tempo was 80 000 darwins, oftewel 2500 keer die minimum tempo. Waargenome tempo’s in die laboratorium was selfs meer indrukwekkend en die hoogste waargenome getal was 200 000 darwins. 

Navorsing oor die evolusietempo in "guppies" FFF in die natuur het tempo’s gevind wat varieer van 4 000 tot 45 000 darwins (Reznick DN 1997 Science 275, 1934-1937). ‘n Volgehoue tempo van slegs 400 darwins sal voldoende wees om ‘n muis binne slegs 10 000 jaar na ‘n olifant te verander (Gingerich, 1983). 

‘n Goeie voorbeeld van vinnige evolusie is die menslike serebellum, wat binne nagenoeg 100 000 jaar tydens die Pleistoseen in grootte verdubbel het (Rightmire GP 1985 in Ancestors : The Hard Evidence, E Delson, New York). In hierdie geval was die evolusionêre tempo slegs 7 darwins (Williams GC 1991 Natural Selection : Domains, Levels, and Challenges. New York, Oxford University Press). Dit beteken dat ‘n toename van slegs 0,02% per generasie so ‘n radikale verandering teweeggebring het. By wyse van vergelyking : die snelste tempo wat Gingerich in die fossielrekord waargeneem het was 37 darwins oor ‘n duisend jaar, wat ooreenstem met hoogstens 0,06% verandering per generasie. 

Die skrywer se stellings oor die tempo(s) van evolusionêre verandering is dus sonder enige wortels in die werklikheid. 

Ons lees voorts op bladsy 6 : "’n Groep wetenskaplikes…het met ‘n alternatiewe meganisme naamlik mutasies (veranderinge in DNS struktuur en daarom ook liggaamlike strukture) as metode vir die aandrywing van evolusionêre verandering vorendag gekom. Hoewel dit in stryd was met Darwin se oorspronklike idees, was dit nodig om die geloofwaardigheid van die teorie…te herstel. Volgens die fossielrekord het daar nie konstant nuwe spesies ontstaan nie en hierdie feit moes deur die nuwe teorie verduidelik word. Neo-Darwiniste voer steeds aan dat een spesie deur verskeie mutasies na ‘n ander sou kon oorgaan. Hierdie teorie staan as "Punctuated Equilibrium" bekend en impliseer dat nuwe spesies skielik deur mutasies ontwikkel." 

Die skrywer van die sg "studiestuk" het ooglopend nie die vaagste benul van wat punktueerde ekwilibrium of mutasies beteken nie. Die bestaan en belang van mutasies in die evolusieteorie dateer al van so vroeg soos 1904 (deur de Vries beskryf) en is al in die 30-erjare van die vorige eeu eksperimenteel deur Muller ondersoek – en hierdie eksperimente het plaasgevind dekades voor punktueerde ekwilibrium die lig gesien het! 

Daar is geen, soos in geen, kontradiksie tussen Darwin se teorie en mutasies nie. Mutasies was onbekend in Darwin se tyd en hy het dit derhalwe ook nie in sy teorie bespreek nie. Kennis verkry sedert Darwin se afsterwe dui onteenseglik daarop dat evolusie berus op o.a. die natuurlike seleksie van mutasies. ‘n Leser moet dus wonder waarom ‘n organisme wat ‘n gunstige mutasie ondergaan het nie tydens die natuurlike seleksieproses daardeur bevoordeel kan word nie. Dit is tog waaroor natuurlike seleksie gaan, nie waar nie? Dit is werklik verstommend dat iemand wat so onkundig oor biologie is homself bevoeg ag om ‘n "studiestuk" oor evolusie die lig te laat sien! 

Die stellings op bladsy 7 is besonder interessant. Evolusioniste is nou al gewoond daaraan dat hierdie teorie as die oorsaak van alle kwaad beskou word, van satanisme tot by ouma se ingroeitoonnael. Maar kom ons beskou hierdie aantygings van nader. 

Het die evolusieleer wel so ‘n ingrypende invloed gehad op die mens se siening van homself? Dit is sterk te betwyfel. Ons weet nou hoe ons ontstaan het en waarvandaan ons kom – maar ons is en bly steeds mense. Die status quo het wel verander mbt die letterlike interpretasie van die skeppingsmite en net soos die geval was met Galileo se heliosentrisme het mense, veral kerklikes, die omverwerping van hierdie status quo met hand en tand beveg. 

Net soos enigiets anders wat deur die mens ontdek is kan die evolusieteorie misbruik word en Spencer se Sosiale Darwinisme is beslis nie ‘n veer in die hoed van die teorie nie. Eweneens is die eeue se geweld, moord, vervolgings, hekseverbrandings, kruistogte en anti-semitisme waarmee die Christelike kerk se geskiedenis deurspek is ook nie juis iets wat tot die Christendom eer strek nie. 

Dit is onwaarskynlik dat "groeiende ateïsme" noodwendig deel het in die "aftakeling van die konsep van menslike waardes". Wes-Europa is nou nie juis baie kerkvas nie, maar die menseregterekord van daardie deel van die kontinent is aansienlik beter as die van baie Christelike lande – o.a ons eie Suid-Afrika toe die NG Kerk die septer geswaai het! Voorts het kommunisme sy ontstaan gehad in die sosio-ekonomiese ongeregtighede van die Christelike lande van die negentiende eeu en nie in Darwin se Origin nie. Ons lees verder : "As die mens niks meer as ‘n dier is nie en as dit gaan oor die "oorlewing van die sterkstes", kan daar nie ‘n morele oordeel oor enigiemand anders se optrede gevel word nie. Dit wat gebeur is bloot deel van die "natuurlike" proses van natuurlike seleksie. Tog, as daar aan die uitmoor van die Jode…gedink word, stuit dit enige normale mens teen die bors. Dit was en is verkeerd. Wat sou die rede uit ‘n evolusionistiese perspektief wees vir waarom dit verkeerd sou wees? Is dit dan nie ‘n voorbeeld van die "oorlewing van die sterkstes" nie?" 

Ten eerste is mense nie "niks meer as ‘n dier" nie. Evolusie (net soos die swaartekrag- of kwantumteorie) het niks te sê oor enige morele oordeel of morele waardes nie en die skrywer van die studiestuk behoort dit te weet. Enige leser sal wonder waarom hy hierdie strooipopargument in sy relaas insleep. Ten tweede beteken evolusie nie "die oorlewing van die sterkstes" nie. Evolusie beteken dat daardie verteenwoordigers van ‘n spesie wat beter by die omgewing aangepas is as hul buurman en dus in ‘n korter tyd meer nasate kan lewer wat self kan voortplant, meer waarskynlik sal wees om as ‘n spesie te bly voortbestaan. Om preferensieël te kan oorlewe behels slegs by hoë uitsondering dat ‘n organisme noodwendig "sterker" moet wees as die kompetisie. Dit het veel eerder te doen met die feit dat die betrokke organisme vinniger moet wees, of beter kamoeflering moet hê, of met minder kos kan klaarkom, of enige van honderde of duisende ander moontlikhede of kombinasies van moontlikhede.  Daar is ‘n moewiese groot verskil tussen "survival of the fittest" en "survival of the strongest". Hierdie is werklik nie juis diep verborge kennis nie maar is regtigwaar ‘n baie, baie basiese beginsel van die evolusieteorie en is tog sekerlik een van die eerste dinge wat mens omtrent die teorie leer. Die skrywer, wat homself bevoeg ag om ‘n "studiestuk" oor evolusie saam te stel, behoort dit te weet.  

Ten derde beteken ateïsme geensins die totale afwesigheid van etiese en morele beginsels nie en die skrywer van die "studiestuk" behoort dit ook te weet.  

Laat ons die volgende goed gevestigde historiese feite uitwys : Hitler gebruik nêrens in Mein Kampf die woord evolusie nie en hy het ook ooit iets betekenisvol daaroor gesê nie. Die Duitse moordkampe was ‘n uitvloeisel van diep gewortelde anti-semitisme wat reeds eeue in Europa en Rusland bestaan het. Is dit nog hoegenaamd nodig om daarop te wys dat die bron van hierdie anti-Semitisme die Christelike kerk is – daardie lande was Christelik en anti-Semitisme het in die betrokke lande ontstaan en gefloreer lank voor die publikasie van die Origin. Word daar van lesers verwag om te glo dat anti-Semitisme eers verskyn het nadat Darwin sy boek gepubliseer het?  Dis mos suiwer nonsens! 

Laat ons ook kyk na enkele aanhalings uit die Engelse vertaling van Mein Kampf :  

"What we must fight for is to safeguard the existence and reproduction of our race and our people, the sustenance of our children and the purity of our blood, the freedom and independence of the fatherland, so that our people may mature for the fulfillment of the mission allotted it by the Creator of the universe." 

"Hence today I believe that I am acting in accordance with the will of the Almighty Creator : by defending myself against the Jew, I am fighting for the work of the Lord." 

"Compared to the absurd catchword about safeguarding law and order, thus laying a peaceable groundwork for mutual swindles, the task of preserving and advancing the highest humanity, given to this earth by the benevolence of the Almighty, seems a truly high mission." 

Wat sou die skrywer van die "studiestuk" antwoord indien hy gevra sou word watter gedeeltes van Darwin se Origin, of alternatiewelik sy Descent of Man, moontlik vir Hitler as inspirasie kon gedien het toe hy bostaande paragrawe geskryf het? 

Weet die skrywer van die "studiestuk" dat, naas die Holocaust, die grootste vergryp wat mense teen ander mense gepleeg het, nl. slawerny, gedy het in die twee Westerse lande (Amerika en Engeland en sy kolonies) wat destyds van die vaandeldraers van die Christendom was? Slawerny is nie alleen in hierdie twee Christelike lande goedgepraat nie, maar is ook vanaf die kansel verdedig lank voordat Darwin sy Origin gepubliseer het! 

Het Darwin ‘n opinie oor slawerny gehad? Inderdaad. Ons lees in The Voyage of the Beagle, sy beskrywing van sy vaart op hierdie skip :"On the 19 th of August we finally left the shores of Brazil (ook ‘n Christelike land). I thank God I shall never again visit a slave-country…" en na ‘n beskrywing van die wreedhede waaraan slawe onderwerp is gaan hy voort : "And these deeds are done and palliated by men, who profess to love their neigbours as themselves, who believe in God, and pray that his Will be done on earth! It makes one’s blood boil, yet heart tremble, to think that we Englishmen and our American descendants, with their boastful cry of liberty, have been and are so guilty." 

Dit is besonder opvallend dat skrywer van die "studiestuk" swyg oor apartheid – daardie Godgegewe beleid wat vanaf menige Suid-Afrikaanse kansel verdedig is, waarvoor regverdiging in die Bybel gevind is en wat lyding en selfs die dood by soveel van ons medelandgenote veroorsaak het! Sou hy dit beskou as ‘n inherente aspek van die Christendom? Waarskynlik nie – waarom dan allerhande booshede wat nie by evolusie tuishoort nie, aan daardie teorie toedig? Of is dit blote moedswilligheid? Gesien die inhoud van die res van sy "studiestuk" is dit moeilik om te glo dat hy nie opsetlik allerhande onware aanplaksels aan die evolusieteorie heg nie. 

Is dit enigsins onredelik om te verwag dat mense wat die evolusieleer teenstaan darem vooraf besin oor watter buitewetenskaplike "argumente" hulle gebruik om hul saak te propageer? 

Sg. "werkingswetenskap" of operasionele wetenskap (lg term word meer algemeen gebruik) ondersoek, so word ons vertel, "die manier waarop dinge nomaalweg funksioneer" en doen dit deur spesifieke eksperimente uit te voer. Wat van astrofisika? Die astrofisikus wat wil probeer vasstel hoe ‘n ster "werk" kan nie eksperimente daarmee gaan uitvoer nie. ‘n Geoloog wat die werking van tektoniese plate ondersoek kan nie direkte eksperimente oor of met die aardkors gaan uitvoer nie. Hoe spesifiek eksperimenteel is seismologiese eksperimente wat die werking van die aarde se binnegoed ondersoek? Die skrywer van die studiestuk behoort eintlik ‘n geosentris te wees, aangesien daar geen werklik empiriese bewyse bestaan dat die aarde rondom die son roteer nie in die sin dat dit nog nooit direk deur enigiemand empiries waargeneem is nie en die feit dat ons vandag ‘n heliosentriese sisteem aanvaar is te wyte aan wat hy "forensiese wetenskap" noem! 

Mens kan wel, vir wat dit werd is, onderskei tussen historiese en ahistoriese wetenskappe, maar dit is slegs van akademiese belang. Beide tipes maak gebruik van empiriese waarnemings en eksperimente. Die feit dat mens nie veranderlikes in die historiese wetenskappe tot dieselfde mate kan kontroleer as in die ahistoriese wetenskappe nie maak hul bevindings nie noodwendig minder betroubaar nie. Mens kan ook, in die geval van die ahistoriese wetenskappe, vra of die eksperimenteerder werklik in elke geval vir alle moontlike veranderlikes gekontroleer het.  

Voorts is die lyn tussen historiese en ahistoriese wetenskappe nie altyd baie duidelik nie. Iedere keer dat ‘n observasie gemaak word, is dit wat waargeneem word tot ‘n mindere of meerdere mate reeds in die verlede gevestig. Die empiriese teorieë van ahistoriese wetenskappe word dwarsdeur die ganse korpus van die natuurwetenskappe gebruik om kennis van die historiese wetenskappe uit te brei of te bevestig. In die lig hiervan is die skrywer se stelling dat evolusioniste "…die fout (maak) om die beginsels van werkingswetenskap op ‘n oorsprong-situasie te probeer toepas" in meer as een opsig ignoreerbaar.. 

Om te sê dat sg. "oorsprongwetenskap" nie empiries of eksperimenteel van aard is nie, is doodeenvoudig verkeerd, soos ook die stelling dat dit redeneer deur van analogieë gebruik te maak. Die ganse natuurwetenskap maak tot ‘n mindere of meerdere mate gebruik van analogieë, maar is nie onlosmaaklik daartoe gebonde nie. Voorts is "oorsprongwetenskap" slegs in die oë van kreasioniste ‘n aparte vertakking van die wetenskap en beskik dit ook nie oor ‘n eie aparte metodologie nie. 

Die stelling dat dit "…nie moontlik (is) om ‘n eenmalige gebeurtenis….te verklaar deur slegs van waarnemings uit die werkingswetenskap gebruik te maak nie" is doodgewoon ontoepaslik. Is daar enige rede(s) om aan te voer dat ‘n "eenmalige gebeurtenis" nie plaasgevind het volgens die reeds bekende wetmatige beginsels wat ons elke dag in die natuur waarneem nie, en indien wel, waarom sou dit hierdie wetmatighede verontagsaam het? Tot op hede is nog niks in die natuur waargeneem wat nie ten minste in beginsel dmv "doodgewone" natuurwette en –verskynsels verklaar kan word nie en is daar dus geheel en al geen rede om nie die waarnemings en beginsels wat deur en in "operasionele" wetenskap gevestig is te gebruik nie.  

Deur die studie van die aarde se verlede en die verandering van lewende wesens as "forensiese wetenskap" te beskryf (en by implikasie as minderwaardig af te maak) sonder enige verdere klarifikasie is doodeenvoudig om die werklike aard van die natuurwetenskappe te ontken en die werklikheid van die bevindings te probeer systap. Mens kry die indruk uit die "studiestuk" dat waar forensiese wetenskap iets ondersoek, elke betrokke geval aan ewe veel onsekerhede onderworpe is en soos elke skoolkind weet is dit nie die geval nie. As iemand met ‘n koeëlwond in die kop aangetref word en mens weet dat sy buurman oor ‘n vuurwapen beskik dan is dit nie genoeg rede om die buurman in hegtenis te neem nie. Maar as die buurman met ‘n rokende rewolwer langs die lyk aangetref word sekondes nadat ‘n skoot gehoor is, en slegs sy vingerafdrukke is op die wapen, en bloedspatsels wat later bewys word om diè van die oorledene te wees is op sy klere, en ballistiese ondersoeke dui daarop dat die koeël uit die buurman se vuurwapen afkomstig was, en daar is kruitmerke op die buurman se hand, en die eggenotes van sowel die buurman as die oorledene getuig dat die oorledene ‘n verhouding met die buurman se eggenote gehad het, dan is mens seker geregverdig om die buurman te verdink. Alle gevalle van sg. "forensiese" ondersoeke in die wetenskap lei nie tot konklusies met dieselfde graad van sekerheid nie, maar die feit dat iets nie eerstehands waargeneem is (of waargeneem kan word nie) beteken nie noodwendig dat die konklusies noodwendig onder verdenking staan nie. 

Oftewel : induktiewe bewyse kom in variërende grade van oorredingsvermoë, en die skrywer van die studiestuk dit darem kon genoem het instede van lesers met die indruk te laat dat "forensiese" getuienis, wanneer evolusie ter sprake is, so ietwat te wense oorlaat. Kan mens dit as eerlik beskou? 

Voorts word evolusioniste daarvan beskuldig dat hulle vooropgestelde idees het wanneer hulle hul navorsing uitvoer. Wat is nou juis so verkeerd daarmee as navorsingsresultate gebruik word om ‘n reeds goed gevestigde paradigma verder uit te brei? Indien sodanige resultate nie by so ‘n paradigma sou inpas nie, sou dit taamlik gou duidelik word en sou navorsers vinnig begin soek na resultate wat die anomalie bevestig of kelder. Indien die buitengewone resultate bevestig word, dan sal daar beslis ‘n allemintige geskarrel ontstaan om die huidige teorie te wysig of selfs ‘n heel nuwe teorie te konstrueer wat hierdie nuwe resultate sowel as al die vorige bevestigde data kan akkommodeer. Dit is hoe die natuurwetenskappe werk, en ook hoe natuurwetenskaplikes is – elkeen wil graag ‘n opspraakwekkende bevinding maak en roem verwerf. Die beoefening van natuurwetenskaplike navorsing is nie ‘n bleek, bloedlose en yskoue aktiwiteit nie – dit is gevul met passie, met skerp meningsverskille, driftige ambisies en groot egos. Elkeen wil iets ontdek wat effe (of baie) nader aan die werklikheid is en sodoende naam maak op sy/haar vakgebied. Die beste manier om roem as wetenskaplike te verwerf is om ‘n goed gevestigde teorie verkeerd te bewys. Dit is hoekom daar byna daagliks nuwe teorieë of hipoteses die lig sien. Meeste word verkeerd bewys of sterf ‘n stille dood omdat hulle geheel en al onbevredigend is, slegs enkeles haal die paal op die medium termyn en nog minder raak met verloop van meer tyd goed gevestig.  

In paragraaf 6.1 lees ons : "Die twee tipes aminosure neutraliseer mekaar…" Tja. Laevo- en dekstro-aminosure neutraliseer mekaar nie. Glad nie. Hoegenaamd nie. Geheel en al nie. Nêrens in enige biochemiehandboek is so ‘n stelling te vinde nie. Enige eerstejaar wat so iets sou kwytraak tydens ‘n mondelinge eksamen sal summier gedruip word en die eksamen sal op die plek stopgesit word omdat dit aan die eksaminatore duidelik is dat hy nie weet waarvan hy praat nie.  

Ons lees ook dat Miller aminosure gesintetiseer het "…deur ‘n spesifieke mengsel chemikalieë met elektrisiteit te stimuleer". Ummmm…. Wetenskaplike artikels sal liefs die frase "onderwerp aan elektrisiteit" gebruik as om te sê dat chemikalieë gestimuleer is. Slegs wetenskaplike analfabete sal so ‘n stelling gebruik. 

Die stelling dat die ontstaan van lewe ‘n uiters komplekse verskynsel was is beslis korrek. Dit is ook so dat dit sonder twyfel die navorsingsgebied met die grootste aantal leemtes in ons kennis is. Dit beteken egter nie by verstek dat die ontstaan van lewe dmv een of ander bonatuurlike fiat plaasgevind het nie. Aangesien alles wat ons vandag op aarde waarneem volgens natuurlike prosesse plaasvind is dit seker nie onredelik om te aanvaar dat die ontstaan van lewe ook aan soortgelyke wetmatighede onderworpe was nie. 

Mens moet jouself afvra waarom die skrywer beswaar aanteken teen die feit dat die chemikalieë wat Miller gebruik het suiwer was. Is die bedoeling dat sy resultate onbetroubaar is omdat onsuiwerhede dalk die vorming van aminosure kon verhoed?  Hierdie stowwe (en ander organiese verbindings) is ook al in die buitenste ruim en op en in meteoriete gevind – en geen van hierdie twee plekke is nou juis danig "suiwer" nie. Wanneer mens sulke besware lees dan moet jy weereens wonder hoeveel die skrywer van die studiestuk nou eintlik van biochemie weet. 

Ons lees ook dat "…daar geen suurstof in die eksperiment teenwoordig was nie, want oksidasie sou die vorming van aminosure verhoed. Tog stem meeste wetenskaplikes vandag saam dat daar wel suurstof in die vroeë atmosfeer was." 

Hierdie stelling is nie heeltemal korrek nie. Sedert sy eerste eksperiment het Miller en ander navorsers verskeie atmosferiese samestellings ondersoek. Gaan kyk gerus na : 

Chang S, Desmarais D, Mack R, Miller SL en Strathearn GE 1983 in : Earth’s Earliest Biosphere : Its Origin and Evolution. Schopf, JW (red), Princeton University Press.

Miller SL 1987 Cold Spring Harbor Symposia on Quantitative Biology 52, 17-27.

Schlesinger G en Miller SL 1983 J Molec Evol 19, 376-382.

Stribling R en Miller SL 1987 Origins of Life and Evolution of the Biosphere 17, 261-273. 

Bogenoemde navorsers het getoon dat komplekse organiese molekules onder ‘n groot verskeidenheid prebiotiese toestande kan vorm. Voorts is dit ook moontlik dat lewe kon ontstaan het waar dit nie met die atmosfeer in aanraking was nie, bv by diepsee hidrotermiese spuite. Dit sou die samestelling van die atmosfeer irrelevant maak. Hidrotermale spuite is tans ‘n belangrike born van navorsing. 

Voorts : selfs al was daar suurstof in die oeratmosfeer is die aanvaarde opinie vandag dat die samestelling van hierdie atmosfeer op die minste matig reduserend was. Sien Kasting JF 1993 Science 259, 920-926. Dit was waarskynlik ryk aan waterstof (wat baie reduserend is en die formasie van organiese molekules bevorder) omdat die ontsnapping van hierdie gas uit die atmosfeer stadiger plaasgevind het as wat aanvanklik gedink is. Sien ook Chyba CF 2005 Science 308, 962-963 en Tian FO, Toon OB, Pavlov AA en De Sterck H 2005 Science 308 1014-1017.  

Ons vind op bladsy 13 en verder weereens ‘n ou en geliefde kreasionistiese truuk : lesers word gekonfronteer met berekeninge oor hoe onwaarskynlik dit is dat abiogenese sou kon plaasvind, bv dat die betrokke chemikalieë die regte chiraliteit sou hê, hoe klein die moontlikheid is dat proteïne sou kon vorm en so voorts. Die" berekeninge" gebruik feitlik sonder uitsondering as uitgangspunt die aannames dat die chemiese reaksies geheel en al lukraak plaasvind en dat groot en komplekse molekules sommer uit die staanspoor gevorm het. Dit is veel, veel meer as net so ietwat verwyder van die waarheid : in feitlik alle chemiese reaksies vind mens dat sommige elemente of verbindings ‘n groter geneigdheid toon om met sommige ander elemente of verbindings te reageer en abiogenese vereis hoegenaamd nie dat die eerste biologies belangrike molekules komplekse polimere was nie. Dit is nie die eerste keer dat sulke "berekeninge" gepubliseer word nie en sal seker ook nie die laaste keer wees nie. Alleenlik wetenskaplike analfabete of doelbewuste leuenaars sal sulke snert verkondig. 

Die skrywer van die "studiestuk" haal Muncaster aan in hierdie verband. Muncaster het bereken dat die kanse vir al die boublokke van ‘n sel om die regte chiraliteit te hê ongeveer 1/10 33 113 is. Dis nogal ‘n klein getal. Muncaster se berekeninge loop min of meer as volg : 

‘n Sel benodig ‘n minimum van 10 000 l-aminosure (geen verwysing word verskaf nie). Volgens Muncaster is die kanse dat almal dieselfde chiraliteit gaan hê dieselfde as om ‘n muntstuk in die lug te gooi en 10 000 keer na mekaar kruis te kry. 

‘n Sel benodig ’n minimum van 100 000 nukleotiedes met dieselfde chiraliteit – weereens geen verwysing nie. Dit is dus dieselfde as om 100 000 opeenvolgende kere munt te kry. 

10 000 x 100 000 = een biljoen keer se korrekte opeenvolgende muntstukgooiery. Elke gooi het slegs een kans uit twee om korrek te wees, dus een kans uit twee ‘n biljoen keer met homself vermenigvuldig. 

Hierdie tipe berekening is gegrond op die naïewe, oningeligte en onkundige aannames (en dikwels moedswillige leuens) dat evolusie vereis dat aminosure en nukleotiedes hul chiraliteit op een gegewe oomblik verkry het, van die begin af komplekse molekules was en dat dit ‘n lukrake gebeurtenis was. Word mens werklik verwag om hierdie nonsens te glo? 

As ons net aan die chiraliteit van aminosure aandag skenk kan lesers gerus ‘n artikel deur Mellersh A 1993 Origins of Life and Evolution of the Biosphere, 23, 261-267 raadpleeg. Mellersh het gevind dat RNA kan vou en splete langs die kant van die molekuul vorm. Elke spleet kan ‘n enkele aminosuur vasvang en hierdie aminosure kan dan aanmekaar gebind word om ‘n polipeptied of proteïn te vorm. Net l-aminosure pas in die splete. Die idee dat RNA 20 verskillende kaviteite kan vorm om 20 verskillende aminosure vas te vang dateer al uit die vyftigerjare van die vorige eeu maar is verwerp weens ‘n gebrek aan ondersteunende getuienis. Dit is sommer ook ‘n goeie voorbeeld hoe die wetenskap te werk gaan (en behoort te werk) : ‘n aanloklike hipotese word nie aanvaar nie omdat daar geen ondersteunende getuienis is nie. Stem sulke optrede ooreen met die "bevooroordeelde" werkswyse van hedendaagse wetenskaplikes wat als deur ‘n evolusionistiese bril sien en alle resultate verdraai om by die evolusionêre paradigma in te pas? 

Lesers kan dalk ook die artikel deur M J Bailey lees in FASEB J, April 1998, 12(6), 503-7. (FASEB J staan vir Federation of American Societies of Experimental Biology Journal). Amino-asetilasie van RNA is die primêre meganisme vir seleksie van aminosure vir proteïnsintese. Bailey het gevind dat wanneer hierdie proses in vry oplossings plaasvind dit nie baie stereoselektief is nie, maar dat die RNA, wanneer dit tot ‘n oppervlak beperk is (en dus die prebiotiese oppervlakmonolae naboots), dit selektief word vir die l-enantiomere. 

Voorts kan ‘n eenvoudige peptiedreplikator die proporsie l-aminosure in ‘n mengsel wat ewe veel l- en d- vorms bevat, vergroot. (Saghatelian A, Yokobayashi Y, Soltani K en Ghadiri MR 2001 Nature 409, 797-801). Self-aaneenskakeling op tweedimensionele oppervlaktes kan eweneens die proporsie van ‘n sekere chiraliteit vermeerder (Zepik, H 2002 Science 295, 1266-1269). Serien vorm stabiele trosse van dieselfde chiraliteit wat kan selekteer vir ander aminosure van dieselfde chiraliteit dmv substitusie, hierdie trosse inkorporeer ander biologies belangrike molekules soos gliseraldehied, glukose en fosforsuur (Takats Z, en Sergio C 2003 Angewandte Chemie International Edition 42, 3521-3523). ‘n Aminosuur van een chiraliteit wat in oormaat teenwoordig is kataliseer ‘n preferensiële chiraliteit in ander organiese verbindings soos bv. treose (Pizzarello S en Weber AL 2004 Science 303, 1151). 

Daar is ook nog ander voorbeelde. Aminosure wat in meteoriete gevind is, en wat derhalwe abioties van oorsprong moet wees, toon ‘n beduidende oorwig van die l-enantiomeer, moontlik weens gepolariseerde ultraviolet bestraling (Engel MH en Macko SA 1997, Nature 389, 265-268; Cronin JR en Pizzarello S 1999 Adv Space Res 23(2), 293-299). Mens moet jouself afvra waarom die skrywer van die "studiestuk" nie ook ander literatuur behalwe die van Muncaster oor hierdie onderwerp gelees het nie. Is dit omdat hy nie daarvan weet nie of omdat hy so onkundig oor die onderwerp is dat hy dit nie begryp nie – of dalk nie wil of kan begryp nie? 

Ons word ook vertel hoe minuskuul die kanse is dat aminosure bymekaar sou kon uitkom om hulself in "die regte volgorde" (watter "regte volgorde"?) te kon rangskik. Nou is dit so dat Cairns al in die vroeë tagtigerjare voorgestel het dat oerchemikalieë aan die oppervlaktes van kleie of kristalle kon adsorbeer en sodoende hul reaksies versnel. Deesdae is dit een van die aanvaarde scenarios – sien latere verwysings. Enige leser sal besef dat sulke gedrag die bymekaarkom van chemikalieë aansienlik vergemaklik – dit is ‘n proses wat ook in die chemiese industrie aangewend word. Muncaster se berekeninge is dus nie alleen irrelevant nie maar ook bloot misleidend – en enigiemand wat sy "berekenings" as evangelie aanhaal weet nie waarvan hy/sy praat nie. 

‘n Soortgelyke argument word gebruik in die aanhaling van Wickramasinghe aan die begin van die "studiestuk". Hy gebruik in sy berekening die aaname dat ‘n komplekse moderne ensiem uit wans uit gevorm moet word. Hierdie aanname is geheel en al ontoepaslik. In die jaar toet was alle prebiotiese en primordiale biotiese verbindings uiters rudimentêr en om so iets as voorbeeld te gebruik spreek van ‘n besondere diepgaande onkunde oor wat die teorie van abiogenese te sê het. 

Dieselfde opmerkings geld vir Muncaster se sg "berekenings" oor die waarskynlikheid dat gene sou kon vorm. Die spreekwoordelike koek word egter gevat deur die belaglike "berekening" dat die waarskynlikheid vir die "spontane ontstaan van die mees eenvoudige bakterium" 1 uit 10 112 827 is. Vir meer as ‘n honderd jaar al het die evolusieteorie oor die algemeen, en teorieë oor abiogenese in die besonder glad nie, soos in glad nie, geheel en al, hoegenaamd en toetentaal nie (oftewel GLAD EN GEHEEL EN AL NIE, HOEGENAAMD NIE EN TOTAAL NIE EN NOOIT AS TE NIMMER) beweer dat ‘n primitiewe bakterium as geheel spontaan kon ontstaan het nie. Wat meer is, geen, soos in geen, navorser op hierdie gebied maak sulke bewerings nie. Enigiemand wat soos Muncaster sulke drogredenasies gebruik of glo wat hy sê is of oneerlik of weet nie waarvan hy of sy praat nie – dit is per slot van sake, om ‘n Amerikaanse uitdrukking te gebruik, nou nie juis "rocket science" nie maar is algemene kennis in die natuurwetenskappe. Iemand (insluitende skrywers van Antwoord) wat sulke redenasies aanhaal is of onkundig of oneerlik. En dan word daar gekla dat wetenskaplikes bevooroordeeld is! 

Die skrywer van die "studiekstuk" se diep onkunde oor teorieë ivm abiogenese word verder ontbloot wanneer hy skryf : " Dieselfde probleem kan vanuit ‘n ander hoek beskou word. Die molekulêre bioloog Harold Morowitz het bereken dat die kans dat al die chemiese bindings van die mees eenvoudige lewensvorm weer sou vorm indien hulle gebreek sou word 1 uit 10 100 000 000 000 is." Om watter rede word lesers van die "studiestuk" vergas met hierdie brokkie "inligting"? Dit kan alleen wees omdat die skrywer van die "studiestuk" die mening toegedaan is dat abiogenese vereis of verwag dat sulke selle de novo moet kan vorm. Soos hierbo reeds genoem is vereis geen teorie oor abiogenese so iets nie. 

Die ontstaan van biologiese polimere uit voorafgaande monomere het nie op ‘n lukrake wyse geskied nie en die eerste "lewende" organismes was beslis nie eers ‘n protobakterium nie. Na alle waarskynlikheid het dit bestaan uit ‘n eenvoudige molekuul met 30 tot 40 subeenhede wat mettertyd verander het na meer komplekse selfreplikerende sisteme. Die volgende skrywers het navorsing hieroor gepubliseer :  

Eigen M, Gardiner W, SchusterP en Winkler-Oswatitsch R 1981 Sci Am 244, 88-92.

Lazcano A en Miller SL 1996 Cell 85 793-798

Lee DH, Severin K en Ghadiri MR 1997 Curr Opinion Chem Biol 1, 491-496

Orgel LE 1998 Orig Life Evol Biosph 28, 227-234.

Varetto L 1998 J Theor Biol 193, 257-285. 

Meer oor selfreplikerende peptiedes is te vinde in : 

Lee DH, Granja JR, Martinez JA, Severin K en Ghadiri MR 1996 Nature 382, 525-528.

Severin K, Lee DH, Kennan AJ en Ghadiri MR 1997 Nature 389, 706-709. 

Lee DH, Severin K en Ghadiri MR 1997 op. cit. beskryf ‘n selfreplikerende heksanukleotied terwyl navorsing oor ‘n RNA polimerase wat op homself inwerk gepubliseer is in : Ekland EH en Bartel DP 1996 Nature 383, 192. 

Die eerste selfreplikators kon ook ribosieme gewees het : 

Lazcano A en Miller SL 1996 op. cit.

Eigen M en Schuster P 1979 The Hypercycle. A Principle of Natural Self-organisation. Springer-Verlag.

Stadler PF 1991 Biosystems 26, 1-19

Varetto L 1998 op. cit.

Otsuka J en Nozawa Y 1998 J Theor Biol 194, 205-221. 

Die natuurwetenskappe het die gewoonte om so nou en dan met nuwe inligting vorendag te kom. Dit is al geruime tyd bekend dat RNA ensimatiese aktiwiteit kan toon en ook selfreplikerend kan wees. Tot op hede was daar egter ‘n belangrike struikelblok in die weg van teorieë wat dit gestel het dat RNA ‘n noue betrokkenheid kon gehad het by die ontstaan van lewe : dit is algemeen aanvaar dat hierdie ribosieme nie baie lank kon wees nie omdat hulle dan nie foute wat tydens replikasie ontstaan (oftewel mutasies) sou kon korrigeer nie. Gevolglik sou so ‘n RNA-ketting nie genoeg gene kon bevat om selfs die eenvoudigste organismes te kon ontwikkel nie. Dit toon aan dat die natuurwetenskap versigtig is met die aanvaarding van teorieë : dit sou aantreklik gewees het om die RNA-teorie te aanvaar, maar daar was, totdat die nuwe inligting bekend geword het, nie genoeg data wat dit ondersteun het nie. Dit onlangs bekend geword dat die foutdrempel hoër is as wat tot op hede aanvaar is, oftewel dat meer foute kan insluip sonder om die funksie van die molekuul te affekteer. (Kun A, Santos M en Szatmary E Nat Genet 37(9) 1008-11, 2005). Die gevolg is dat so ‘n ribosiemmolekuul ‘n groter genoom kan dra, waarskynlik meer as 100 gene wat elk 70 basisse lank is, of meer as 70 gene wat elke 100 basisse lank is. Hierdie bevinding maak die waarskynlikheid soveel groter dat RNA die eerste of een van die eerste molekules was wat betrokke was by abiogenese. Weereens sien ons hier dat ‘n destyds aantreklike teorie nie aanvaar is nie omdat daar op daardie stadium nie genoeg empiriese getuienis daarvoor beskikbaar was nie.  

Daar is nog baie ander verwysings, maar om almal op te noem sal vir meeste lesers sieldodend begin raak. Kom ons beskou liewer sommige kreasionistiese aansprake oor waarskynlikhede van nader en gebruik die voorbeeld van ‘n oligopeptied wat bestaan uit 32 aminosure. Dit is ‘n selfreplikeerder, ‘n peptiedligase, wat deur Ghadiri en sy medewerkers (sien bo) beskryf is en kan dus kopieë van homself maak. Onthou ook dat ons aanneem dat die aanvanklike formasie van hierdie replikeerder geheel en al lukraak plaasvind. 

Hierdie 32 aminosure moet dus op ‘n lukrake wyse in die regte volgorde aanmekaar koppel. Die kanse dat dit in opeenvolgende lukrake "probeerslae" sal gebeur is (1/20) 32 , oftewel 1 kans in 4.29 x 10 40 .  

Dit sal maar lank neem vir so ‘n oligopeptied om te ontstaan, of so lyk dit. ‘n Algemene fout wat egter gemaak word, is om aan te neem dat die pogings tot kombinasie sekwensieël moet wees, en dis natuurlik glad nie die geval nie. Een kilogram van die aminosuur arginien bevat 2.85 x 10 24 molekules. As mens ‘n lorrievrag van elke aminosuur sou neem en dit in ‘n middelmatige meer sou gaan stort, sou jy relatief gou resultate kry. Ertem G en Ferris P 1996 Nature 379, 238-240 sowel as Ferris JP, Hill AR, Liu, R en Orgel LE 1996, Nature 381, 59-61 het getoon dat mens onder sulke omstandigede peptiedes van 55 aminosure binne 2 weke kan verkry. 

Die oeroseaan het waarskynlik in die omgewing van 10 24 liter bevat. As ons ‘n aminosuurkonsentrasie van 10 -6 M aanvaar (‘n helemaal redelike aanname, sien Cyba C en Sagan C 1992 Nature 355, 125-132) dan is daar ongeveer 10 50 potensiële beginpunte vir aminosuurkettings en kan ongeveer 10 31 peptiede binne een jaar geproduseer word. Dit sal dan slegs ‘n week neem om die peptiedligase waarna hierbo verwys is te sintetiseer, en sitochroom c kan binne ‘n miljoen jaar ontstaan (nie dat die teorie vereis dat sitochroom c so moes ontstaan nie, hierdie is slegs by wyse van voorbeeld.) 

Mens kan nog vir ‘n lang tyd so voortgaan maar dit is teen hierdie tyd nou duidelik dat die kreasioniste se berekeninge geen kontak met die werklikheid het nie.. Dit moet egter beklemtoon word dat navorsing oor abiogenese nog in sy kinderskoene is en dat daar geweldig baie werk voorlê voordat daar ‘n samehangende teorie te voorskyn sal kom. Intussen is daar niks wat dui op ‘n fiat kreasie van lewe deur een of ander bonatuurlike daad nie en is daar geen "dilemma" waarop die evolusieteorie ‘n antwoord moet gee nie. 

Op bladsy 14 kom die skrywer van die "studiestuk" by die onderwerp van onreduseerbare kompleksiteit. Darwin word aangehaal : "If it could be demonstrated that any complex organ existed which could not possibly have been formed by numerous, successive, slight modifications, my theory would absolutely break down." 

In Bantam Classics se herdruk van die eerste uitgawe van Darwin se Origin of Species lees ons in hoofstuk 6 (Difficulties on Theory) op bladsy 158 : "If it could be demonstrated that any complex organ existed, which could not possibly have been formed by numerous, successive, slight modifications, my theory would absolutely break down. But I can find no such case"   Is dit nie so effe misleidend om die aanhaling sonder die laaste sin weer te gee nie? 

Onreduseerbare kompleksiteit is tans, onder die vaandel van sg. "intelligente ontwerp" (IO) baie gewild by kreasioniste. Leonard Krishtalka het tereg gesê "Intelligent design is nothing else than old-style creationism in a cheap tuxedo". Om evolusie met ‘n muisvalletjie te vergelyk is ‘n skewe analogie : ‘n Muisval is net bedoel om een funksie te hê, terwyl organe wat geselekteer is vir een spesifieke funksie (bv die beheer van ligaamstemperatuur) mettertyd seleksie kan ondergaan en later moontlik as lokmiddel vir seksuele seleksie of vir vlieg gebruik kan word. Evolusie "werk" nie deur fyn ontwerpte en doelgerigte organe te ontwikkel nie, dit kom oor die weg met wat ook al beskikbaar is, solank dit net beter werk as dit wat die buurman byderhand het. Mens kan dit vergelyk met die verskil tussen ‘n ingenieur wat ‘n BMW ontwerp en ‘n derde-wêreldse werktuigkundige wat ‘n kar wil herstel. Eersgenoemde ontwerp en beplan als tot in die fynste besonderhede, lg. gebruik enigiets wat hy byderhand het, maak nie saak of dit ‘n stuk bloudraad of ‘n reep rubber is nie – solank dit net werk. 

Die analogie kan natuurlik verder gevoer word (mits die beperkinge van analogieë in gedagte gehou word) : die onderdele van ‘n muisval kan ook vir ander doeleindes aangewend word as net om muise mee te vang – bv as ‘n papierkrammetjie, ‘n deurstopper of wat ook al. 

Dit is interessant om daarop te let dat Behe geen enkele artikel oor onreduseerbare kompleksiteit in ‘n vaktydskrif gepubliseer het voordat hy met die boek vorendag gekom het nie – so half asof hy liewer sy idee aan die anti-Darwin brigade wou verkoop as om dit vir evaluasie aan sy eweknieë voor te lê. 

Die skrywer van die "studiestuk" noem ‘n paar voorbeelde van organe of sisteme wat kwansuis nie sal kan funksioneer as dit nie van die begin af as ‘n volledige geheel bestaan nie (o.a. bloedstolling en DNS-duplisering) en maak ook die stelling dat daar geen naturalistiese verduideliking is vir hoe hierdie prosesse stap vir stap sou kon ontstaan nie. Soos die geval met feitlik elke stelling wat hy oor evolusie maak, is hy verkeerd. – sommer baie verkeerd. 

Behe skryf : "There has never been a meeting, or a book, or a paper, on details of the evolution of complex biochemical systems." Ons lees ook : "In effect, the theory of Darwinian molecular evolution has not published, and so it should perish." 

Dit is moeilik om te glo dat Behe werklik en eerlik van mening was dat hierdie stellings feitelik korrek is. Per slot van rekening is hy ‘n professor aan ‘n Amerikaanse universiteit en behoort hy te weet watter publikasies oor watter onderwerpe die lig sien, en ook hoe om daardie publikasies te gaan opsoek. Daar is letterlike derduisende navorsingsartikels oor die biochemiese aspekte van evolusie gepubliseer, daar bestaan ‘n baie aktiewe joernaal met die titel Journal of Biochemical Evolution en daar word gereeld simposia oor hierdie onderwerp gehou en daar word ewe gereeld boeke oor die onderwerp gepubliseer – die titels van enkele boeke word hieronder genoem. In elke geval is die outeur ‘n erkende outoriteit op sy gebied.  

Desalle R en Schierwater B 1998 (Redakteurs) Molecular Approaches to Ecology and Evolution. Birkhauser.

Gillespie JH 1997 Causes of Molecular Evolution. Oxford University Press.

Hazen RM 2005 Genesis. Joseph Henry Press.

Kirschner MW en Gerhart JC 2005 The Plausibility of Life. Yale University Press.

Lewin R 1996 Patterns in Evolution : The New Molecular View. Scientific American Library.

Schimmel P (red) 1996 Tracing Biological Evolution in Protein and Gene Structures : Proceedings of the 20 th Taniguchi International Symposium. Elsevier Science Pub Co. 

Daar is letterlike duisende navorsingsartikels oor molekulêre evolusie – maar geen gelykstaande navorsing oor IO nie! 

Informasie hieroor van die National Centre for Science Education in die VSA aangevra. Die syfers strek net tot die einde van 1997. Die resultate is verkry deur vyf gerekenariseerde indekse te gebruik wat natuurwetenskaplike joernale, boeke en verslae katalogiseer. BIOSIS is die aanlyn weergawe "Biological Abstracts" en dek sowat 6 000 wetenskaplike joernale in die lewenswetenskappe. Die "Expanded Academic Index" indekseer en publiseer abstrakte van sowat 1 500 akademiese joernale in die geestes- en sosiale wetenskappe, natuurwetenskappe en tegnologie. Die "Life Sciences Collection" indekseer 200 joernale in alle onderafdelings van die biologie. "Medline" indekseer meer as 3 700 joernale in gesondheids- en biologiese wetenskappe. Die "Science Citation Index" dek meer as 5 000 joernale in alle natuurwetenskaplike vakgebiede. In elke geval is resultate verkry deur die sleutelwoorde "intelligent design" en "evolution" te gebruik.  
 
 
 

INDEKS

JARE

IO

EVOLUSIE

BIOSIS

1991-1997

1

68 832

Expanded Academic Index

1989-1997

30

14 298

Life Sciences Collection

1982-1997

1

45 963

Medline

1990-1997

1

29 228

Science Citation Index

1992-1995

4

10 333

 

Dus : die publikasierekord van IO is ‘n skamele 37 artikels. Maar kom ons beskou hierdie 37 publikasies van nader. Nie ‘n enkele een doen verslag van oorspronklike wetenskaplike navorsing oor IO nie. Van die dertig artikels in die Expanded Academic Index het twaalf gehandel oor rekenaarprogramme, 8 oor argitektuur of ingenieurswese, twee oor advertensiewese en een oor letterkunde. Die oorblywende sewe het oor biologie gehandel. Vyf daarvan was diskussies van die debat oor die kreasionistiese boek Of Pandas and People en twee was kommentaar op Behe se boek. Die vier artikels in die Science Citaton Index was almal oor ingenieurswese. Die artikel in Life Sciences Collection het gehandel oor rekenaarprogramme om lugbesoedeling te analiseer en die artikel in Medline was oor die bio-ingenieurswese van geneesmiddelvervaardiging. BIOSIS se artikel het gehandel oor die vervaardiging van kunsmis. 

Sedert 1997 is verdere oorsigte oor die stand van IO-navorsing uitgevoer. Carl Zimmer skryf in The Loom van 21 Augustus 2005 :

"It (‘n artikel in die New York Times) is a pretty useful overview of the political and financial support behind the Discovery Institute, the main anti-evolution think tank. It describes how the Institute has spent $3.6 million to support fellowships that include scientific research in areas such as "laboratory or field research in biology, paleontology or biophysics." 

So what has that investment yielded, scientifically speaking? I’m not talking about the number of appearances on cable TV news or on the op-ed page, but about scientific achievement. I’m talking about how many papers have appeared in peer-reviewed biology journals, their quality, and their usefulness to other scientists. Peer review isn’t perfect – some bad papers get through, and some good papers may get rejected – but every major idea in modern biology has met the challenge.  

It’s pretty easy to get a sense of this by perusing two of the biggest publically available databases, PubMed (from the National Library of Medicine) and Science Direct (from the publishing giant Reed Elsevier). They don’t cover the entire scientific literature, but between them, you can search thousands of journals covering everything from geochronology to genetic engineering. Look for the topics that have won people Nobel Prizes – the structure of DNA, the genes that govern animal development, and the like - and you quickly come up with hundreds or thousands of papers. 

A search for "Intelligent Design" on PubMed yields 22 results – none of which were published by anyone from the Discovery Institute. There are a few articles about the political controversy about teaching it in schools, and some papers about constructing databases of proteins in a smart way. But nothing that actually uses intelligent design to reveal something new about nature. ScienceDirect offers the same picture. (I’m not clever enough to link to my search results lists, but try them yourself if you wish.) 

Here’s another search : "Discovery Institute" and "Seattle" (where the institute is located). One result comes up : a paper by Jonathan Wells proposing that animal cells have turbine-like structures inside them. It describes no experiments, only a hypothesis. 

Perhaps the other prominent fellows of the Discovery Institute (Michael Behe, Stephen Meyer and William Dembski) have published scientific papers that have a bearing on intelligent design, without identifying their affiliation. Aside from a couple of letters to the editor, the databases yielded only one paper, in which Behe offers a simple model of gene duplication and expresses doubt that genes could evolve by this process. Given that other scientists have published 2266 papers exploring gene duplication’s role in evolution, it’s safe to say that his is not a view held by most experts. 

PubMed has a very nice feature that lets you get a rough gauge of how influential a paper has been. If you select "Cited in PMD" from the display option list, you get a list of papers in PubMed that have cited the paper you’re looking at. The 2001 paper revealing the rough draft of the human genome has already been cited 777 times in the past four years. 

Try it on the Behe and Wells papers. Total citations? Zero. 

Here’s one more way to put these results in perspective : compare the two papers I turned up to the work of a single evolutionary biologist. From the thousands I could choose from, I’ll pick Douglas Emlen, a young biologist at the University of Montana. He studies horns on beetles as an example of how embryonic development changes during evolution. I visited his website and counted the papers that dealt directly with evolution (leaving out the book chapters and the papers on straight physiology and such). The total so far comes to 23. Over ten times the output I found from the entire Discovery Institute staff." 

‘n Meer onlangse soektog (wat die periode van 1990 tot 8 Augustus 2004 gedek het) in die Science Citation Index, wat op daardie stadium 5300 joernale en 13 miljoen artikels in sy databasis gehad het, het 141 artikels gevind wat "intelligent design" in die titel, sleutelwoorde of abstrak gehad het. Hiervan was almal behalwe 43 artikels oor ingenieurswese. Van die 37 artikels oor biologiese IO was 32 krities daaroor. Nie een van die 6 artikels wat IO voorgestaan het, het navorsing bevat nie maar was briewe aan die redakteur. 

‘n Belangrike konsep in IO, te wete "irreducible complexity" het in 9 artikels voorgekom. Die enigste twee wat in navorsingsjoernale gepubliseer was, het krities jeens onreduseerbare kompleksiteit gestaan. 

By wyse van vergelyking : 133 000 artikels het "evolution" as sleutelwoorde gehad,

28 000 slegs in 2003. Meeste het na biologiese evolusie verwys en was in navorsingsjoernale. 

‘n Soektog is op 30 Desember 2006 op PubMed (wat meer as 7 000 wetenskaplike joernale dek) uitgevoer om vas te stel hoeveel navorsingsartikels oor evolusie gedurende die voorafgaande twaalf maande gepubliseer is. Met "biological evolution" as slagwoorde is gevind dat 12 385 navorsingsartikels gedurende 2006 die lig gesien het. Met "natural selection" as slagwoorde is 430 artikels gevind en "evolution and natural selection" het 700 artikels opgespoor. "Molecular evolution" het 2732 artikels gevind. ‘n Soektog met "intelligent design" as slagwoorde het ‘n skamele 32 artikels opgelewer – en nie een het navorsingsresultate bevat nie – 24 het die konsep bespreek (en glad nie in gunstige terme nie) terwyl die res handel oor die ontwerp van mediese apparaat, rekenaarprogramme en dies meer. 

Oftewel : hoeveel oorspronklike navorsing het IO die lig laat sien? Niks. Nul. Nada. Zilch. 

Hoe dit ook al sy, terug na Behe se boek. Sy argument is essensieël dieselfde as die van William Paley van 200 jaar gelede. Vir hom is die kompleksiteit van biochemiese sisteme ‘n bewys van intelligente ontwerp en hy wikkel dan ook Paley se argument toe in die kleed van eietydse biochemie. So ‘n standpunt is egter nie sonder probleme nie – hierdie "intelligente ontwerper"-argument is al telkemale in die verlede weerlê deur skrywers soos o.a. Dawkins, Gould en ook deur Darwin self. Die veelvuldige onderdele van komplekse interdigiterende biologiese sisteme evolueer as stelsels wat gestadig uitbrei, vergroot en aanpas by nuwe omstandighede en soos Dawkins so suksesvol aantoon in "The Blind Watchmaker" kan natuurlike seleksie op enige stadium van hul transformasie met hierdie sisteme interreageer .  

Behe kies sy voorbeelde baie versigtig – dikwels oeroue sisteme wat in meeste eukariotiese selle gevind word en geen fossiele laat nie. Hy aanvaar voorts, teen alle bewyse in, ook nie die beginsel dat ‘n biochemiese sisteem wat vir een doel aangepas het, kan adapteer om ‘n ander funksie te verrig nie en verwerp die gevestigde siening dat die onderdele van ‘n silium, insluitende die proteïne dyneïn en tubulien, dmv geenduplikasie kon ontstaan het – en dit ten spyte van die feit dat bg twee proteïne ook ander funksies in die sel verrig, ‘n byna sekere aanduiding van geenduplikasie. Min indien enige selbioloë aanvaar dat die silium nie kon ontstaan het uit proteïne wat oorspronklik vir ander doeleindes gebruik is nie. Trouens, die silium self is al aangepas vir ‘n ander funksie in die sel, nl. die vertebraat fotoreseptor. Selfs al sou mens die volledige ontstaan van al Behe se voorbeelde kon uitlê sou hy waarskynlik net kan beweer dat die "bewyse" vir IO te vinde is in ander verskynsels wat nie volledig verklaar is nie. Omdat ons nooit alles sal kan verklaar nie sal daar maar altyd "leidrade" wees wat kwansuis dui op ontwerp. Hierdie regressiewe ad hoc kreasionisme mag slim voorkom, maar dit is beslis nie wetenskaplik nie.  

As feitelike voorbeelde tot die teendeel kan mens enige sisteem waarvan die evolusie deur die fossielrekord aangetoon word gebruik om aan te toon hoe sg. "onreduseerbare kompleksiteit" kan ontstaan. Die beentjies in die middeloor van soogdiere is ‘n goeie voorbeeld en vervul ook Behe se kriteria van onreduseerbare kompleksiteit : indien enige van die vyf komponente (die malleus, incus, stapes, timpaniese membraan en ovaal venster) verwyder word, sal die sisteem ophou funksioneer. Hierdie is die soort van "muisval" wat evolusie kwansuis nie kan produseer nie, maar nou is dit so dat die fossielrekord besonder volledig (en ook elegant) is mbt die evolusionêre geskiedenis van hierdie beentjies. Tydens die evolusie van soogdiere het die bene wat aanvanklik die agterste gedeelte van die reptielonderkaak gevorm het na agter beweeg en verklein totdat hulle in die middeloor in migreer het. Daar het hulle benige verbindings gevorm wat vibrasies na die binne-oor van hedendaagse soogdiere gelei. 

Wat het dus hier gebeur : ‘n komplekse sisteem van inmekaarsluitende komponente, geprogrammeer deur verskillende gene, is mettertyd verander en aangepas om ‘n geheel en al ander funksie te vervul – iets wat volgens Behe se boek helemaal onmoontlik is.  

Mens moet derhalwe vra : is daar iets spesiaals omtrent biochemie wat evolusie op een of ander wyse verhoed om met mikroskopiese proteïne dieselfde te doen as met makroskopiese anatomie – anatomie waarvan die konfigurasie in elk geval deur gene (en dus proteïne) bepaal word? Die antwoord op hierdie vraag is natuurlik nee. Wat mens wel kan sê is dat evolusie die toetsbare voorspelling maak dat die graad van ooreenstemming in die DNS-volgordes van organismes sal ooreenstem met hul evolusionêre geskiedenisse. Hierdie voorspelling is al duisende kere korrek bewys en ‘n voorbeeld daarvan is sien in die bespreking van die stollingsisteem. 

Net hierdie een van Behe se voorbeelde sal van nader beskou word omdat dit te veel tyd en ruimte in beslag sal neem om alle voorbeelde breedvoerig te onder die loep te neem. Om bloedstolling in soogdiere te bespreek moet eers ‘n kort oorsig van die stollingskaskade gegee word. 

Essensieël bestaan soogdiere se stollingsisteem uit ‘n fibreuse, oplosbare proteïn bekend as fibrinogeen. Dit beslaan ongeveer 3% van die proteïn in plasma. Naby die senter van die molekuul is ‘n "klewerige" streek wat bedek is deur negatief gelaaide aminosuurkettings. ‘n Stolsel vorm wanneer trombien die gelaaide aminosuurkettings verwyder. Dit stel die "klewerige" dele van die fibrinogeenmolekules (wat nou fibrien genoem word) bloot en hierdie molekules begin nou saamklomp om ‘n stolsel te vorm. Die sisteem soos hier beskryf is essensieël soos dit in die kreef gevind word en slegs twee molekules is betrokke : fibrinogeen en trombien. In soogdiere is die situasie meer kompleks, maar die feit dat daar ‘n stollingsisteem is wat uit slegs twee molekules bestaan instede van die hele kaskade wat in soogdiere aangetref word, behoort mens reeds snuf in die neus te gee dat hierdie sisteem nie so onreduseerbaar kompleks is as wat Behe aan ons voorhou nie. Soos ons weldra sal sien is hierdie vermoede korrek. 

Trombien bestaan as onaktiewe protrombien en dit moet geaktiveer word voordat dit sy effek kan uitoefen. Protrombien, ‘n protease, moet deur ‘n ander protease geaktiveer word – hierdie ander protease staan bekend as Faktor X. Mens sal natuurlik op hierdie stadium begin wonder of Faktor X nie dalkies self geaktiveer moet word nie en ja, dit is inderdaad die geval – Faktore VII en IX moet hierdie taak verrig. Daar is ‘n hele kaskade sulke faktore en dis beter om die gebeure grafies te illustreer. 
 
 
 

Intrinsieke baan 

Beskadigde selle

             ↓

Kininogeen

Kallikreïn

         ↓

XII→→→→XIIa                                                            Ekstrinsieke baan

                        ↓

              XI→→→→→XIa                                                      Trauma

                           ↓                                                                          ↓

                    IX→→→→→IXa                                      VIIa←←←←←VII

                                   ↓                                                       ↓

                                   ↓ VIIIa                                            ↓  Weefselfaktor←←Trauma

                                   ↓                                                       ↓ 

                          X→→→→→Xa←←←←←←← ←←X

                                    ↓

                                    ↓ Va

                                    ↓

           Protrombien→→→→Trombien

                                                     ↓

                       Fibrinogeen→→→→→Fibrien

                                                                 ↓

                                                                 ↓ XIIa

                                                                 ↓

                                                            Stolsel 
 
 

Die volgorde waarin die stollingsfaktore met Romeinse syfers aan die kaskade deelneem is effens deurmekaar omdat hulle hul nommers gekry het in die volgorde waarin hulle ontdek is. Enkele onbelangrike komponente is ter wille van eenvoud nie aangedui nie. Volgens Behe is die sisteem onreduseerbaar kompleks en kan geen van die komponente uitgelaat word nie. Soos reeds genoem besit die kreef slegs twee komponente en mens wonder waarom die blaasoppie met drie faktore minder as soogdiere kan klaarkom – waar is die onreduseerbare kompleksiteit? Faktor XII en prekallikreïn is ook nie essensieël nie omdat hul afwesigheid nie ‘n kliniese bloedingsneiging tot gevolg het nie, alhoewel daar wel in vitro verlengde stoltye gevind word. Die belang van XI is tans ook nog nie helemaal duidelik nie. Mens moet jouself dus afvra watter stollingsisteem Behe nou eintlik as onreduseerbaar kompleks beskou. 

Die sisteem word deur twee dinge geaktiveer : die intrinsieke baan wanneer seloppervlaktes beskadig word terwyl die ekstrinsieke baan geaktiveer word deur weefselfaktor, ‘n proteïn wat meeste weefsels gevind word (maar nie in die bloed nie). Die kaskade vorm ‘n amplifiserende sisteem wat veel meer van die eindproduk vorm as wat andersins die geval sou gewees het.  

Wat hierbo staan is algemene kennis en dit kan in enige voorgraadse boek oor fisiologie gevind word. Die evolusie van die stollingsisteem is in detail bestudeer deur o.a. Ken Miller en RF Doolittle.  

Hoe kon hierdie komplekse interaksie sy ontstaan gehad het? Alle klein invertebrate wat ‘n sirkulatoriese sisteem het, besit ook klewerige witselle wat enige wondjie toeprop. Mens kan met veiligheid aanneem dat ‘n primitiewe prevertebraat van ongeveer 600 miljoen jaar gelede ook so ‘n sisteem sou gehad het, sowel as sikliese AMP (cAMP). Hierdie is ‘n algemene molekuul wat in feitlik alle lewende organismes gevind word. Wanneer ‘n sel beskadig word en cAMP dan in die beskadigde vaskulêre sisteem vrygestel word sal die gladde spier van die bloedvate saamtrek – dit is een van die dinge wat cAMP tot gevolg het. Kontraksie van die gladde spier in bloedvatwande beteken ‘n verminderde verlies van bloed of liggaamsvog sowel as ‘n kleiner deursnit van die beskadigde bloedvat, wat dit makliker maak vir die selle om ‘n effektiewe prop te vorm. Oftewel, ons het dus ‘n matig doeltreffende manier om skade in ‘n primitiewe lae-druk sirkulatoriese sisteem te beperk. Dit wat hierbo staan is geensins spekulatief is nie, sulke stollingsisteme bestaan in die diereryk. 

Die interne omgewing (ekstrasellulêre vog) wat weefsel omring se samestelling is baie anders as die van bloed en bevat baie proteïne, matriksmolekules en ekstrasellulêre proteases – lg. molekules is van groot belang in ekstrasellulêre kommunikasie. Dit beteken dat die weefsel van ons primitiewe vertebraat sommer baie proteïne bevat het wat nie met stolling te doen gehad het nie. Nou goed : wat sal gebeur as ‘n bloedvat in so ‘n organisme trauma sou ondergaan en skeur? 

‘n Proteïnryke plasma vloei in ‘n "onbekende" omgewing in en "klewerige" witselle klomp saam teen die ekstrasellulêre matriks. Weefselproteases word nou blootgestel aan  
"onbekende" proteïne en hierdie proteases begin om hulle na kleiner subeenhede af te breek. Sommige is meer oplosbaar as hul voorgangers, ander weer minder so. Wat die geval ook al mag wees,  die eindresultaat is dat onoplosbare proteïnfragmente begin saamklomp by die weefsel-plasma interfase – oftewel, ‘n primitiewe stolsel (in terme van soogdiere) vorm.  

Klink hierdie dalk ‘n bietjie primitief en effens te spekulatief? Indien wel hou asseblief in gedagte : dit is ‘n stollingsisteem wat deur ‘n groot aantal invertebrate gebruik word.  

Nou begin dinge egter werklik interessant word. ‘n Mutasie dupliseer ‘n bestaande geen vir serien protease, ‘n spysverteringsensiem wat in die pankreas geproduseer word. Geenduplikasies is algemene verskynsels en is in meeste gevalle (maar, en dis belangrik, nie almal nie) van relatief min belang en staan dus as "neutrale" mutasies bekend weens hul relatief beperkte invloed op die organisme se bestaansfiksheid. Die oorspronklike geen het egter ‘n kontrole-area gehad wat verseker het dat dit slegs in die pankreas aangeskakel word. Tydens duplikasie is hierdie kontrole-area beskadig sodat die nuwe geen nou in sowel die pankreas as die lewer aangeskakel is. Die gevolg hiervan is dat die onaktiewe vorm van die ensiem, ‘n simogeen, in die bloedstroom vrygestel word. 

Meeste pankreatiese proteases is onaktief totdat hulle geaktiveer word maar wanneer skade aan ‘n bloedvat veroorsaak dat plasma met weefsel in aanraking kom, dan word die voorheen onaktiewe plasma serien protease geaktiveer deur die weefselproteases met gevolglike sterk verhoogde proteolitiese aktiwiteit by die setel van bloeding. Bloedstolling word dus meer effektief en die gedupliseerde geen word deur natuurlike seleksie bevoordeel.  

Met verloop van tyd is nog meer gene of stukkies van gene in die plasmaprotease-volgorde ingelas, maar die netto voordeel was waarskynlik slegs matig. Op een of ander stadium, dmv. ‘n goed bekende proses bekend as eksonskommeling ("exon shuffling") is ‘n DNS-volgorde bekend as ‘n EGF domein in een kant van ‘n protease-geen ingelas. EGF is ‘n afkorting vir epidermale groeifaktor, ‘n proteïn wat dwarsdeur die liggaam as boodskapper gebruik word. Dit is so algemeen dat feitlik elke sel oor reseptore vir EGF beskik. Let asseblief daarop dat wat hierbo beskryf is nie spekulasie is nie – die prosesse waardeur die veranderinge geskied het is goed bekend.  

Hierdie samekoms van ‘n EGF-volgorde en ‘n plasmaprotease het verreikende gevolge gehad. Die weefsel rondom ‘n stukkende bloedvat het baie reseptore bevat wat gebind het met die EGF gedeelte van die serum protease. Die gevolg was dat groot hoeveelhede proteases direk met seloppervlaktes naby ‘n wond gebind het. Hierdie proteases is nog op die gewone manier geaktiveer, maar nou is hul proteolitiese aktiwiteite baie sterk gelokaliseer en is ‘n stolsel van onoplosbare proteïne vinniger en meer spesifiek as tevore geproduseer – weereens ‘n proses wat deur natuurlike seleksie bevoordeel sal word.  

Om die belang van EGF in die stollingsproses te beklemtoon word dit, wanneer dit aan stolling deelneem, weefselfaktor genoem. 

Wanneer mens dus die situasie het dat elke bloeding ‘n protease aktiveer wat aan weefselreseptore gebonde is, dan sal ‘n geenduplikasie van een van die belangrike plasmaproteïne baie sterk seleksiedruk ondervind om sy vermoë te verhoog om met gebonde proteases te reageer. Fibrinogeen, die belangrikste teiken van die kaskade, het duidelik op hierdie wyse sy ontstaan gehad.  

Daar kan geen twyfel bestaan nie dat die stappe hierbo beskrywe, elkeen ondersteun deur klassieke Darwiniaanse meganismes, voldoende is om ‘n rudimentêre stollingsisteem tot stand te bring. Maar hoe word kompleksiteit tot hierdie bredie toegevoeg? 

Meeste serien proteases, insluitende tripsien en trombien, is outokatalities, dws. hulle kan hulself tot ‘n mindere of meerdere mate aktiveer. Skematies voorgestel lyk die funksies van die oerplasmaprotease (protease A) so : 

                            

                         ↓←←←←←←

                         ↓                        ↑

A→→→→→→→→→→→→A*

           Weefselfaktor  (wf)         ↓

                                                    ↓

                  Fibrinogeen→→→→→→→Fibrien 

Mens kan dus sien dat die onaktiewe vorm van die protease (A) omgeskakel word na die aktiewe vorm (A*) wanneer twee dinge gebeur : dit bind aan weefselfaktor en dit word deur weefselproteases (insluitende homself) geaktiveer. Dit beteken dat die betrokke protease betrokke is by die katalisering van twee prosesse wat nuwe molekules tot stand bring : die omskakeling van fibrinogeen na fibrien en sy eie outokatalisasie. 

‘n Geenduplikasie van die geen vir protease sal dan die volgende toestand tot gevolg hê : 
 
 
 
 
 

                 ←←←      →→→

                 ↓         ↑    ↑           ↓

A→→→→→→A* B*←←←←←←B

            wf                ↓               wf

                                ↓

                                ↓

    fibrinogeen→→→→→fibrien 

Eintlik het niks besonders gebeur nie. Proteïne A en B is identies, elk kan aan wf bind, beide kan fibrinogeen omskakel na fibrien en beide is outokatalities. As daar nou ‘n mutasie plaasvind wat B se aktiewe senter net effens verander, sodanig so dat dit minder geneig sal wees om fibrinogeen om te skakel na fibrien en effens meer geneig om protease A te aktiveer, dan verander die verhouding as volg :  
 
 

B→→→→→→→B*

          wf                 ↓

                               ↓            ←←←←

                               ↓            ↓             ↑

                   A→→→→→→→→→A*

                                                           ↓

                                                           ↓

                             fibrinogeen→→→→→→fibrien 

Nou is A se vermoë om aan weefselfaktor te bind nie meer so belangrik nie. As B al die beskikbare bindingsetels vir weefselfaktor kan beset (mbv. die EGF domein) dan sal die weefselfaktorgemedieerde aktivering van B, tesame met B se affiniteit vir A, ‘n snelle aktivering van A meebring. Daar sal dus heelwat A wees wat fibrinogeen vinnig omskakel na fibrien.  

Mens kan natuurlik vra waarom natuurlike seleksie so ‘n mutasie sal bevoordeel. Die antwoord is eenvoudig : dit verhoog die effektiwiteit van die stollingsproses deur ‘n kaskade daar te stel. Die vorige een-stap proses het ‘n direkte interaksie met wf benodig om elke protease te aktiveer. Die nuwe proses laat dit toe dat elke wf ‘n protease B aktiveer, en elkeen daarvan kan op sy beurt weer talle en talle A’s aktiveer.  

Vermenigvuldig bg. stappe ‘n paar keer en mens kan ‘n meer ingewikkelde, en meer effektiewe, stollingsisteem tot gevolg hê. 

Die volgende vraag is vanselfsprekend : hoe kan mens weet dat die stollingskaskade wel op bg. wyse evolueer het? Streng gesproke kan ons natuurlik nie kategories sê dat dit wel hierdie pad geloop het nie, maar selfs ‘n algemene sisteem soos hierdie een gee aanleiding tot ‘n paar spesifieke voorspellings, elkeen waarvan getoets kan word. (Hoeveel toetsbare voorspellings maak Behe se bewering dat die stelsel onreduseerbaar kompleks is? Nie een nie). 

Ten eerste is die skema gebaseer op bekende biochemiese en genetiese prosesse. Meeste van die ensieme wat by die stollingskaskade betrokke is, is serien proteases en hulle word so genoem weens die teenwoordigheid van ‘n hoogs aktiewe serien in hul aktiewe setels. Die pankreas is die orgaan wat die meeste serien proteases produseer as deel van sy eksokriene funksie in voedselvertering. Voorts deel die pankreas ook ‘n gemeenskaplike embriologiese oorsprong met die lewer, wat al die proteases maak wat by stolling betrokke is. Al wat dus benodig was om ‘n protease in die serum te kry is ‘n geenduplikasie wat in die pankreas se "susterorgaan" aangeskakel word.  

Voorts, indien die stollingsmeganisme wel ontwikkel het soos beskryf dan behoort die stollingsensieme baie noue ooreenstemmings te toon met pankreasensieme en ook met mekaar. Dit is inderdaad die geval. Trombien is homoloog aan tripsien, ‘n pankreatiese serien protease, en die vyf stollingsproteases (protrombien en Faktore X, IX, XI en VII) toon ekstensiewe ooreenkomste : hulle is almal enkelketting polipeptiedes van feitlik dieselfde lengte en die plek waar die ketting gekloof word tydens die aktiveringsproses is op presies dieselfde relatiewe posisie in al vyf. Hierdie is presies wat mens sou verwag as hulle agv. geenduplikasie gevorm is.  

Maar daar is nog meer. Mens kan een organisme neem, die mens bv., en ‘n "stamboom" opstel van die grade van ooreenstemming en verskille tussen die gene wat vir elk van die vyf proteases kodeer. Indien die geenduplikasies wat verantwoordelik is vir die stollingskaskade lank gelede plaasgevind het in een of ander oervertebraat dan behoort dit moontlik te wees om vir enige van sy vertebraatnasate ‘n soortgelyke stamboom te kan saamstel waarin die ooreenstemmings of verskille tussen die stollingsproteases ooreenstem met die verhoudings in die menslike proteases. Hierdie is ‘n besonder goeie toets omdat dit vereis dat DNS volgordes wat nog nie eers ontdek is nie by ‘n bepaalde patroon moet inpas. En hierdie is inderdaad ‘n toets wat die evolusieteorie oor die jare geslaag het, in die een organisme na die ander. Dit moet beklemtoon word dat teorieë in die molekulêre genetika wat oor sulke aangeleenthede handel uiters streng is mbt wat die data moet kan aantoon. Elke en iedere volgorde vir elke soogdiergeen in die sisteem moet binne ‘n kladistiese raamwerk val, en die raamwerk moet eenders wees vir al die betrokke gene. Die homoloë gene moet inpas in ‘n skema wat gebaseer is op die vier reduplikasiegebeure wat aan hulle oorsprong gegee het. Met ander woorde, van al die moontlike reekse wat mens kan vind, mag slegs ‘n klein persentasie wel voorkom. ‘n Afwyking van die voorspelde volgordes sal dieselfde wees as om ‘n mensfossiel saam met die beendere van ‘n dinosouriër te vind. 

Een van die bekendste navorsers oor die evolusie van bloedstolling, R F Doolittle, het in 1987 die volgende voorgestel : as die geen vir fibrinogeen verkry is dmv duplikasie van ‘n voorouergeen, een wat niks met bloedstolling te doen het nie, dan behoort mens fibrinogeenagtige gene te vind in ‘n organisme wat nie dieselfde stollingsisteem besit as  vertebrate nie. Oftewel, mens behoort ‘n nie-stollende fibrinogeenproteïn in ‘n invertebraat te vind. 

Hoe sê die Engelse? Lo and behold! In 1990 is ‘n fibrinogeenagtige volgorde gevind in die seekomkommer, ‘n echinoderm. Die onvermydelike gevolgtrekking : die gene vir vertebraatfibrinogeen is gevorm deur duplikasie en modifikasie van bestaande gene.  

Terwyl daar ongetwyfeld nog geweldig baie is oor die evolusie van stolling wat nog opgeklaar moet word, en terwyl daar beslis ook fasette is wat ons nooit sal weet nie, kan mens met sekerheid sê dat ons genoeg kennis het om ‘n breë buitelyn te trek van hoe hierdie proses plaasgevind het en dat dit geensins aan die vereistes van onreduseerbare kompleksiteit voldoen nie. 

Enkele opmerkings oor die sg. "onreduseerbare kompleksiteit" van die stollingsisteem en Behe se aanbieding daarvan is van pas. Hy impliseer verkeerdelik dat daar min homologieë is en dat hulle beperk is tot die primêre struktuur – dus is hul rol betekenisloos aangesien die sisteem ongetwyfeld "onreduseerbaar kompleks" moet wees. Dit is ‘n a priori benadering wat geen water hou nie. Die feite oor homologieë is so algemeen bekend dat dit selfs genoem word in biochemie-handboeke wat aan voorgraadse studente voorgeskryf word, bv. Lubert Stryer se "Biochemistry", uitgegee deur WH Freeman and Co.. Die feit bly staan : sodra mens erken (en jy moet dit erken) dat geenduplikasie, rekombinasie en spesialisasie die toenemende ingewikkeldheid kan verklaar (bv twee sekwensiële proteases) dan is daar geen rede waarom dit nie ook toegepas kan word op ander nie, bv. die ooglopende ooreenkomste tussen faktore V en VIII.. Daar is geen rasionele plek waar mens ‘n streep kan trek en sê hier het ons nou die sisteem tot ‘n vlak van onreduseerbare kompleksiteit verminder nie. 

Voorts het belangrike onderdele van Behe se voorbeelde uit die biochemie elkeen verskeie funksies en is hulle nie substraatspesifiek nie. Plasminogeen bv is van belang in weefselmodellering, selmigrasie, embrioniese ontwikkeling, angiogenese en wondgenesing. En al vertel hy ons dat plasmien (die aktiewe vorm van plasminogeen) "acts as scissors specifically to cut up fibrin clots" (oftewel dat dit baie substraatspesifiek is) sien ons in een van die artikels wat hy aanhaal (Bugge TH, Kombrinck KW, Flick MJ, Daugherty CD, Danton MJ en Degan JL 1996 Cell 87, 709-719) dat "plasmin has a relatively low substrate specificity and is known to degrade several common extracellular matrix glycoproteins in vitro." Ooglopend is plasminogeen nie soos ‘n motoronderdeel wat slegs een funksie kan vervul en niks anders kan doen nie. 

Voorts lees ons ook in Bugge se artikel dat muise wat geen plasminogeen het nie tog wondgenesing ondergaan. Wonde genees nie sonder bloedstolling nie, en dit beteken dat die muise nie (volgens Behe) ‘n onreduseerbaar komplekse stollingsisteem besit nie. 

Meer besonderhede is te vinde in : 

Doolittle RF 1993 Thrombosis and Haemostasis 70, 24-18

Doolittle RF en Feng, DF 1987 Cold Spring Harbor Symposia on Quantitative Biology 52, 869-874

Doolittle RF en Riley M 1990 Biochem and Biophys Res Comm 167 16-19

Xu, X en Doolittle RF 1990 Proc Nat Acad Sc USA 87, 2097-2101. 

Op bladsy 15 bespreek die skrywer van die "studiestuk" sy indruk van mutasies. Daar is geheel en al geen raakpunte tussen sy weergawe van mutasies en dit wat deur eietydse molekulêre biologie gesê word nie. Op bladsy 16 staan daar : "A proportion of favorable mutations of one in a thousand does not sound much, but is probably generous… and a total of a million mutational steps (to get a new species) sounds a great deal but is but is probably an understatement… With this proportion but without any selection, we should clearly have to breed a million strains to get one containing two favorable mutations, up to a thousand to the millionth power to get one containing a million… A thousand to the millionth power, when written out becomes a figure 1 with three million noughts after it; and that would take three large volumes of about 500 pages just to print! No one would bet one (sic) anything so improbable happening." 

Die aanhaling kom uit hoofstuk 2 (How Natural Selection Works) van Julian Huxley se boek Evolution in Action, uitgegee in 1953 deur Chatto and Windus. Die hele hoofstuk word gewy aan ‘n verduideliking van die werking en effek van natuurlike seleksie en ons lees op bladsy 46 van die boek die moontlike respons van ‘n hipotetiese leser : "In a word, are you not asking us to believe too much? The answer is no : all this is not too much to believe, once one has grasped the way the process operates. Professor RA Fisher once summed the matter up in a pithy phrase – ‘Natural selection is a mechanism for generating an exceedingly high degree of improbability.’ Of course, this is in a sense a paradox, and the improbability is only an apparent one : but it is a useful shorthand phrase to denote the real improbability of the results having been produced in any other way than by means of natural selection." 

Op die volgende bladsy van Huxley se boek kom ons nou by die gedeelte wat in die studiestuk aangehaal word. Maar wag ‘n bietjie : wat staan net voor die aangehaalde gedeelte? "..we can ask what would have been the odds against a higher animal, such as a horse, being produced by chance alone : that is to say by the accidental accumulation of the necessary favorable mutations without the intervention of selection." 

Dus : Huxley het verduidelik hoe onwaarskynlik dit is dat mutasies alleen, sonder die hulp van natuurlike seleksie, ‘n nuwe spesie sal kan voortbring. Maar dit is nou nie juis die indruk wat ‘n leser van die "studiestuk" kry nie, nie waar nie? Moet mens aanvaar dat mense wat aanhalings so gerieflik buite konteks gebruik goed bedeeld is met integriteit? Gesien die skreiende onkunde oor evolusie wat die skrywer van die "studiestuk" oor selfs die mees basiese primêre literatuur oor evolusie openbaar, moet mens hom dalk maar die voordeel van die twyfel gee – al gaan dit maar broekskeur – en aanvaar dat hy hierdie stelling in goeder trou uit een of ander kreasionistiese geskrif oorgeneem het. Dit egter geen verskoning vir sy versuim om primêre bronne te raadpleeg nie en toon weereens slegs sy onkunde oor hierdie onderwerp. 

Ons lees op bladsy 15: "Natuurlike mutasies is besonder skaars. ‘n Mutasie kom ongeveer een keer uit elke tien miljoen replikas (sic) van DNA voor." Die skrywer van die "studiestuk" bedoel seker maar replikasies. Mutasies kom nagenoeg een keer in elke 100 000 seldelings voor, soos gesien kan word in enige elementêre biologiehandboek, bv. Biology, deur Johnson, Losos en Singer, uitgegee deur McGraw Hill in 2005. Nou kan mens self gaan uitwerk hoe lank dit neem vir ‘n bevrugte ovum om te vorder van een sel na 100 000 selle. Dit slegs ongeveer 20 seldelings voordat daar sommer 500 000 selle ontstaan het – en dit beteken dat 500 000 selle elk ‘n seldeling in sy verlede het..  

‘n Dertigjarige man moet sowat 400 seldelings in sy testes laat ondergaan om een spermsel te vorm. Dit beteken dat daar gemiddeld 1.6 mutasies per spermsel voorkom.  

Drake JW, Charlesworth B, Charlesworth D en Crow JF, 1998, Genetics 148, 16677-1686, het gevind dat die gemiddelde menslike sigoot ongeveer 64 mutasies bevat. Die vrugtevlieg het 0.005 mutasies per genoom per replikasie, die muis 0.014 en die mens 0.004. 

Word daar werklik van lesers verwag om die aanhaling van Grasse ernstig op te neem? Grasse was een van die laaste aanhangers van Lamarckisme (wat maar stadig uitgesterf het in Frankryk) en mens kan maar net wonder hoe hy (en die skrywer van die "studiestuk") antibiotika-weerstandigheid onder bakterieë of insekdoder-weerstandigheid onder insekte sou verklaar, of selfs die feit dat sommige bakterieë daarin geslaag het om nylon te kan afbreek – sien later. Hoe dit ook al sy, Grasse het die gemeenskaplike afstamming van organismes aanvaar – sy kibbel was alleenlik maar met die meganisme van evolusie : natuurlike seleksie. 

Die stelling dat meeste mutasies nadelig is, is verkeerd – meeste mutasies is neutraal. Die voor- of nadeligheid van mutasies is meestal afhanklik van die omgewing, soos bv. die geval met sekelselanemie. 

Voordelige mutasies in mense word beskryf in : 

Margaglione M, Cappucci G, d’Addedda M, Colaizzo D et al 1998, Arterscler Thromb Vasc Biol 18(4), 562-567.

Franceschini G, et al 1985 J Biol Chem 260, 1632-5

Stephens JC et al 1998 Am J Hum Genetics 62(6), 1507-1515. 

Daar bestaan ook heelwat materiaal oor voordelige mutasies in die diereryk. 

Ons lees voorts : "Verskeie mutasies sou ongeveer gelyk moes plaasvind om werklik die gevolg te hê wat ondersteuners van evolusie voorstel. Dit sou ‘n dier byvoorbeeld nie help om skielik van kiewe na longe oor te gaan nie. Wat van al die ander prosesse wat saam met die longe moet funksioneer…. Wat van die vermoë om op land te leef? ‘n Vis wat met longe uitbroei sal dadelik verdrink. Die kans op soveel gelyktydige voordelige mutasies is baie klein." 

Dit is moeilik om te glo dat die skrywer van die "studiestuk" werklik ernstig was toe hy bostaande geskryf het. Dit is so buite alle perke belaglik, so doodeenvoudig absurd, getuig van so ‘n bisarre gebrek aan insig en kennis van die evolusieteorie dat mens aanvanklik wonder of dit nie as parodie bedoel is nie : "...skielik van kiewe na longe oorgaan!" Liewe hemel!!!! Die evolusieteorie vereis hoegenaamd, totaal en al glad nie en heeltemal nie ‘n scenario soos hierbo beskryf nie en dit is byna onmoontlik om te glo dat die skrywer van die "studiestuk" so onkundig is dat hy so iets ernstig bedoel. Maar tog is dit die geval! Mens moet wonder of dit nog enigsins nodig is om op sulke absurde bewerings te antwoord. 

"Die eksperimentele resultate wat beskikbaar is weerspreek die verwagte getuienis dat mutasies die aandrywingsmeganisme van evolusie sou wees. Bykans alles wat deur die moderne wetenskap oor mutasies bekend is weerspreek die aansprake van die Neo-Darwiniste." 

Dus is alle genetici dwarsdeur die wêreld wat navorsing oor evolusie en mutasies doen, besig om hulself te bluf en om al die "weersprekende resultate" te ignoreer. Wat dink die skrywer van die studiestuk staan in boeke met titels soos "Mutation and Evolution" "What Evolution Is" "The Theory of Selection, Recombination and Mutation", om slegs drie te noem? Bladsye en bladsye vol selfverleidende wensdenkery wat deur die res van die wetenskaplike gemeenskap vir soetkoek opgeët word ten spyte daarvan dat alles wat oor mutasies bekend is die teorie weerspreek? 

In die volgende artikels kan meer gelees word oor die rol van mutasies (elke artikel beskryf ‘n mutasie wat ‘n nuwe kenmerk in ‘n organisme teweeggebring het) : 

Negoro SK, Kato K, Fujiyama K en Okada H 1994 Biodegradation 5, 185-194

Thomas D nd http://www.nmsr.org/nylon.htm

Beide handel oor ‘n mutasie wat bakterieë in staat stel om nylon-oligomere af te breek. 

Francis JE en Hansche PE 1973 Genetics 70, 59-73 – oor die vermoë van gisselle om aan te pas by ‘n omgewing met ‘n lae fosfaatkonsentrasie 

Hall BG en Zuzel T 1980 Proc Nat Ac Sci US 77(6) 3529-33 – oor die vermoë van E. coli om galaktosielarabinose te hidroliseer.  

Boraas ME, Seale DB en Boxhorn JE 1998 Evolutionary Ecology 12, 153-164 – oor die ontstaan van multisellulariteit. 

Lin ECC en Wu TT 1984 In : Microorganisms as a Model for Studying Evolution (red RP Mortlock), Plenum, New York – oor E. coli se aanpassing om propaandiol te metaboliseer. 

Hartley BS 1984 vir verwysing sien Lin en Wu – oor die evolusie van ‘n metaboliese weg by Klebsiella om 5-koolstof suikers te metaboliseer. 

Ons lees dan voorts op bladsy 17 : "Geen mens sal dink dat ‘n klomp speelgoedletters wat uit ‘n houer val vanself op ‘n sinvolle manier sal orden nie. Daar is ‘n verstand nodig om met die ordeningsproses te help. So is die DNS kode van alle diere ‘n komplekse en geordende versameling van inligting. Sulke kompleksiteit dui op ‘n intelligente ontwerper. Daar is ‘n duidelike boodskap en dit dui noodwendig op ‘n Boodskapper." 

Was dit ook hierdie boodskapper wat die boodskap vir o.a. Lesch-Nyhan sindroom of Huntington se chorea (of vele ander aaklige siektes) in menslike genome ingeweef het? Die gene daarvoor is ook ‘n geordende versameling van inligting. Waarom is DNS nou juis die uitgesonderde molekuul wat op ‘n sg "boodskapper" moet dui? Waarom kan bv die orbitale van die koolstofatoom of die Krebs-siklus nie ook hierdie rol vervul nie?  

Ons word verder vertel, steeds op bladsy 17 : "Volgens die evolusieteorie moes die hoeveelheid inligting wat DNA bevat, toegeneem het soos wat die kompleksiteit van organismes verhoog het. Uit al die miljoene eksperimente wat al oor mutasies gedoen is, was daar nog nie een waartydens genetiese inligting deur mutasie tot DNA toegevoeg is nie. In al die eksperimente is dit die verlies van genetiese inligting wat ‘n fisieke verandering (mutasie) teweegbring. Die bewering dat genetiese inligting deur middel van mutasies progressief ontwikkel het, is direk in stryd met alle eksperimentele resultate." 

Mens moet jouself afvra of die skrywer van die "studiestuk" al ooit ‘n basiese handboek oor genetika onder oë gehad het. Dit kom nie so voor nie. Sy stelling is belaglik verby en dit is verstommend dat iemand wat ooglopend so onkundig oor genetika is homself bevoeg ag om iets daaroor te skryf. Die wetenskaplike literatuur is besaai met artikels wat die teendeel bewys. Dit is regtig nie aanvaarbaar dat niksvermoedende lesers aan sulke leuens blootgestel word nie. 

Om ‘n basiese en eenvoudige voorbeeld te noem : enigiets wat deur ‘n mutasie teweeggebring kan word, kan ook deur ‘n mutasie omgekeer word. As daar bv. ‘n puntmutasie iewers op ‘n geen plaasvind kan die verandering wat dit tot gevolg het doodeenvoudig weer omgekeer word deur ‘n mutasie wat die omgekeerde effek het en siedaar! – informasie is tot die genoom toegevoeg. 

In die volgende artikels kan gelees word oor informasie wat tot die genoom toegevoeg word dmv mutasies : 

Lenski RE 1995 In : Population Genetics of Bacteria, Society for General Microbiology, Symposium 52, (red S Baumberg), Cambridge University Press.

Lenski RE, Rose MR, Simpson SC en Tadler SC 1991American naturalist 138, 1315-1341. 

Bg artikels beskryf die toename in genetiese variasie in ‘n populasie. 

Alves MJ, Coelho MM en Collares-Pereira MJ 2001 Genetica 111(1-3), 375-385

Brown CJ, Todd KM en Rosenzweig RF 1998 Molecular Biology and Evolution 15(8),931-942

Hughes AL en Friedman R 2003 Genome Res 13(5) 794-799

Lynch M en Conery JS 2000 Science 290, 1151-1155

Ohta T 2003 Genetica 118(2-3) 209-216

Knox JR, Moews PC en Frere J-M 1996 Chemistry and Biology 3, 937-947

Prijambada JD, NegoroS, Yomo T en Urabe I 1995 Appl and Env Micobiology 61(5), 2020-2022 

Bg artikels beskryf werklike, waargenome toenames in genetiese materiaal en inligting. Laat ons, ter wille van die interessantheid, kyk na die opsomming aan van Brown et al se artikel om aan te toon hoe onkundig die skrywer van die "studiestuk" oor genetika is. 

Hulle skryf : "When microbes evolve in a continuous, nutrient-limited environment, natural selection can be predicted to favor genetic changes that give cells greater access to limiting substrate. We analyzed a population of baker’s yeast that underwent 450 generations of glucose-limited growth. Relative to the strain used as the inoculum, the predominant cell type at the end of this experiment sustains growth at significantly lower steady-state glucose concentrations and demonstrates markedly enhanced cell yield per mole glucose, significantly enhanced high-affinity glucose transport, and greater relative fitness in pairwise competition. These changes are correlated with increased levels of mRNA hybridizing to probe generated from the hexose transport locus HXT6. Further analysis of the evolved strain reveals the existence of multiple tandem duplications involving two highly similar, high-affinity hexose transport loci HXT6 and HXT7. Selection appears to have favored changes that result in the formation of more than three chimeric genes derived from the upstream promoter of the HXT7  gene and the coding sequence of HXT6. We propose a genetic mechanism to account for these changes and speculate as to their adaptive significance in the context of gene duplication as a common response of microorganisms to nutrient limitation." 

Sommer net in een joernaal, nl. Cell, kan gelees word oor toenames in genomiese informasie :  

Lu Y, Hall T, Gay LS en Donelson JE 1993 Cell 72 (3) 397-406.

Lehrman LA, Goldstein JL, Russell DW en Brown MS 1987 Cell 48(5) 827-835

Chen C-J, Chin, JE, Ueda K, Clark DP Pastan I Gottesman MM en Roninson IB 1986 Cell 47(3) 381-389

Lehrman MA, Goldstein JL, Brown MS, Russell DW en Schneider WJ 1985 Cell 41(3) 735-743

Mekalanos JJ 1983 Cell 35(1) 253-263

Bentley DL en Rabbitts TH 1983 Cell 32(1) 181-189. 

Eksperimente met vrugtevlieë deur Seymour Benzer word beskryf in die pragtige boekie "Time, Love, Memory" deur Jonathan Weiner, uitgegee deur Vintage Books. Die titel is afgelei van Benzer se eksperimente met gene wat paringsgedrag, sirkadiese siklusse en geheue betrek. Benzer het daarin geslaag om nuwe informasie tot die genoom toe te voeg en sommer in die proses ‘n nuwe spesie tot stand laat kom. 

Mutasies kan op ‘n hele paar wyses plaasvind, maar die mees algemene meganisme is geenduplikasie. Hierdie verskynsel is geensins ‘n diep verborge geheim nie en die belang en voorkoms daarvan is algemene kennis. Geenduplikasie beteken dat gene gedupliseer word, en dit het verreikende implikasies vir die hoeveelheid informasie in ‘n genoom en wat met daardie informasie gebeur. Informasie hieroor is in enige genetika-handboek te vinde. Dit is verstommend dat die skrywer van die "studiestuk" onbewus is van hierdie verskynsel. Lesers word versoek u om PubMed te Google en dan "gene duplication" in te tik as soekterm. Op 10 Februarie 2007 is 5047 resultate gekry. Een artikel, deur Wu W, Niles EG, El-Sayed N, Berriman M en Loverde PT 2006 Gene 2006 Jan 4 se titel is : Schistosoma mansoni (Platyhelminthes, Trematoda) nuclear receptors : Sixteen new members and a novel subfamily.  

Die abstrak lui : "Nuclear receptors (NRs) are important transcriptional modulators in metazoans. Sixteen new NRs were identified in the Platyhelminth trematode, Schistosoma mansoni. Three were found to possess novel tandem DNA-binding domains that identify a new subfamily of NR…..Phylogenetic analysis shows that more than half of the S. mansoni nuclear receptors evolved from a second gene duplication As the second gene duplication of NRs was thought to be specific to vertebrates, our data challenge the current theory of NR." 

En dan lees ons in die "studiestuk" dat "Uit al die miljoene eksperimente wat al oor mutasies gedoen is, was daar nog nie een waartydens genetiese inligting deur mutasie tot DNA toegevoeg is nie". Watter louter snert! 

Oor entropie lees ons die volgende op bladsy 18 : "Hoewel die son konstant energie aan die geslote sisteem van die aarde verskaf…" 

Flippit! Die aarde is nie ‘n geslote sisteem nie – soos die skrywer van die "studiestuk" trouens self te kenne gee wanneer hy sê dat die son konstant energie aan ons planeet verskaf. In ‘n oop sisteem kan sisteme spontaan organiseer omdat daar energie van buite toegevoeg word. Dalk moes die skrywer die navorsing van Ilya Prigogine, wat die Nobeplprys in 1973 gekry het, gaan naslaan het om te sien tot watter mate sisteme selforganiserend kan wees. Sy stelling dat die "blote toevoeging van energie" nie genoeg is om kompleksiteit daar te stel nie is ‘n ietwat flouerige poging om die feit dat evolusie nie teen die tweede wet indruis nie te verdoesel. Waarom is dit nie genoeg nie? Wat is sy verwysing(s) en watter data/berekenings staaf sy stelling? 

Die tweede wet sê essensieël dat die entropie van ‘n geslote sisteem nie kan verminder nie. Entropie is ‘n aanduiding van bruikbare energie. Dit het nie noodwendig met informasie te doen nie. Nie dat dit saak maak nie – soos enige skoolkind weet is die aarde is nie ‘n geslote sisteem nie. 

Oor fossiele lees ons op bladsy 20 dat "Dus help dit nie om ‘n spesie te vind wat lyk of dit half vis en half amfibies is, maar reeds volledig funksioneel nie….So ‘n volledig gevormde spesie dui nie op ontwikkeling nie, maar eerder op variasie wat nie meer vandag bestaan nie." 

‘n Uiters interessante stelling. In watter handboek oor biologie staan dit? Van watter organisme is so ‘n dierasie ‘n "variasie" en waarom word hierdie variasie nie meer vandag aangetref nie? Waarom mag ‘n oorgangsvorm nie volledig funksioneel wees nie? 

Ons lees op bladsy 20 "Die eerste probleem is dat daar ‘n afwesigheid van ondersteunende fossiele vir die evolusieteorie is….al die fossiele wat as sogenaamde oorgangsspesies (sic) uitgeken is, is aanvegbare voorbeelde." 

Dit is alles behalwe die geval, soos ons later sal sien. 

Dan ook : "Behalwe dat daar geen oorgangsspesies (sic) gevind word nie, verskyn nuwe organismes …skielik in die fossielrekord." Daar is reeds vroeër aangedui dat dit geensins die geval is nie. 

"Dit gebeur ook dikwels dat fossiele wat volgens die evolusieteorie nie gelyktydig behoort te bestaan nie (eenvoudig sowel as baie kompleks) saam in rotslae gevind word. Spesies wat veronderstel is om baie ouer as ander te wees, kom saam met nuwere spesies voor. Indien hulle saam bestaan het, is die een nie werklik die voorgeslag van die ander nie, hulle is net verskillende spesies."  

Geen voorbeelde word genoem van sulke fossiele wat nie gelyktydig behoort te bestaan nie en dus is ‘n respons nie moontlik nie. Dit kan wel gemeld word dat ‘n spesie wat oorsprong gegee het aan ‘n ander spesie nie noodwendig daarna moet uitsterf nie. Dit is darem werklik algemene kennis in die paleontologie. 

Op bladsye 20-21 lees ons : "Dit (Archaeopteryx) was ‘n organisme wat eienskappe van ‘n voël (funksionele vlerke met vere) en eienskappe van ‘n reptiel (kloue en tande) geopenbaar het. As daar met vooropgestelde idees daarna gekyk word, lyk dit definitief na ‘n goeie kandidaat vir ‘n oorgangsspesie (sic). Die Archaeopteryx was verseker ‘n heeltemal unieke spesie, heeltemal anders as enige spesie wat vandag bestaan. Die probleem vir die evolusieteorie is dat al die verskillende liggaams-eienskappe – reptiel en voël – van die Archaeopteryx ten volle gevorm en funksioneel is. Daar is geen teken van ‘n oorgangsorgaan nie. Dit is dus ‘n goeie voorbeeld van ‘n vreemde organisme, maar kan nie as die lang verwagte oorgangsspesie (sic) geïdentifiseer word nie." 

Of Archaeopteryx wel funksionele vlerke gehad het is ‘n ope vraag – dit is dus nie noodwendig "ten volle gevorm en funksioneel" nie en mens moet jouself afvra wanneer ‘n organisme nie ten volle gevorm is nie : wanneer dit slegs een vlerk/been/arm het? Maar kom ons laat dit nou maar daar. Die res van bostaande paragraaf is blote wensdenkery.  

Evolusioniste is nou al lankal gewoond aan die absurde kreasionistiese sienswyse van wat ‘n oorgangspesie nou eintlik is (soos te lese in die eerste paragraaf op bladsy 20 van die "studiestuk"), maar dit bly telkens interessant om te sien hoe kreasioniste ewe doodluiters hul eie definisie van ‘n oorgangsvorm daar stel sonder om enigsins ag te slaan op wat die werklikheid van die situasie is. Trouens, die definisie word dikwels versigtig so gekies dat dit  byna onmoontlik is om ‘n fossiel as ‘n oorgangsvorm te identifiseer. Die evolusie van eienskappe vind nie teen dieselfde tempo plaas nie en ook nie op dieselfde tyd nie. Sommige eienskappe ontwikkel vinnig, ander weer nie. ‘n Mooi gladde "halfpad"-vorm word dus nie gevind nie en ook nie verwag nie. Mens sou in der waarheid verwag dat ‘n oorgangsvorm sou bestaan uit ‘n mosaïek van eienskappe wat in sowel die voorgangers as die nasaat te vinde is. Indien daar wel enige tekens van sg. "oorgangsorgane" is dan is dit maar bloot per toeval daar en nie omdat so ‘n oorgangsorgaan inherent in die definisie van ‘n oorgangsvorm is nie. 

Hoe dit ook al sy, kom ons stel kortliks ondersoek in na die aard van Archaeopteryx en sy maters – want Archy, soos hy in die handel en wandel genoem word, is by verre nie die enigste oorgangspesie tussen dinosouriërs en voëls nie. Dit is egter duidelik dat die skrywer van die "studiestuk" daardie mening toegedaan is, anders sou hy Archy nie as ‘n helemaal unieke spesie beskryf het nie. Hierdie is maar net nog ‘n voorbeeld van die skreiende onkunde oor evolusie wat die skrywer van die "studiestuk" openbaar – en dan skaam hy homself nie eers daaroor nie! Baie ander vorms wat intermediêr is tussen Archy en dinosourusse en ook tussen Archy en voëls is gevind : Altangerel F, Norell MA, Chiappe LM en Clark JM 1993, Nature 362, 623-626 het Mononychus beskryf, wat sonder enige twyfel ‘n posisie inneem tussen Archy en moderne voëls – en hierdie is maar net een voorbeeld van die vele interessante oorgangsvorms wat tussen dinosouriërs en voëls te vinde is.  

Die benige struktuur van Archy se vlerke is anders as die van moderne voëls en ook anders as die voorste ledemaat van reptiele – is dit dalk die "oorgangsorgaan" wat die skrywer van die "studiestuk" verwag? Die skouergewrig is intermediêr tussen die van theropoda-dinosouriërs en voëls, soos gelees kan word in Jenkins FA 1993, Am J Sc., 293A, 253-267.  

Elzanowski A 1996, J Vertebrate Paleontology 16, 81-94 en Wellnhofer P 1993 Archaeopteryx 11, 1-47 het getoon dat die skedel ‘n mosaïek is van voël- en theropoda-kenmerke.  Dit bevat die volgende voëleienskappe : ‘n palatine been sowel as ‘n maksillêre been en ook ‘n haakvormige choanale proses met ‘n pterigoïed. Theropoda-eienskappe word ook aangetref, nl. ‘n enkele vomer en ‘n haakvormige jugale proses van die ektopterigoïed.  

Alexander RM 1990 Animals, Cambridge University Press, het Archy se brein ondersoek en gevind dat die serebrale hemisfere dun en verleng is en dat die serebellum agter die midbrein geleë is en dit nie oorvleuel of afdruk nie. Wanneer dit vergelyk word met die breins van reptiele en voëls dan vind mens dat dit as ‘n intermediêre stadium tussen hierdie twee groepe beskou kan word. 

Meer onlangse ondersoeke van Archy se brein dmv X-straal tomografie toon dat Archy se brein intermediêr is tussen die van theropoda en voëls (Alonso PD, Milner AC et al 2004 Nature 430, 666-669). 

Soos reeds genoem is daar baie fossiele wat die oorgang tussen dinosouriërs en voëls aandui (dws verskillende spesies) en enige leser sal besonderhede omtrent hierdie diere sonder veel moeite kan opspoor. Archaeopteryx is lank reeds nie meer ‘n geïsoleerde oorgangsfossiel nie. As mens na die stamboom van moderne voëls kyk dan sien mens bokant Archy ‘n hele reeks van die theropoda-dinosouriërs wat met verloop van tyd meer en meer voëlagtig word, en onder dit weer talle spesies wat die ruimte tussen Archy en moderne voëls vul. Hierdie reeks fossiele strek oor nagenoeg 140 miljoen jaar en dokumenteer die evolusie van moderne voëls op ‘n onbetwisbare wyse. 

Volgens die skrywer van die "studiestuk" moet ons aanvaar dat Archy slegs ‘n ietwat eienaardige organisme was maar geen oorgangsvorm nie. Sy latere stellings in ag genome beteken dit eintlik dat die sg. intelligente ontwerper(s) so elke nou en dan, in ‘n vlaag van kreatiwiteit, nuwe organismes die lig laat sien het sonder dat daar enige evolusionêre oorgang tussen daardie organisme en sy voorgangers bestaan het – Philip Johnson se "slow creation" neem ek aan. 

Kom ons pas hierdie sienswyse toe op die evolusionêre geskiedenis van voëls. Volgens die evolusieteorie (en ook die fossielrekord) het o.a. die volgende eienskappe met verloop van tyd ontstaan, meestal so een na die ander : (1) ‘n hart met vier kamers, (2) ‘n hand met vier vingers, (3) ‘n drie-gevingerde hand met saamgesmelte distale karpale 1 en 2 met ‘n troglea wat beweging in ‘n laterale vlak beperk, (4) filamenteuse vere en langer hande, (5) ‘n vergrote semilunaat karpaal met musculus extensor metacarpi ulnaris wat inplanteer op die agterkant van die hand, (6) musculus extensor metacarpi radialis wat inplanteer op die rand van metakarpaal 1, (7) vlugvere (8) alula (9) volledig geïntegreerde en komplekse vliegsisteem. 

Hierdie veranderinge het plaasgevind vanaf die Krokodiliane tot by eietydse voëls. Skynbaar dink die skrywer van die "studiestuk" dat Archy die enigste oorgangsfossiel is tussen dinosouriërs en voëls. Hy vra ons om die volgende te aanvaar : die intelligente ontwerper het so elke nou en dan die volgende organismes, wat begin het as dinosouriërs maar mettertyd al meer en meer kenmerke van moderne voëls begin toon het, een na die ander laat verskyn en een na die ander laat uitsterf in presies die regte volgorde en in die verwagte lae van die geologiese kolom wat mens sou verwag as voëls uit dinosouriërs ontstaan het

Eoraptor, Herrerasaurus, Ceratosaurus, Allosaurus, Composognathus, Sinosauropteryx, Protoarchaeopteryx, Caudipteryx, Velociraptor, Sinovenator, Beipiaosaurus, Sinornithosaurus, Microraptor, Archaeopteryx, Rahonavis, Confuciosornus, Sinornis, Patagopteryx, Hesperornis, Apsaravis, Ichthyornis en Columba, om net ‘n paar te noem. Al hierdie gediertes toon ‘n spektrum van die morfologie wat mens by oorgangsvorme sou verwag. Onthou asseblief ook dat die fossiele van hierdie oorgangsvorms nie sommer op enige plek in die geologiese kolom voorkom nie, maar in presies die lae waar mens hulle sou verwag!  

Dit is seker moontlik dat die intelligente ontwerper so kon opgetree het maar dan moet mens beslis begin wonder oor sy persoonlikheid. Hy/sy/dit/hulle het sonder enige twyfel, wel, ‘n ietwat aweregse humorsin (om dit saggies te stel) as die fossielrekord so saamgestel is dat als lyk na evolusie maar dat dit in werklikheid nie plaasgevind het nie! Bo en behalwe wat hierbo genoem is, het hy/sy/dit/hulle dan ook daarvoor gesorg dat T. rex, wat beskou word as om op die lyn tussen dinosourusse en moderne voëls te lê, ook oor ‘n medullêre been beskik, net soos moderne voëls (Schweitzer M 2005 Science 308, 1456). Let asb daarop dat die ontdekking van T. rex se medullêre been gemaak is lank nadat die posisie van hierdie dinosouriër in die stamboom van voëls vasgestel is. 

Veronderstel dat organismes A, B en C bestaan, en B is sodanig dat dit as oorgangsvorm tussen A en C beskou word, dan sal van die fossielrekord verwag word om te toon dat daar ‘n kontinuum bestaan tussen die verskynings en verdwyings van A, B en C (en moontlike ander tussengangers). Die onvermydelike gebreke van die rekord in ag genome is dit dan ook wat die evolusieteorie ons vertel. Die intelligente ontwerper(s) daarenteen word geensins gedwing om die betrokke organismes in hierdie volgorde te skep nie en kan A, B en C in enige volgorde laat voorkom, net soos die gier hom/haar/dit/hulle beetpak. Tog vind ons nie so ‘n toedrag van sake in die fossielrekord nie. Nou waarom sou hierdie intelligente ontwerper(s) ons so om die bos wil lei? En dan het die skrywer van die sg. "studiestuk" sowaar die vermetelheid om te skimp dat paleontoloë met "vooropgestelde idees" na Archy kyk! As mens al bostaande maklik bekombare inligting in ag neem wonder ek wie nou eintlik met "vooropgestelde idees" na Archy kyk! 

Daar bestaan natuurlik ook sommer baie ander oorgangsfossiele, die bewering van die skrywer van die studiestuk ten spyt. Net een voorbeeld sal kortliks bespreek word. 

Alhoewel Archy verreweg die bekendste van die oorgangsfossiele is, is dit nie die beste voorbeeld nie. Die fossielrekord van die oorgang tussen reptiele en soogdiere is sonder twyfel die volledigste en die bes bestudeerde van alle oorgange en gedetailleerde reekse fossiele demonstreer hoe hierdie oorgang plaasgevind het. Slegs ‘n paar van die baie oorgangsvorme sal genoem word. 

Soogdiere het ontstaan uit ‘n klas Permiaanse en Triassiese reptiele bekend as Therapsidae. Taksonomies word soogdiere onderskei deur die besit van hare en mammas, maar hierdie kenmerke fossileer nie juis maklik nie. Gelukkig besit soogdiere darem ook ander kenmerke, veral in die skedel en tande. Reptiele besit meer bene in hul skedel as soogdiere en hul tande het almal dieselfde koniese vorm, alhoewel hulle natuurlik in grootte mag wissel, terwyl soogdiere verskillende tipes tande besit. 

Reptiele se onderkaak bestaan uit verskeie bene en die kaakgewrig word gevorm uit die kwadraatbeen in die skedel en die angulêre been in die onderkaak. In soogdiere daarenteen bestaan die onderkaak uit ‘n enkele been, die dentaal, wat artikuleer met die skwamosale been in die skedel om die kaakgewrig te vorm. 

Reptiele het ‘n enkele been in die middeloor, die stapes. Soogdiere daarenteen het drie bene, die malleus, incus en stapes.  

Bo-op die skedel het reptiele ‘n klein opening waardeur die pineaalliggaam soms druk, bekend as die sg. "derde oog". Hierdie opening is afwesig in soogdiere. 

Laastens het reptiele se oksipitale kondiele, die kontakpunt tussen die skedel en die werwelkolom, slegs een faset terwyl soogdiere twee fasette het.  

Die Therapsidae besit menige eienskappe wat in sowel reptiele as soogdiere aangetref word : 

"In advanced forms, the skull was intermediate in type between that of a primitive reptile and a mammal; many of the bones absent in mammals were on their way toward reduction or were already lost. A small third eye was still generally present in the top of the skull, but the opening was a tiny one." (Romer AS 1967 The Vertebrate Story University of Chicago Press). 

"The differentiation of the teeth progressed in the therapsids to high levels of development, with the advanced genera showing sharply contrasted incisors, canines, and cheek teeth, which in some of these reptiles were of complex form, often with accessory cusps or broad crowns. In many therapsids, the occipital condyle became double, as in the mammals." (Colbert E en Morales M 1991 Evolution of the Vertebrates, Wiley-Liss, New York. 

"In many respects, the tritylodont skull was very mammalian in its features…..Yet, in spite of these advances, the tritylodonts still retained the reptilian joint between the quadrate bone of the skull and the articular bone of the lower jaw. It is true that these bones were very much reduced, so that the squamosal bone of the skull and the dentary bone of the lower jaw (the two bones involved in the mammalian jaw articulation) were on the point of touching each other." (Colbert & Morales, op. cit.) 

Ons het reeds gesien dat reptiele een been in die middeloor het en verskeie bene in die onderkaak. Dit is ook belangrik om daarop te let dat die kaakgewrig by reptiele gevorm word uit ander bene as die wat betrokke is by dieselfde struktuur by soogdiere. Derhalwe is dit duidelik dat die kaakgewrig, gedurende die evolusionêre oorgang van reptiel tot soogdier, van een been na ‘n ander moes verskuif het en dat dit die ander bene vrygestel het om die gehoorbeentjies in die middeloor van soogdiere te vorm. 

Dus : ‘n oorgangsvorm moes twee gewrigte gehad het (soos in moderne ratelslange) en hierdie fase is gevolg deur ‘n samesmelting van die onderste gewrig. Hierdie oorgang kan duidelik gesien word in ‘n besondere reeks fossiele van die Therapsidae wat uit die Triassiese tydperk dateer. Die vroegste Therapsidae toon ‘n tipiese reptiliaanse kaakgewrig met die artikulerende bene in die kaak geheg aan die kwadraatbeen in die skedel. Meer resente fossiele se kwadraatbene het kleiner geword en die dentale en skwamosale bene het vergroot en nader aan mekaar beweeg. Hierdie neiging het sy toppunt bereik in ‘n groep Therapsidae bekend as Cynodonts, waarvan die genus Probainognathus waarskynlik die mees tipiese voorbeeld is. Probainognathus het kenmerke van sowel reptiele as soogdiere en die feit dat dit twee kaakgewrigte besit het (een reptiliaans en een soogdieragtig) het sy aard as oorgangsfossiel beklemtoon. 

Ons lees in Colbert en Morales : "Probainognathus, a small cynodont reptile from the Triassic sediments of Argentina, shows characters in the skull and jaws far advanced toward the mammalian condition. Thus it had teeth differentiated into incisors, a canine and postcanines, a double occipital condyle and a well-developed secondary palate, all features typical of mammals, but most significantly the articulation between the skull and lower jaw was on the very threshold between the reptilian and mammalian condition. The two bones forming the articulation between the skull and mandible in the reptiles, the quadrate and articular respectively, were still present but were very small, and loosely joined to the bones that constituted the mammalian joint… Therefore in Probainognathus there was a double articulation between the skull and jaw…It quite obviously was well on its way towards being the incus bone of the three-bone complex that characterizes the mammalian middle ear." 

In ‘n latere groep, die Ictidosouriërs, is die soogdieragtige deel van die dubbele kaakgewrig wat in Probainognathus te sien was versterk  terwyl die reptiliaanse deel kleiner geword het. Die Therapsidae-soogdier oorgang het volledig geword met die verskyning van die Morganucodonte gedurende die laat Triassiese periode. Kemp TS 1982, Mammal-like Reptiles and the Origin of Mammals, Academic Press, London, beskryf hulle as volg : "The axes of the two jaw hinges, dentary-squamosal and articular-quadrate, coincide along a lateral-medial line, and therefore the double jaw articulation of the most advanced Cynodonts is still present…The secondary dentary-squamosal jaw hinge had enlarged and took a greater proportion if not all of the stresses at the jaw articulation, the articular-quadrate hinge was free to function solely in sound conduction." 

Oftewel dan : die fossielrekord toon dat die oorgang van Therapsidae na soogdiere gepaard gegaan het met die stadige migrasie van bene in die skedel sodat hulle later ‘n tweede funksionele kaakgewrig gevorm het, terwyl die "oorbodige" bene verklein het en later die drie beentjies van die soogdier se middeloor geword het. Hierdie proses het byna die hele Triassiese periode geneem (nagenoeg 40 miljoen jaar. 

Hieronder is ‘n lys van die diere wat betrokke was by die oorgang. Dit begin met die pelycosurusse (vroeë synapsiede reptiele) en gaan via die therapsiede en cynodontia tot by die eerste herkenbare soogdier. 

Paleothyris

Protoclepsydrops

Clepsydrops

Archaeothyris

Varanops

Haptodus

Dimetrodon,

Biarmosuchia (een van die eerste Therapsidae)

Prosynosuchus (die eerste cynodont)

Dvinia

Thrinaxodon

Cynognathus

Diademodon

Probelesodon

Probainognathus

Exaeretodon

Oligokyphus (lid van die tritylodintia)

Pachygenelus

Adelobasileus

Sinocodon

Kuehneotherium

Eozostrodon (lid van die Morganocodonte)

Peramus

Endotherium

Steropodon

Vincelestes

Kennalestes

Cimolestes 
 

Elkeen van bogenoemde diere is ‘n skakel in die oorgang van reptiele na soogdiere – maar as ons nou die skrywer van die "studiestuk" se stelling oor Archy na hierdie oorgangsreeks moet transplanteer, nl. dat hierdie diere bloot eienaardige organismes was, dan moet ons glo dat die intelligente ontwerper(s) elkeen van hierdie diere meteens laat verskyn en weer laat uitsterf het. Voorwaar iemand met ‘n rare, dalk selfs sluwe, sin vir humor! 

Op bladsy 21 lees ons oor die "onwelkome gaste" wat in die Kambriese tydperk gevind word en hoe dit kwansuis die evolusieteorie weerspreek. Ons word vertel "Daar is geen tekens van enige voorafgaande evolusionêre opbou nie." Hierdie stelling is nonsens en is ‘n ou laai van kreasioniste. Daar bestaan soveel publikasies oor Prekambriese fossiele dat mens regtig moet moeite doen om dit mis te kyk. Hieronder is slegs ‘n paar verwysings na die baie artikels in vaktydskrifte waar mens oor hierdie fossiele kan lees. 

Analol’yeva AI, Kharkov MA en Sovetov YK 1966 Academy of Sciences of the USSR Reports 166, 413-416, Engelse vertaling deur die American Geological Institute, 1966.

Awramik SM 1984 in Microbial Mats (red Cohen Y, Castenholz RW en Halvorson HO) Alan Liss, New York.

Barghoorn ES, Meinschein WG en Schopf JW 1965 Science 148, 461-472.

Bertrand-Sarfati J 1976 in Stromatolites (red Walter MR) Elsevier, Amsterdam.

Bertrand-Sarfati J en Walter MR 1981 Precambrian Res 15, 353-371.

Caster KE 1984 Science 223, 1129-1130.

Chen J-Y, Bottjer DJ, Oliveri P et al 1004 Science 305, 218-222.

Chumakov NM en Semikhatov MA 1981 Precambrian Res 15, 119-253.

Clemmey H en Badham N 1982 The Geographical Rev 10, 141-146.

Cloud PE en Morrison K 1979 Precambrian Res 9, 81-91

Cowie JW 1967 in The Fossil Record, Geological Soc London.

Cowie JW en Johnson MRW 1985 in The Chronology of the Geological Record (red Snelling NJ)  Geological Soc London

Ford TD 1979 in The Origin of the major Invertebrate Groups (red House RM) Systematics Assoc Publication no 12.

Glaessner MF en Wade M 1966 Paleontology 9, 599-628.

Grotzinger JP, Bowring SA, Saylor BZ en Kaufman AJ 1995 Science 270, 598-604

Hoffman HJ 1977 Precambrian Res. 5, 175-205.

Khomentovsky VV 1986 Geological Magazine 123, 333-348.

Knoll, AH en Barghoorn ES 1977 Science 198, 396-398.

McKirdy DM 1974 Precambrian Res 1, 75-137.

Meinschein WG, Barghoorn ES en Schopf, JW 1982 Science 145, 262-263.

Mendelson CV en Schopf JW 1982 J Paleontology 56, 42-83.

Monty CLV 1977 in Evolving Concepts on the Nature and Ecological Significance of Stromatolites – a review (red Fuegel F) Springer-Verlag.

Mueller G 1972 Nature 235, 90-95.

Seilacher A 1984 in Patterns of Change in Earth Evolution (red Holland HD en Trendall AF) Springer-Verlag, Berlyn.

Sharp RP 1840 Geological Soc Am Bull 51, 1235-1270.

Stanley SM 1973 Proc Nat Acad Sc 70, 1486-1489. 

Die skrywer van die "studiestuk" het seker maar Phillip Johnson se mening huidjie en muidjie aanvaar (Johnson PE 1998 First Things 79 14-16) sowel as vele ander kreasionistiese geskrifte van o.a Gish, Davis en Robinson.  

Navorsing wat tydens die afgelope 15 jaar, maar veral die laaste twee jaar gepubliseer is het ons sienswyse oor Prekambriese lewensvorme radikaal verander. Terwyl daar ouer interpretasies is oor die verhouding van Prekambriese lewe tot moderne organismes (bv die van Seilacher) toon nuwe data bewyse van verwantskappe tussen Ediacaraanse fauna en die van die vroeë Kambriese tydperk. Slegs ‘n vlugtige bespreking sal gegee word van die evolusionêre verwantskappe tussen die Prekambriese wurmagtige organismes en die arthropoda, mollusca, brachiopoda en annelida – vier verskillende filums. Die sienswyse dat die meerderheid van filums tydens die Kambriese periode ontstaan het (soos meegedeel deur die skrywer van die "studiestuk") is doodeenvoudig vals. 

Die Kambriese/Prekambriese grens word nie meer beskou as ‘n waterskeiding waar lewe op aarde meteens ontstaan het nie. Daar is ‘n kontinuum van lewe oor hierdie grens soos ons kan sien in die artikel deur Grozinger et al. Voorbeelde van meersellige lewe so lank terug as 680 miljoen jaar is onlangs gevind (Pagel M 1999 Nature 401 877-884.) Die huidige sienswyse is dat verskeie filums tydens die Prekambriese tydperk te voorskyn gekom het en dat hulle dus nie deel vorm van die sg "Kambriese ontploffing" nie.  

Oor die filum Mollusca kan ons lees in Fedonkin MA en Waggoner BM 1997 Nature 388, 868-871,

oor die filum Annelida in Cloud P en Glaessner MF 1982 Science 217, 199-204,

oor die filum Cnidaria in Conway Morris S 1998 in The Crucible of Creation Oxford University Press,

oor die filum Arthropoda in Waggoner BM 1996 Syst Biol 45, 190-222. 

Wurmgate is gevind wat tydens die laat Prekambriese tydperk, gedurende die Vendiaanse periode (620-540 miljoen jaar gelede) gevorm is. Gefossileerde larwes van gesegmenteerde wurms is gevind in die Doushantuo-formasie in China (570-520 miljoen jaar gelede, sien Bengtson S en Zhao Y 1997 Science 277, 1645. Aangesien die enigste bewyse van makroskopiese lewe voor die Vendiaanse tydperk die van wurms was is dit redelik om te aanvaar dat die verskillende filums van die diereryk uit hierdie wurms moes ontwikkel het. 

Die eerste fossiel van so ‘n wurm is soortgelyk aan die lobopoda (Aysheaia) en mens word dan ook herhinner aan Anomalocaris wat verwant is aan die lobopoda (Conway Morris S 1998 The Crucible of Creation, Oxford University Press en Budd GE 1998 Lethaia 31, 197-210). Terwyl Aysheaia nie ooglopend aan die artropoda verwant is nie besit Anomalocaris ‘n kenmerkende eienskap van die arthropoda, nl. twee "bene" wat na aan die voorkant geleë is. Dit het dus eienskappe (want dit besit ook ‘n waaieragtige stertprojeksie en sterflappe) wat dit skakel met die lobopoda en die arthropoda, maar meer nog : die mond toon ooreenkomste met aschelmintiese wurms. (Sien Collins D 1996 Journal of Paleontology 70, 280-293) 

Die sg "eksplosiewe" aard van die Kambriese tydperk sal later bespreek word, maar laat ons vir eers net na die Kambriese  fossielrekord kyk. Ons het dus in die Prekambriese rekord fossiele van wurms, lobopodia, Anomalocaris en artropoda, en hierdie fossiele toon kenmerke van oorgangsvorms. Gesien die baie hoë ouderdom van die rotslae waarin die fossiele gevind word, is dit werklik merkwaardig dat hulle nog bestaan. Die fossielrekord oor die algemeen is uit die aard van die saak nie volledig nie, maar die Prekambriese en Kambriese lae toon agv hul ouderdom nog meer (verstaanbare) gebreke in hierdie verband..  

Die evolusionêre geskiedenis van die Brachiopoda begin met Halkieria evangelista in 525-miljoen jaar oue rotse in Groenland. Hierdie fossiel toon ooreenkomste met Brachiopoda uit die Kambriese tydperk (sien Moore RC, Lalicker CG en Fischer AG 1952 in Invertebrate Fossils, McGraw-Hill, New York)  

Eweneens kan mens ‘n lyn trek tussen Halkieria en Mollusca en die Annelida. Daar is dus bewyse vir evolusie op die vlak van die filum, die bewerings van kreasioniste ten spyt.  

Nogtans skryf die IO-ondersteuner Walter Bradley (Bradley W 1999 in Three Views on Creation and Evolution (red Moreland JP en Reynolds JM) Zondervan, Grand Rapids) : "The Cambrian explosion of all of the major animal phyla in a very short five-million-year time period remains one of the greatest mysteries of origins research today."  

Robert Newman (Newman RC 1999, verwysing soos bo genoem in Bradley) skryf : "Rather, new types of plants and animals regularly seem to show up without any record of close predecessors. This is especially true of the so-called ‘Cambrian explosion,’ where all the major body plans (phyla) of the animals appear in just five or ten million years…with nothing comparable having happened before or since."  

Toe Bradley en Newman hierdie woorde geskryf het was al bogenoemde informasie beskikbaar. Vrylik beskikbaar. Algemeen bekend. 

Dit is duidelik dat IO-ondersteuners hul nie vergewis het van die ware toedrag van sake mbt die Kambriese en Prekambriese tydperke nie. In der waarheid het slegs 9 filums in die Kambriese tydperk verskyn en 4 in die (Prekambriese) Vendiaanse tydperk. Nie minder nie as 20 filums het na die Kambrium hul verskyning gemaak. 

Tot sover dan die Prekambriese tydperk en die lewensvorme wat daarin aangetref word. Laat ons die hele kwessie van die sg. Kambriese ontploffing van nader beskou. In  
"Intelligent Design in Public School Science Curricula : A Legal Guidebook" deur David DeWolf en Stephen Meyer lees ons : "In recent years the fossil record has also provided new support for design, fossil studies reveal a "biological big bang" near the beginning of the Cambrian period 530 million years ago. At that time roughly fifty separate major groups of organisms or "phyla" (including most of the basic body plans of modern animals) emerged suddenly without evident precursors…Moreover, the fossil record shows a "top-down" hierarchical pattern of appearance in which major structural themes or body plans emerge before minor variations on these themes." 

Hierdie tipe geskrif is duidelik gemik op die wetenskaplik naïewe leser, iemand wat beïndruk sal word deur die skynbare wetenskaplike argumente wat opgedis word. (Dalk die skrywer van die "studiestuk"?) Uit ‘n wetenskaplike oogpunt hou sulke stellings egter geen water nie. Daar is bv. geen vereiste vir ‘n "bottom-up" patroon nie en die wyse waarop die IO-ers die sg Kambriese ontploffing benadruk toon in der waarheid die armoede van hul feitelike basis. Dit is dus noodsaaklik dat die hele kwessie ivm die Prekambriese en Kambriese fossiele van nader bekyk word. 

Daar is goeie Darwiniaanse verduidelikings vir die verskynsels wat in hierdie gesteentes waargeneem word. Die sg "skielike" verskyning van gediertes in hierdie tydperk het oor ten minste ‘n paar tien miljoen jaar plaasgevind en was geheel en al nie ‘n "ontploffing" wat binne ‘n paar sekondes (geologies gesproke) afgespeel het nie. Budd GE et al 2001 Science Technical Comments 294, 2047a  argumenteer juis of mens hoegenaamd nodig het om te praat van ‘n Kambriese "ontploffing". Mens moet ook in gedagte hou dat Prekambriese diere geen of min harde (en dus maklik fossileerbare) liggaamsdele gehad het nie. Dit is wel ooglopend dat sulke liggaamsdele die eerste keer tydens die Kambriese tydperk ontstaan het. Die Chengjiang fosfaatneerleggings is een van die min uitsonderings waar sagte Prekambriese fossiele gevind word. 

Prekambriese fossiele is die van diere wat lank voor die Kambriese tydperk geleef het – die Prekambriese lae toon dat ‘n verskeidenheid van fauna reeds gedurende daardie tyd bestaan het. Dit wil sê : Kambriese diere het voorouers in die Prekambriese tydperk gehad, soos ons reeds gesien het.  

Die debat in paleontologiese kringe gaan nie eers oor of die Kambriese organismes wel Prekambriese voorouers gehad het nie, maar oor watter sienswyse meer korrek is : die meer populêre "bottom-up" sienswyse of die minder gewilde "top-down" opinie. Hierdie is basies ‘n argument oor volgorde van afstamming : wat het eerste ontwikkel – spesies (‘n spektrum kleiner groepe wat min of meer eenderse vorms gehad het) of filums (verskeie groepe van min of meer verskillende vorms).  

Die "bottom-up" aanhangers is van mening dat verskillende spesies, wat uit die aard van die saak hulself aan die onderkant van die taksonomiese hierargie bevind, eerste verskyn het, dws voor filums, wat die hoogste en mees inklusiewe kategorie is. Oftewel, uit een of ‘n paar voorgangers sal ‘n aantal baie eenderse spesies ontstaan waaruit die hoër kategorieë (genera, ordes, klasse, filums) mettertyd te voorskyn tree.  

Die "top-down" aanhangers stel dit dat die filums as sulks eerste verskyn het en dat vanuit hierdie filums die daaropvolgende organismes ontwikkel het. Kreasioniste interpreteer hierdie minderheidsienswyse dit egter asof dit impliseer dat daar een of ander vorm van spesiale skepping nodig was.  

Keith Miller skryf as volg : "The implications of much of the evangelical Christian commentary on macroevolution….is that the major taxonomic groups of living things remain clearly distinct entities throughout their history, and were as morphologically distinct from each other as they are today." 

Die kreasionistiese misbruik van "top-down" scenario toon hul onkunde oor die paleontologie van hierdie organismes en oor die taksonomie in die besonder. Taksa is nie op sig self "dinge" nie en het geen onafhanklike status nie, nog minder verteenwoordig hulle absolute en onbreekbare grense of grade van morfologiese verskil tussen organismes. Hulle is inderdaad slegs die name van groeperinge wat aan organismes toegeken word om hul studie te vergemaklik, om ‘n retrospektiewe ordening aan hulle te verleen sodat onderlinge verwantskappe en stambome uitgewerk kan word. Onthou : die natuur "weet" nie van sulke dinge soos taksa nie en "steur" haarself ook nie daaraan nie – taksa is geheel en al mensgemaakte goeters.  

Daar is geen vereiste dat die retrospektiewe plasing van twee Kambriese diere in verskillende filums beteken dat daardie organismes op daardie tyd soveel van mekaar verskil het as wat twee lukraak gekose eietydse organismes (uit bv Chordata en Mollusca) van mekaar verskil nie. Dawkins beskryf die valsheid van die "top-down" sienswyse baie goed : " It is as though a gardener looked at an old oak tree and remarked, wonderingly : ‘Isn’t it strange that no major new boughs have appeared on this tree for many years. These days, all the new growth appears to be at the twig level!" 

Josh McDowell se bespreking van eienskappe wat mense en diere verskillend maak toon heelwat gebreke, maar laat ons volstaan met enkele opmerkings. Primate gebruik ook konsepte wat met ekonomie te doen het, ten minste in laboratoriumstudies, en hulle toon ook ‘n basiese begrip van wat regverdig en onregverdig is. Frans de Waal se fassinerende boeke oor primaatgedrag kan gerus gelees word. 

Laat ons nou die tabel wat evolusie as wetenskap onder die loep neem beskou.  

Evolusie voorspel nie dat daar ‘n "duidelike en gladde toename in kompleksiteit in die fossielrekord" moet wees nie – dit voorspel wel dat die eerste organismes minder kompleks sal wees as die wat later volg, en dit is presies wat waargeneem word as die Prekambriese en Kambriese lewensvorme met die daaropvolgende tydperk vergelyk word. IO daarenteen maak geen sodanige voorspelling nie. 

Die evolusieteorie voorspel inderdaad dat daar geen voorbeelde van onverminderbare kompleksiteit sal bestaan nie, en aangesien daar tot op hede geen sulke voorbeelde bestaan nie is hierdie voorspelling nog nie vals bewys nie. 

Die stelling dat " ‘n Paar baie aanvegbare moontlike oorgangsspesies (sic) in die natuur ontdek" is absurd en belaglik, soos reeds aangetoon. 

"Spontane ontstaan van lewe en hoër vlakke van orde en kompleksiteit spontaan in die natuur moontlik" – maar daar bestaan wel heelwat voorbeelde van toenemende kompleksiteit in die natuur. 

Laat ons dan kyk na wat IO kwansuis voorspel. 

Ons lees dat IO die skielike verskyning van nuwe tipes fossiele voorspel. Wat van die talle voorbeelde van filetiese gradualisme wat genoem is? En waarom sou die skielike verskyning van nuwe tipes fossiele nie inpas by wat ons reeds weet van die fossielrekord nie?  

Kom ons kyk na aanhalings uit die onlangse hofsaak in Dover, Kansas, waar intelligente ontwerp ondubbelsinnig deur die regter verwerp is as om nie wetenskap te wees nie. Die aanhalings kom uit dag 11 van die hofsaak. Q dui op vrae deur een van die regsgeleerdes wat die IO-saak verdedig het, A is die antwoorde deur Michael Behe. 

Q : You indicated that intelligent design doesn’t require abrupt appearance, is that correct?  

A : Yes, that’s right. 

Q : Does it say anything directly about the pace of change? 

A : No. Again, intelligent design simply is the theory that designed features can be detected from the physical - - physical evidence of nature, it’s seen in the purposeful arrangements of parts, but it does not say anything directly about how fast such a thing might go, or other interesting questions. 

Q : And if there’s an abrupt appearance of fossils in the record, would that be consistent or inconsistent with intelligent design? 

A : It’s completely consistent with intelligent design. An abrupt appearance, a slow appearance; intelligent design does not speak to the pace of such things.  

Nou ja. Is dit nodig om meer te sê? 

"Tekens van hoë orde en hoë kompleksiteit in organismes" Ummmm…. Waarom sou die evolusieteorie nie dieselfde voorspel nie? Voorts is hierdie so effe van ‘n sirkelredenasie : daar bestaan hoë orde en kompleksiteit in die natuur, dus moet daar ‘n intelligente ontwerper wees. En o ja, omdat daar ‘n intelligente ontwerper is moet daar hoë orde en kompleksiteit in die natuur wees! 

"Verskeie voorbeelde van onverminderbare kompleksiteit." Watter voorbeelde? 

"Die vermoë van spesies om by veranderende omstandighede te kan aanpas." Presies hoe voorspel IO hierdie vermoë? Die evolusieteorie voorspel dit ook – en kan redes gee waarom dit die geval is. Kan IO redes gee? 

"Komplekse inligting en planne nodig vir die implementering van hierdie ontwerp". Hierdie is eweneens ‘n sirkelredenasie om dieselfde rede as bo genoem.  

Volgens die skrywer van die sg "studiestuk" is die situasie dus as volg : die wêreld van die natuurwetenskappe bestaan oorweldigend uit navorsers wat so ‘n bevooroordeelde uitkyk op hul vakgebied het dat hulle alles wat hulle sien teen wil en dank in die evolusionêre paradigma inprop – en dit ten spyte daarvan dat elke greintjie getuienis wat hulle in die natuur waarneem eintlik teen die hele teorie indruis! Die feit dat alle eksperimente eintlik uitroep teen evolusie, dat daar ten spyte van meer as 150 jaar se navorsing geen ondersteuning vir hierdie teorie gevind is nie en dat alles eintlik op die teenoorgestelde dui is iets wat by hulle verbygaan omdat hulle so bevooroordeeld is dat hulle elke feit verdraai – en sommer radikaal verdraai ook. 

Teenoor hierdie groot groep bevooroordeeldes staan dan ‘n klein groep nugtere en objektiewe wetenskaplikes (almal gelowiges, maar dis natuurlik maar net toeval want ons weet teen hierdie tyd dat geloof op geen wyse mens se sienswyse van die natuur beïnvloed nie) sowel as ‘n groot groep natuurwetenskaplike analfabete (soos oa die skrywer van die "studiestuk") wie se onkunde oor die natuurwetenskappe aan hulle die vermoë skenk om geheel en al onbevooroordeeld na die natuur te kyk. Hierdie persone is dan die gelukkiges wat in staat is om, onverblind deur sulke ou beuselagtigheidjies soos ‘n diepgaande tegniese kennis van die verskillende vertakkings van die natuurwetenskappe, te begryp dat evolusie ‘n hersenskim is. 

Dit is interessant om daarop te let dat die skrywer van die sg "studiestuk" die evolusieteorie afkraak maar nie self ‘n opponerende teorie voorhou nie. Mens sou verwag dat iemand wat ‘n wyd aanvaarde teorie kritiseer ten minste met ‘n alternatief vorendag sal kom. 

Kom ons beskou die vermoë van die evolusieteorie om voorspellings te maak van nader en vergelyk dit met wat IO en ander vertakkings van die kreasionisme aan ons vertel. 

Die evolusieteorie vertel ons dat alle organismes, lewendes sowel as uitgestorwenes, aan mekaar verwant is deur middel van gemeenskaplike afstamming. Daar is geen ander lewensvatbare teorie wat hierdie stelling weerspreek nie, aangesien so baie van die voorspellings van gemeenskaplike afstamming al geverifieer is, geen bewyse tot die teendeel gevind is nie en aangesien geen ander verklarings toetsbaar is nie, al is hulle dalk op ‘n triviale wyse verenigbaar met die beskikbare data.  

Deur middel van die evolusieteorie kan filogenetiese stambome saamgestel word. Verskeie sulke stambome bestaan – hulle kan die ganse biologie omarm of slegs spesifieke tipes organismes aanspreek. Neem asb in ag dat die frase "lewende organismes" wesens omvat wat tans lewe sowel as alle uitgestorwe organismes, tensy anders vermeld. Dit wil sê dat hierdie filogenetiese stamboom alle organismes se verwantskappe uitwys en verklaar en die hele samehang en genestelde ineenskakeling van alle taksa in ‘n grootse geheel inmekaarvleg. Tegniese besonderhede van die taksonomiese sisteme gaan nie bespreek word nie omdat dit te tydrowend gaan wees. Genoeg om te sê dat daar verskeie statistiese toetse bestaan om hierdie stambome se geloofwaardigheid (en die daarstelling van die stambome self) te ondersoek en dat die verwantskap van lewende organismes in elke geval objektief bevestig word. Dit is wat die teorie voorspel – maar so ‘n voorspelling word nie deur IO of deur ander vertakkings van die kreasionisme gemaak nie. Trouens, geen filogenetiese stamboom word eers deur IO of ander vertakkings van die kreasionisme genoodsaak nie en volgens daardie teorie bestaan organismes sommer maar net sonder ‘n noodwendige onderlinge verwantskap. So ‘n belangeloosheid mbt organismes se verwantskappe kom kreasionisme (en dus ook IO) duur te staan, soos ons deur die res van hierdie bespreking sal sien. Aan die ander kant weer sou ‘n filogenetiese stamboom wat nie hierdie verwantskappe aantoon nie die evolusieteorie maar taamlik tweedeklas laat voorkom – laat ons dus kortliks daarna kyk 

Hierdie "groepe binne groepe", oftewel ‘n genestelde hierargie, kan alleenlik op ‘n objektiewe wyse gegenereer word deur aftakkende ("branching") evolusionêre prosesse en dit sal vir die evolusieteorie uiters problematies wees as spesies gevind word wat kenmerke besit wat buite die groep val waarin hul genestel is, bv. warmbloedige slange, lewensbarende voëls, soogdiere met vere en so voorts. Kreasionisme, insluitende IO, sou nie deur sulke gediertes verontrief word nie (sien bv wat die skrywer van die "studiestuk" te sê had oor Archy) – maar geen kreasionistiese stelsel kan ‘n genestelde hierargie voortbring nie. 

‘n Genestelde hierargie is die noodwendige gevolg van spesifieke korrelasies tussen sekere eienskappe van organismes. Hierdie filogenetiese stamboom kan statisties ontleed word en 75 onafhanklike studies, uitgevoer deur verskillende navorsers, op verskillende organismes en genes, het merkwaardige hoë waardes vir CI (Consistency Index) getoon (P<0.01). Dit is beskryf in Bailey TL en Gribskov M 1998 Bioinfomatics 14, 48-54. Die CI is ‘n aanduiding van hoe "suiwer" die data in die filogenetiese stamboom pas.  

Natuurlik word nie alleenlik anatomiese kenmerke gebruik om filogenetiese stambome op te stel nie. Molekulêre strukture word ook hiervoor gebruik en mens sou verwag dat daar ‘n beduidende mate van ooreenstemming tussen die filogenetiese stambome moet wees onafhanklik van watter kriteria (anatomie of molekulêre struktuur) gebruik word. Baie genes met ‘n basiese sellulêre funksie is min of meer alomteenwoordig in die biosfeer. Sitochroom c is ‘n goeie voorbeeld – alle eukariote bevat die geen vir hierdie proteïn en dus korreleer nog die funksie nog die struktuur met die morfologie van die organisme. Voorts, aangesien DNS-kodering ‘n sekere mate van oortolligheid bevat sal sekere DNS-volgordes geheel en al geen korrelasie met die fenotipe van die betrokke organisme toon nie. As gevolg van hierdie twee eienskappe, nl alomteenwoordigheid en oortolligheid, kan DNS-volgordes gekies word wat geheel en al onafhanklik van morfologie is. Die graad van filogenetiese kongruensie tussen molekules en morfologie is wel verstommend.  

Daar bestaan meer as 10 38 maniere om 30 major taksa in ‘n filogenetiese stamboom lukraak te orden (Felsenstein J 1982 Quart Rev Biol 57, 379-404, Li W-H 1997 Molecular Evolution, Sinauer Associates). Ten spyte hiervan korreleer filogenetiese stambome op ‘n statisties beduidende wyse. Ander stambome is opgestel vir ‘n verskeidenheid van organismes en telkens is die korrelasie verstommend (Bryant D Mackenzie A en Steel M 2002 in : Bioconsensus II DIMACS Series in Discrete Mathematics and Theoretical Computer Science, (red Janowitz MF), American Mathematical Society, Penny D, Foulds LR en Hendy MD 1982 Nature 297, 197-200). 

Hoe meer data in die filogenetiese stamboom ingevoer word, hoe meer akkuraat word dit. Wanneer alle bekende filums gebruik word is die graad van akkuraatheid vergelykbaar met die bepaling van die gravitasiekonstante.  

Lewe soos ons dit ken het vier basiese funksies in gemeen : replikasie, oorerwing, katalise en energiegebruik (oftewel metabolisme). Alle bekende lewende organismes gebruik dieselfde polimere om hierdie funksies te onderhou : polinukleotiedes, polipeptiedes en polisakkariedes. Daar bestaan sommer nog baie ander polimere wat gebruik kon word – maar geen bekende lewende organisme maak van daardie verbindings gebruik nie. Verder nog, maak nie saak wat die spesie is nie, die DNS, RNS en proteïne wat in alle bekende lewende wesens gebruik word het dieselfde chiraliteit. Dit is natuurlik helemaal moontlik dat ‘n lewende organisme ‘n gans nuwe genetiese materiaal kan inspan, of ‘n (uit ons standpunt) biologies innoverende polimeer kan gebruik om lewe te onderhou of chemikalieë met verskillende chiraliteite kan benodig. Dit word egter nie in die natuur gevind nie. Met die dat daar elke jaar duisende nuwe spesies ontdek word is dit seker moontlik dat ons kan afkom op ‘n organisme wat ‘n geheel en al ander polimeer en/of chiraliteit gebruik, maar die gedagte daaraan laat bioloë nie snags wakker lê nie. Eweneens gebruik alle bekende lewende wesens dieselfde vier nukleosiedes : deoksiadenosien, deoksitimidien, deoksisitidien en deoksiguanosien. Meer as ‘n honderd ander nukleosiedes is bekend, maar word nie deur organismes gebruik nie. 

Organismes moet chemiese reaksies kan kataliseer en hulle doen dit deur gebruik te maak van proteïnmolekules (en nou en dan van RNS-molekules) wat saamgestel is uit aminosure. Meer as 390 aminosure is bekend, maar slegs 22 word deur lewende organismes gebruik.  

Daar moet natuurlik ‘n meganisme wees wat informasie kan oordra van die genetiese na die katalitiese materiaal en alle bekende organismes, met enkele uiters raar uitsonderings, gebruik dieselfde kode om hierdie taak uit te voer. Die enkele eenvoudige uitsonderinge is mindere variasies op die "universele" kode en stem steeds ooreen met die voorspellings wat bioloë gemaak het jare voordat die genetiese kode ontsyfer is! 

Alle bekende organismes gebruik eenderse of baie eenderse metaboliese weë, soos wat mens uit die voorspellings van die evolusieteorie sou verwag. Basiese metaboliese siklusse soos glikolise, die Krebs-siklus en oksidatiewe fosforilasie is fundamenteel tot lewe. In alle eukariote en meeste prokariote word glikolise in dieselfde tien stappe uitgevoer, in dieselfde volgorde en met dieselfde tien ensieme. Voorts is die basiese eenheid waarin chemiese energie geberg word, nl. ATP, dieselfde in alle lewende organismes.  

Elke spesie kan dalkies net ‘n ander polimeer kon aanwend vir katalise, of glikolise op ‘n ander wyse bewerkstellig – daar is letterlike duisende termodinamies ekwivalente bane vir glikolise wat elkeen nogal dieselfde tien reaksiebane gebruik maar in verskillende volgordes. Oftewel : elke spesies kan sy eie glikolitiese baan besit. Sou dit die geval wees, sal IO dit gemaklik kan aanvaar.  

Dit is konsepsueel helemaal moontlik dat elke lewende spesie ‘n verskillende genetiese materiaal kan hê, of ander polimere kan gebruik, en so voorts.  

Alles wat in die paragrawe hierbo genoem is, is soos mens dit te wagte sou wees indien evolusie wel plaasgevind het. Geen variant van kreasionisme, IO ingesluit, maak sulke voorspellings nie en is ook nie in staat om dit te doen nie, 

Oorgangsvorms is reeds vroeër bespreek, maar laat ons weer kortliks daarby stilstaan. Alle gefossileerde organismes moet volgens die evolusieteorie konformeer met die standaard filogenetiese stamboom. Elke node tussen twee takke in die standaard filogenetiese stamboom (van alle filums) verteenwoordig ‘n voorspelde gemeenskaplike voorouer – dus is daar vir diere ongeveer 29 gemeenskaplike voorouers volgens die algemeen aanvaarde stamboom. Hierdie stamboom toon dat voëls en reptiele na aan mekaar gegroepeer word, dus word daar voorspel dat daar intermediêre vorms tussen voëls en reptiele moes bestaan het. Eweneens moes daar oorgangsvorme tussen soogdiere en reptiele bestaan het. Die stamboom voorspel egter duidelik dat daar nie oorgangsvorme tussen voëls en soogdiere moes bestaan het nie. Dit is seker nie nodig om te sê dat geen sulke gediertes gevind is nie. 

Die stamboom maak ook spesifieke voorspellings oor die morfologie van die intermediêre vorms. Archy en sy mede-oorgangsvorms is reeds bespreek en die eienskappe van hierdie en alle ander oorgangsfossiele stem ooreen met die voorspellings gemaak deur die evolusieteorie. 

Die oorgangsfossiele tussen reptiele en soogdiere is ook vroeër genoem, maar laat ons kortliks weer hieraan aandag skenk. Soogdiere is uniek onder werweldiere omdat hulle behalwe die stapes (wat algemeen by gewerweldes wat op land leef voorkom) nog twee gehoorbeentjies besit, nl. die malleus en inkus. Osteologies kan hierdie beentjies nie van enige van die ander skedelbene afgelei word nie. Reichert was ‘n Duitse anatoom wat met behulp van ‘n uitgebreide reeks histologiese seriesnitte bewys het dat die malleus en inkus derivate is van die quadratum en artikulare wat by reptiele die kaakartikulasie vorm. Die verder uitgebreide Reichert-Gaup teorie verduidelik hoe die gehoorbeentjies deur die loop van evolusie ontwikkel het. Die evolusieteorie het dus die volgende voorspelling gemaak: as bg anatomiese waarnemings korrek is, behoort daar fossiele gevind word wat die oorgange aandui.. Sulke fossiele is inderdaad dan ook gevind. Dit moet beklemtoon word dat die voorspelling gemaak is voor die betrokke fossiele gevind is. Kreasionisme oor die algemeen en IO in die besonder maak geen sodanige voorspellings nie en kan ook nie. 

Voorts : as bg korrek is, dan behoort die oorgange tydsgebonde te wees en behoort spesifieke fossiele op spesifieke plekke in die stratigrafiese opeenvolging aangetref word. Hierdie voorspelling is dan ook inderdaad korrek. Kreasionisme oor die algemeen en IO in die besonder maak geen sulke voorspellings nie en is ook nie in staat daartoe nie. 

Nog meer : omdat ‘n dier nie kan ophou eet terwyl een kaakartikulasie geleidelik deur ‘n ander tipe gewrig vervang word nie behoort daar fossiele te wees wat beide die soogdier- en reptielkaakartikulasie vertoon. Sulke fossiele kom wydverspreid in die Karoo voor. Kreasionisme oor die algemeen en IO in die besonder maak geen sodanige voorspellings nie en kan dit ook nie doen nie.  

Daar kan oor bogenoemde verskynsel gelees word in oa Kardong KV 2002 Vertebrates : Comparative Anatomy, Function, Evolution. New York, McGraw Hill. 

Terwyl ons dan nou by die onderwerp van oorgangsfossiele is en aangesien die skrywer van die sg "studiestuk" ons vertel het dat daar slegs enkele "hoogs aanvegbare" voorbeelde bestaan, kom ons kyk kortliks na walvisse. ‘n Hele versameling oorgangsfossiele bestaan wat die verandering van landdiere tot walvisse demonstreer. Die konsensus is dat walvisse en dolfyne ontstaan het uit landdiere wat bene ("legs") gehad het. Daar kan oor die betrokke oorgangsvorms gelees word in  

Domning DP 2001Nature 413, 625-627

Gingerich P. Wells NA, Russell DE en Shah SMI 1983 Science 220, 403-406

Gingerich P, Smith BH en Simons EL 1990 Science 249, 154-157

Gingerich P, Raza SM, Arif M, Anwar M en Zhou X 1994 Nature 368, 844-847 Gingerich P, Haq Mu, Zalmout IS, Khan IH en Malkani MS 2002 Science 293, 2239-2242 

Bajpai S en Gingerich P 1998 Proc Nat Acad Sci USA 95, 15464-15468

Thewissen JG, Williams EM, Roe LJ en Hussain ST 2001 Nature 413 277-281 

Soos die evolusieteorie voorspel toon die oorgangsvorm die gestadigde verlies van bene en die ontstaan van daardie eienskappe wat ons vandag ken wat dit vir hierdie diere moontlik maak om in die see te leef. Nòg kreasionisme oor die algemeen nòg IO in die besonder is tot sulke voorspellings in staat. Soos in die verwysings te sien is, is meeste vondse taamlik resent – maar die evolusieteorie het die betrokke voorspellings gemaak lank voordat die fossiele gevind is! Kan IO so iets doen? 

Indien ‘n gedierte wat half soogdier half voël is egter in die fossielrekord opgespoor word sal dit op die minste hoogs onverenigbaar wees met gemeenskaplike afstamming en sal die hele evolusieteorie verwerp moet word. 

Oorgangsvorms moet natuurlik in die regte chronologiese volgorde voorkom. Die standaard filogenetiese stamboom voorspel dan ook die relatiewe chronologiese volgorde, bv. die gemeenskaplike reptiel-soogdier voorouer moet ouer wees as die gemeenskaplike reptiel-voël voorouer. Aangesien ons hier met die fossielrekord te doen het is daar vanselfsprekend ‘n mate van speling betrokke en natuurlik ook in baie gevalle ‘n mindere of meerdere mate van onvolledigheid. Mens kan bv. verwys na die selekant, ‘n spesie waarvan vandag steeds leef, alhoewel die jongste fossiel daarvan (alhoewel ‘n ander spesie) 80 miljoen jaar oud is. 

Desnieteenstaande is daar ‘n magdom bewyse in die fossielrekord wat die evolusieteorie ondersteun en niks wat dit weerspreek nie. Darwin sou verheug gewees het as hy die toedrag van sake kon waarneem, aangesien daar met die publikasie van Origin nog maar weinig paleontologiese navorsing uitgevoer is. Die beduidende positiewe korrelasie tussen filogenie en stratigrafie word beskryf in o.a.

Benton MJ 1998 Molecular Genetics and Evolution 9, 398-407

Benton MJ en Hitchin R 1996 Historical Biol 12 111-157

Clyde WC en Fisher DC 1997 Paleobiology 23, 1-19

Huelsenbeck JP, 1994 Paleobiology 20, 470-483,

om net enkeles te noem.  

Norell MA en Novacek MJ 1992 Cladistics 8, 319-337 het 24 verskillende taksa vertebrate ondersoek. Vir elke takson is die filogenetiese posisie van die bekende fossiele vergelyk met die stratigrafiese voorkoms van die betrokke fossiele. ‘n Positiewe korrelasie is gevind vir al 24 taksa en 18 van hierdie korrelasies was statisties beduidend. Dit is belangrik om te noem dat die korrelasies negatief kon gewees het – iets wat gemeenskaplike afstamming sou negeer en die evolusieteorie sou kelder. 

Hierdie soort voorspelling word alleenlik deur die evolusieteorie gemaak. Kreasionisme in die algemeen en IO in die besonder is nie tot sulke voorspellings in staat nie.  

Daar bestaan voorts ook heelwat voorbeelde van organismes met rudimentêre strukture wat alleen verklaar kan word deur na die betrokke organisme se evolusionêre geskiedenis te kyk. Ons weet dat slange afstammelinge is van vierbenige reptiele. Baie pitons besit oorblyfseltjies van bekkens – iets wat die evolusieteorie kan verklaar, maar nie kreasionisme nie. Baie grotbewonende diere is blind maar besit steeds rudimentêre oë – die oë van die Meksikaanse tetra bv. het ‘n lens, ‘n degenereerde retina, ‘n degenereerde optiese senuwee en ‘n sklera, maar is stokblind. (Jeffery WR 2001 Dev Biol 231, 1-12). Vele ander soortgelyke voorbeelde bestaan.  

Geen organisme kan so ‘n struktuur hê as dit nie funksioneel was in ‘n voorouer nie. Die standaard filogenetiese stamboom maak dus ‘n groot aantal voorspellings oor watter sodanige strukture gevind kan word en watter strukture "ontoelaatbaar" is vir enige gegewe spesies.  

Gemeenskaplike afgeleide kenmerke en data oor molekulêre volgordes bepaal die filogenie en kenmerke van voorspelde gemeenskaplike voorouers. Indien gemeenskaplike afstamming vals sou wees sou die evolusieteorie nie ‘n verklaring kon gee vir rudimentêre strukture nie. Walvisse word geklassifiseer as soogdiere en slange as reptiele volgens ‘n hele aantal verskillende kriteria. Indien walvisse as visse geklassifiseer word (soos wat Linnaeus gedoen het) dan sal die rudimentêre bene van walvisse of die vestigiale bekkens van slange geen sin maak nie. 

Mens sal dus nie verwag om rudimentêre tepels of inkusbene in enige amfibiër, voël of reptiel te vind nie, nog minder soogdiere met rudimentêre vere, primate of slange met rudimentêre horings of vlerke, artropoda met vestigiale werwelkolomme en dies meer. Omdat mense afstammelinge is van vroeëre plantetende soogdiere besit ons nog ‘n rudimentêre caecum, maar nog ons nog enige ander primaat kan ‘n krop hê soos wat in voëls gevind word. Die evolusieteorie kan hierdie toedrag van sake verklaar – IO en/of kreasionisme is geheel en al nie in staat om dit te doen nie. 

Daar word natuurlik nie net anatomiese vestigiale strukture gevind nie – daar kom inderdaad ook vestigiale gene voor. Mense besit bv nie die vermoë om vitamien C te sintetiseer nie, maar ons voorspelde voorsate (en meeste ander diere behalwe primate en marmotte) het wel die geen wat sintese moontlik maak – dit is hoekom ons honde nie nodig het om lemoensap te drink nie maar ons wel. Een van ons voorsate het die gebruik van een van die vyf gene wat nodig is vir sintese van vitamien C verloor, maar omdat daar voldoende vrugte in die omgewing was wat vitamien C bevat het, is hulle nie daardeur benadeel nie. Die evolusieteorie voorspel dus dat mense en ander primate wel die nonfunksionele geen vir hierdie sintese sal besit. Hierdie voorspelling is gemaak en later korrek bewys deur Nishikimi M, Kawai T et al 1992 J Biol Chem 267, 21967-21972 en Nishikimi M en Fukuyama R 1994 J Biol Chem 269, 13685-13688. Die betrokke geen is teenwoordig as ‘n nonfunksionele pseudogeen. Dieselfde pseudogeen is sedertdien ook in ander primate gevind. Ons weet tans wat die DNS-volgorde is vir hierdie pseudogeen in mense, sjimpansees, oerangoetangs en makake – en soos voorspel stem die volgorde van hierdie pseudogeen die meeste ooreen in mense en sjimpansees, gevolg deur mense en oerangoetangs en dan mense en makake. Voorts het al hierdie gene mutasies verwerf teen presies die tempo wat voorspel is (sien Ohta Y en Nishikimi M 1999 Biochimica et Biophysica Acta 1472, 408-411.) 

Daar bestaan natuurlik ook ander voorbeelde van vestigiale menslike genes, o.a. veelvuldige reukreseptorgenes (Rouquier S, Blancher A et al 2000 Proc. Nat. Ac Sci USA, 97, 2870-2874), die galaktosiel transferase geen (Galili U en Swanson K 1991 Proc Nat Ac Sci USA 88, 7401-7404) en die tirosinase geen (Oetting W, Stine OC et al 1993 Pigment Cell Res 6, 171-177). 

Dat hoenders gene besit wat kodeer vir tande is al ou nuus, maar dit was nie bekend of hulle wel tande kan laat ontwikkel nie.  

‘n Gekombineerde navorsingspan van die universiteite van Manchester en Wisconsin het tandgroei in hoenderkuikens geïnduseer. Hulle het dus daarin geslaag om gene wat al vir 80 miljoen jaar dormant was te aktiveer. Hierdie eksperimente (gepubliseer in Current Biology van 23 Februarie maar ook te lese op die internet by Science Daily ( http://www.sciencedaily.com/releases/2006/02/060223083601.htm ). Hierdie navorsing het major implikasies vir ons begrip van evolusie – bo en behalwe die moontlike langtermyn biotegnologiese implikasies. Die Talpid mutant, al 50 jaar lank bekend, het uitgesproke ledemaatdefekte en sterf gewoonlik voordat dit uitbroei. Ondersoek van die bek het getoon dat die tande baie soortgelyk is aan die van krokodille. Dit is natuurlik nie juis verrassend nie – ons weet teen hierdie tyd dat voëls en reptiele nou verwant is. Hoe dit ook al sy, die navorsers het gewonder of "gewone" hoenderkuikens nog tande kan genereer en kon inderdaad daarin slaag om tandgroei in normale hoenderkuikens te induseer. Een van die wetenskaplikes, professor Ferguson, word as volg aangehaal : "All the pathways to make teeth are preserved which helps us to understand how evolutionary changes are brought about by subtle alterations in developmental biology." 

Nou ja : sou eietydse voëls gene besit wat vir tande kodeer as hul voorouers nie tande gehad het nie? Kan u aan ‘n rede dink? Kan IO ‘n verklaring hiervoor verskaf? 

Meer nog : hoe lyk hierdie tande? Mens sou sekerlik verwag dat die tande sou ooreenstem met die wat hul voorouers gehad het – dws dat die tande reptiliaans sou wees en nie soos soogdiertande sou lyk nie. Wat is die geval? Die tande is konies, baie soos die van ‘n archosourus en stem baie ooreen met die tande van ‘n juveniele alligator of krokodil.  

Als wat hierbo beskryf is pas in by die evolusionêre paradigma. Kreasionisme oor die algemeen en IO in die besonder is nie in staat om sulke verskynsels te verklaar nie. 

Biogeografiese getuienis toon dat gemeenskaplike voorouers in spesifieke geografiese gebiede voorkom en dat hierdie geografiese verspreiding ooreenstem met die voorspelde genealogiese verwantskappe. Die standaard filogenetiese stamboom voorspel dat nuwe spesies sal ontstaan in gebiede na aan die waarin hul voorouer(s) geleef het. Dit is inderdaad ook die geval. Marsupiale word met enkele uitsonderings slegs in Australië gevind – die uitsonderings (enkele Suid-Amerikaanse spesies en die opossum) is verklaarbaar deur kontinentale dryf. Plasentale soogdiere daarenteen het eers in Australië verskyn nadat hulle deur setlaars ingevoer is. Die suidelike streke van Suid-Amerika, Afrika en die hele Australië bevat longvisse, volstruisagtige voëls ("ratite birds) en lepodaktiliede paddas. Alligators en magnolias word slegs gevind in Oostelike Noord-Amerika en Oos-Asië (twee gebiede wat eens nou gebonde was in die Laurasiaanse kontinent). Bogenoemde word deur die evolusieteorie voorspel – in teenstelling met die totale afwesigheid van enige voorspelling deur kreasionisme. 

Sou kreasionisme (en IO) dit eienaardig vind as olifante inheems was tot Hawaii? Hoegenaamd nie. Die evolusieteorie sou so iets nie kan verklaar nie. 

‘n Gevolg van gemeenskaplike afstamming is parahomologie – die ooreenkoms van struktuur ten spyte van verskillende funksies. Wanneer een spesies vertak om twee spesies te vorm sal een of beide spesies bestaande strukture moet inspan en modifiseer om nuwe funksies te verrig : parahomologie. Parahomoloë strukture se geskiedenis behoort dus verduidelik kan word vanuit ander aspekte van evolusionêre geskiedenis aangesien afgeleide kenmerke (dit is wat hierdie nuwe funksies en strukture nou is) vanuit ouer strukture ontstaan het. Gevolglik kan gedetailleerde voorspellings gemaak word oor moontlike morfologiese kenmerke van fossielintermediêres.  

Dieselfde bene in dieselfde relatiewe posisies word aangetref in die hande van primate, die vlerke van vlermuise, voëls en pterosourusse, walvis- en pikkewyn voorste ledemate (en dit is interessant om daarop te let dat pikkewyne met hierdie ledemate onder water dieselfde aksies uitvoer as wat voëls met hul vlerke doen wanneer hulle vlieg – pikkewyne "vlieg" dus onder water, ‘n oorblyfsel van hul evolusionêre verlede), die voorste ledemate van perde, molle en gewebde amfibiese bene. Al hierdie ledemate het dieselfde struktuur maar voer verskillende funksies uit en die standaard filogenetiese stamboom toon waarom dit die geval is : hulle het gemeenskaplike voorouers gehad wat hierdie strukture besit het. Enige objektiewe beskouing van die situasie sal mens tot die besef laat kom dat dit werklik ‘n besondere toedrag van sake is, aangesien slegs gedeelde afgeleide kenmerke wat dieselfde struktuur en funksie het sal bepaal watter spesies saam gegroepeer moet word in ‘n kladistiese filogenie. 

Onafhanklike bewyse uit die fossielrekord (dws sonder om kladisme in ag te neem) het bevestig dat baie van hierdie strukture uit ander ontwikkel het. Die fossielrekord toon ‘n algemeen chronologiese progressie van intermediêre vorms tussen theropoda en moderne voëls waarin theropodastrukture gemodifiseer is tot strukture wat in moderne voëls aangetref word – sien Eoraptor, die Herrerasauridae, die Ceratosauridae, die Allosauridae, die Deinonychosauridae, Archy, die Confuciosornithidae, die Enantiornithes en die Euornithes. 

Die evolusieteorie voorspel hierdie toedrag van sake – kreasionisme daarenteen kan geen sulke voorspellings maak nie. Die evolusieteorie sou steier as ‘n perd soos Pegasus gevind sou word, kreasionisme sou dit bloot as ‘n "eienaardige dier" afmaak, soos die skrywer van die "studiestuk" Archy bestempel het.  

Dit is egter nie net anatomiese strukture wat parahomologie toon nie – dit word ook op molekulêre vlak gevind. Baie proteïne met treffende ooreenkomste in aminosuurvolgorde het radikaal verskillende funksies. Lisosiem  en α-laktalbumien is ‘n goeie voorbeeld. Bykans alle diere het lisosiem, ‘n ensiem wat bakteri ële selwande afbreek. α-Laktalbumien is struktureel baie d ieselfde as lisosiem maar die funksie daarvan verskil aansienlik – dit is betrokke by die sintese van laktose in die mammas van soogdiere. Mens kan uit molekulêre filogeniëe aflei (soos hier die geval is) dat die proteïn met die meer basiese funksie (in hierdie geval lisosiem) die ouer voorganger is (Prager EM en Wilson AC 1988 J Molec Evolution 27, 326-335; Quasba PK en Kumar S 1997 Crit Rev Biochem and Mol Biol 32, 255-306).  

‘n Besonder elegante bevestiging van die evolusieteorie word gevind wanneer mens kyk na die genome van S cerevisiae en C elegans – eg ‘n gis en lg ‘n nematode. Die genome kan gesien word by Barrell BG et al 1996 Science 274 546-676 en Caenorhabditis elegans Sequencing Consortium 1998, Science 182, 2012-2018. Die gene wat deur die unisellulêre gis gebruik word is meestal gene wat direk te doen het met basiese biochemiese huishoudelike funksies wat alle organismes moet uitvoer. Uit ‘n evolusionêre perspektief sou ons dus verwag dat al hierdie gene redelik tot baie antiek moet wees. Daar is vermoed, en ook gevind, dat die wurm meeste van hierdie antieke huishoudelike gene besit. Die ekstra gene wat met meerselligheid te doen het, en wat slegs deur die wurm benodig word en nie deur die gis nie, behoort van meer resente oorsprong te wees – en filogenetiese analise het aangetoon dat dit inderdaad die geval is. Die oorgrote meerderheid van "nuwe" gene in die wurm is direk afgelei van daardie gene wat die basiese huishoudelike funksies moet uitvoer – soos mens volgens die evolusieteorie sou verwag (Chervitz SA 1998 Science 282, 2022-2028). 

‘n Groter studie van bekende eukariotiese genome het getoon dat parahomologie algemeen in die natuur aangetref word en ook dat ware strukturele innovering eintlik relatief skaars is (Rubin GM et al 2000 Science 287, 2204- 2218). In ‘n spesiale uitgawe van die natuurwetenskaplike joernaal Science het meer as vyftig navorsers die volledige genome van D. melanogaster, C. elegans, S. cerevisiae en mense bespreek. C. elegans besit ongeveer 18 000 gene, waarvan nagenoeg die helfte duplikate is van ander gene wat in dieselfde genoom voorkom (wat die skrywer van die "studiestuk" nou weer gesê? Dat mutasie essensieël nie ‘n bydrae lewer tot die informasie van die genoom nie?)  Eweneens is ongeveer 40% van Drosophila se genoom oorbodige gene. Deur volgordes te vergelyk is gevind dat nagenoeg 70% van enige organisme se gene met enige ander organisme gedeel word – en dit dui aan dat meeste gene gebruik en hergebruik is deur die verloop van evolusie, om verskeie redes. Hierdie syfer is na alle waarskynlikheid ‘n onderskatting. 

Dit is interessant om daarop te let dat sommige vrugtevlieë wat morfologies bykans nie van mekaar te onderskei is nie (D. melanogaster en D. virilis) ‘n genomiese ooreenkoms van slegs 70% toon (Schmid KJ en Tautz D 1997 Proc Natl Acad Sci USA 94, 9746-9750). Let verder daarop dat die genome van ons en die sjimpansees, ons naaste verwante, met slegs sowat 2% verskil! Dit is dus duidelik dat daar relatief min strukturele of genomiese innovering plaasgevind het tydens die evolusie van die eukariote, aangesien meeste gene doodeenvoudig gedupliseer en/of herverbruik is, met mindere grade van modifikasie hier en daar.  

Proteïne wat nuwe funksies (uit ‘n evolusionêre oogpunt) verrig behoort statisties beduidende ooreenkomste te toon met proteïne wat basiese huishoudelike take verrig en soos ons gesien het is dit dan ook die geval in die natuur.. Indien dit nie die so was nie sou die evolusieteorie groot probleme in die gesig staar. 

Analogie is ‘n verdere ondersteuning van die evolusieteorie. Analogie is wanneer verskillende strukture dieselfde funksies moet verrig in verskillende spesies wat verskillende agtergronde het. Voorbeelde is die oog van vertebrate en soogdiere, vlerke van voëls en insekte en so voorts. Mens sal nie verwag dat enige nuut ontdekte dolfyn, walvis, pikkewyn of enige nabye verwante spesie bv kiewe sal hê nie – indien wel, sou die evolusieteorie diep in die moeilikheid wees. 

Met die dat evolusie ‘n opportunistiese proses is sal dit van enige orgaan of proses gebruik maak wat aan ‘n organisme ‘n voordeel gee. Gevolglik is die strukture (hetsy makro- of mikroskopies) nie altyd optimaal nie. Die gastro-intestinale kanaal van soogdiere kruis die lugweë - beslis ‘n suboptimale rangskikking. Daar is egter ‘n goeie historiese rede daarvoor : die longvis Osteolepiformes waaruit soogdiere ontstaan het, het lug gesluk om te kan asemhaal. Eers later het die soogdiervoorouers die neusgate vir asemhaling begin gebruik en daarom is dit tans die geval dat die esofagus tussen die neusgate en die longe geleë is - en mense het hierdie minder as optimale ragskikking behou.  

Daar is baie ander voorbeelde -. die retina van soogdiere, met sy blinde kol en die bloedvate en senuwees wat voor die reseptors geleë is maar net een van talle wat geneom kan word.. 

Molekulêre suboptimaliteit word ook gevind. ‘n Volle 45% van die menslike genoom bestaan uit transposons wat geen bekende funksie verrig nie, behalwe om in sommige gevalle genetiese siektes en kanker te veroorsaak. Ongeveer 20% van ons genoom is pseudogene, meeste waarvan geen bekende funksie vervul nie. ‘n Goeie voorbeeld is die gliseraldehied-3-fosfaat dehidroginase (GDPH) geen. Mense het een funksionele GDPH geen, maar ten minste twintig GDPH pseudogene. Muise bevat ongeveer 200 GDPH pseudogene. En so voorts – daar is nog baie sulke voorbeelde. 

Terwyl ons nou op die onderwerp van mense en muise is :

Toe wetenskaplikes begin het om volledige genome te vergelyk het verrassende nuwe inligting vorendag gekom wat die beginsel van gemeenskaplike voorouers ondersteun. Ondersoek van die DNS - kodes van bv die mens en die muis het bv getoon dat nie alleen volledige gene nie maar hele segmente van chromosome van die mens en die muis identies is. ’n Chromosoomsegment van nagenoeg 90.5 miljoen basispare op menslike chromosoom 4 stem ooreen met muischromosoom 5. Byna alle menslike gene op chromosoom 17 word gevind op muischromosoom 11, en menschromosoom 20 stem geheel en al ooreen met die onderste segment van muischromosoom 2. Hierdie kan nageslaan word by die webwerf van die Sanger Institute. 

Duisende gene word in dieselfde volgorde gevind in mense en muise, en dit is ‘n werklik indrukwekkende bewys vir ‘n gemeenskaplike voorouer. Die verspreiding van gene oor chromosome is nie die gevolg van enige biochemiese of biologiese noodsaak nie – met die uitsondering van die Y- en tot ‘n mindere mate die X-chromosoom is geen chromosoom hier ter sprake toegewy tot ‘n besondere biologiese funksie soos bv vertering, voortplanting of persepsie nie. Die gene wat hierdie funksies beheer is verprei oor 20 pare chromosome in die muis en 23 pare in die mens. Die ooreenkomste tussen die verskillende spesies kan dus nie die gevolg wees van kans of noodsaak nie : dit kan toegeskryf word aan een en slegs een rede : ‘n gemeenskaplike voorouer. Ten spyte van baie herrangskikkings van chromosome sedert die gemeenskaplike voorouer van mense en muise het beide van ons 195 intakte bewaarde segmente van ons gemeenskaplike voorouer geërf.  

Wat meer is, dieselfde resultate word gevind in katte, robbe, beeste, perde en rotte. En dit bring ons by die volgende reeks bewyse vir evolusie : die bewyse in ons molekules self. Hier vind ons die mees indrukwekkende ondersteuning vir die interverwantskappe van alle lewensvorme – ons afstamming van ‘n gemeenskaplike voorouer. Die ooreenstemming tussen voorspelling en empiriese waarnemings is verstommend.  

Eers enkele opmerkings : 

Alomteenwoordige gene kom voor in alle lewende organismes omdat hulle baie basiese huishoudelike funksies uitvoer. Hierdie gene het geen verwantskap met die spesifieke funksies van verskillende spesies nie. dit maak nie saak wat die organisme is nie, mens of walvis, fungus of vis, voël of alligator, elkeen het daardie alomteewoordige gene en daardie gene het niks te doen met die organisme se vermoë om te swem, loop, vlieg, kwaak of wat ook al nie. Die gene hou "maar net" die sellulêre masjiene aan die gang.  

Die molekulêre volgordes van alomteenwoordige gene is funksioneel oortollig, dws enige gegewe alomteenwoordige proteïn het ‘n groot aantal verskillende funksioneel ekwivalente vorms, dws proteïne wat dieselfde funksies kan uitvoer.  

Daar is geen a priori rede waarom elke organisme proteïnes of gene met dieselfde volgorde moet hê nie. Geen spesifieke volgorde is funksioneel noodsaaklik in enige organisme nie – al wat benodig word is een van die groot aantal funksioneel ekwivalente vorms van ‘n alomteenwoordige geen or proteïn  

Erflikheid bepaal volgordes, selfs in die afwesigheid van funksionele noodsaaklikheid. Daar is een, en slegs een, waargenome meganisme wat tot gevolg het dat twee verskillende organismes alomteenwoordige proteïne met dieselfde volgorde kan hê, nl. erflikheid.  

Gevolglik sal eenderse alomteenwoordige gene dui op genealogiese verwantskappe. Oftewel, organismes wat eenderse of baie eenderse volgordes vir alomteenwoordige proteïne het sal verwant wees, en hoe meer die volgordes ooreenstem, hoe nouer sal die verwantskap wees. 

Die geen vir sitochroom c, wat reeds vlugtig vroeër in hierdie dokument genoem is, is ‘n alomteenwoordige geen en daar is geen rede om te aanvaar dat dit in twee verskillende organismes dieselfde aminosuurvolgorde(s) moet hê nie, tensy daar ‘n verwantskap tussen die twee bestaan. Dit is ‘n funksioneel besonder oortollige proteïn omdat baie verskillende volgordes almal sitochroom c elektrontransportproteïne vorm. Funksionele oortolligheid vereis nie eksaktheid mbt funksie nie. Sommige sitochroom c volgordes mag effe meer effektief wees met elektrontransport as ander.  

Dekades se biochemiese navorsing het getoon dat baie mutasies, veral die wat betrekking het op oppervlakresidue, slegs ‘n klein invloed het op funksie en proteïnstruktuur (sien Branden C en Tooze J 1999 Introduction to Protein Structure 2nd ed., Garland Publishing, NY;  Harris1 I, Sanger F et al 1956 Arch Biochem and Biophys 65, 427-438; Lesk AM 2001 Introduction to Protein Architecture, OUP; Li W-H 1997 Molecular Evolution, Sinauer Assoc, MA; Matthews BW 1996 FASEBJ 10, 35-41). ‘n Spesifieke voorbeeld is die van die c-tipes sitochrome van verskeie bakterieë, wat min of meer geen volgorde-ooreenstemming toon nie. Desnieteenstaande vou hulle almal tot dieselfde driedimensionele struktuur en vervul hul almal dieselfde funksie. (Moore GR en Pettigrew GW 1990 Cytochromes c : Evolutionary, Structural and Physicochemical Aspects, Berlin, Springer-Verlag; Ptitsyn OB 1998 J Molec Biol 278, 655) 

Selfs binne spesies skuil meeste mutasies funksioneel onder die horison. Daar is bv ten minste 250 verskillende mutasies van menslike hemoglobien gevind in meer as 3% van mense – maar dit het geen kliniese manifestasie nie. 

Hierdie oortolligheid in ag genome, laat ons dus weer kyk na sitochroom c. Dit is absoluut essensieël vir lewe. Menslike sitochroom c werk in gisselle (dws in eensellige organismes) waarvan die genoom gemanipuleer is om sy eie sitochroom c te verwyder, selfs al verskil die sitochroom c van mense en gisselle met meer as 40%.. (TanakaY Ashikarei T Shibano Y Amachi T Yoshizumi H en Matsubara H 1988a J Biochem (Tokyo) Sept 104, 477-480; Tanaka Y Ashikari T Shibano Y Amachi T Yoshizumi H en Matsubara H 1998 (b) J Biochem (Tokyo) 103, 954-961; Wallace MR en Andersen LB 1991 Nature 353 864-866). Trouens, die sitochroom c genes van tuna, duiwe, perde, vrugtevlieë en rotte werk almal in gisselle wat van hul eie natuurlike sitochroom c ontneem is. Analise van die proteïn het getoon dat meeste (ongeveer 60 van die nagenoeg 100) van sy aminosure nie nodig is vir dit om in vivo te funksioneer nie (Hampsey DM, Das G en Sherman F 1986 J Biol Chem 261, 3259-3271, Hampsey DM, Das G en Sherman F 1988 FEBS Letters 231, 275-283). Meeste van die aminosure is trouens hipervariërend, dws dit kan deur ‘n groot aantal ander aminosure vervang word. Deur gebruik te maak van Hampsey se data het Yockey (Yockey HP 1992 Information Theory and Molecular Biology, Cambridge University Press) bereken dat daar ‘n minimum van 2.3 x 10 93 moontlike funksionele sitochroom c volgordes is. Die aantal funksionele sitochroom c volgordes is dus byna onbeperk en daar is gevolglik geen a priori rede vir twee verskillende spesies om selfs maar net eers naastenby dieselfde volgorde te hê nie.  

Mens kan dus verwag dat ‘n nulhipotese sou stel dat die non-essensiële aminosuurvolgorde van die mens en die sjimpansee geheel en al lukraak behoort te wees as daar geen verwantskap is nie. Indien daar wel ‘n verwantskap is dan behoort daar ‘n sterk ooreenstemming te wees – en ons weet dat die standaard filogenetiese stamboom ons hiervan verwittig.  

Is daar ‘n ooreenstemming? Inderdaad : mense en sjimpansees het presies dieselfde volgorde. Indien dit nie die gevolg is van gemeenskaplike afstamming nie dan sou die kans vir so ‘n gebeurtenis minder wees as 10 -93 . Hierdie is ‘n skitterende en aanskoulike bevestiging van die teorie van gemeenskaplike afstamming – oftewel van evolusie. 

Kom ons kyk na die oortolligheid van DNS-kodering. Net soos die geval met proteïne beteken verwantskappe van DNS-volgordes ook dat twee of meer organismes verwant is. Vanselfsprekend beteken analise van DNS-volgordes van gene indirek dat die aminosuurvolgorde bekend is aangesien DNS kodeer vir aminosure. Met DNS is daar egter ‘n bykomende vlak van oortolligheid. Die genetiese kode op sig self is informasioneel oortollig – oor die algemeen is daar drie verskillende kodons wat vir elke aminosuur kan kodeer. Vir elke sitochroom c is daar dus ongeveer 3 104 , oftewel meer as 10 46 verskillende DNS-volgordes (en dus 10 46 verskillende gene) wat betrokke kan wees by die spesifikasie van die presiese aminosuurvolgorde. 

Ons voorspelling hier kan baie presies wees : enige verskille in volgorde tussen twee funksionele sitochroom c gene is, gegewe wat ons weet oor die molekuul se struktuur-funksie verwantskap, funksioneel neutraal of baie byna so. Die agtergrond mutasietempo in mense is gemeet as ~ 1-5 x 10 -8 basissubsititusies per lokus ("site") per generasie. (Mohrenweiser H 1994 Mutation Res 304 119-137) en die gemiddelde tydsduur vir ‘n primaat generasie is ongeveer 20 jaar. Die fossielrekord toon dat mense en sjimpansees (konserwatief geskat) minder as 10 miljoen jaar gelede ‘n gemeenskaplike voorouer gehad het. Die ooreenstemming pas dus uitstekend in by die voorspelling van die evolusieteorie. Kreasionisme is nie in staat tot sulke voorspellings nie. 

Transposons : hierdie gedoentetjies is baie dieselfde as virusse, maar hulle besit nie die gene vir virale jasproteïne nie, kan nie sellulêre grense oorskry nie en kan alleenlik in die genoom van die gasheer repliseer. Mens kan hulle beskou as intragenomiese parasiete. In die oorgrote meerderheid van gevalle is hulle enigste metode van transmissie vanaf een metazoaanse organisme na ‘n ander dmv direkte DNS-duplikasie en oorerwing (Li W-H 1997 Molecular Evolution, Sinauer Associates). 

Vir ‘n transposon beteken replikasie selfkopiëring en dan die daaropvolgende inplasing van hierdie DNS op ‘n lukrake wyse iewers in die gasheer se DNS. Transposon replikasie, ook bekend as transposisie, is al direk waargeneem in talle organismes, o.a. gis, koring, wallabies, mense, bakterieë en vlieë en die meganismes is bekend. Wanneer mens dieselfde transposon in dieselfde chromosomale lokus in twee verskillende organismes vind dan kan dit alleen beskou word as baie sterk bewyse vir gemeenskaplike afstamming, aangesien hul plekke van insersie geheel en al lukraak is en hulle slegs deur oorerwing voortgeplant kan word. Voorts, wanneer ‘n gemeenskaplike voorouer geïdentifiseer word wat ‘n sekere transposisie besit dan sal al sy afstammelinge ook daardie transposisie hê. ‘n Raar uitsondering sal wees as die betrokke transposisie verwyder sou word deur ‘n ewe skaars delesie, maar delesies is selde "skoon" en gewoonlik bly deel van die transposonvolgorde in die betrokke genoom agter.  Bioloë het transposons, pseudogene en endogene retrovirusse gebruik om die verwantskappe tussen baie spesies aan te toon, o.a. mense en ander primate.  

Ander molekulêre voorbeelde wat gemeenskaplike afstamming aantoon staan bekend as pseudogene en is reeds vlugtig genoem. Pseudogene is na verwant aan funksionele gene en toon ooreenkomste met sowel die primêre DNS-volgorde en die spesifieke chromosomale ligging van die funksionele gene. Die funksionele gene word getranskribeer na mRNS wat dan weer "vertaal" word na proteïn. Pseudogene het foutiewe regulatoriese volgordes wat verhoed dat hulle na mRNS getranskribeer word, of andersins het hulle interne stopkodons wat verhoed dat funksionele proteïne vervaardig word. In hierdie sin dus is pseudogene die molekulêre ekwivalente van vestigiale strukture. 

Daar bestaan ‘n spesifieke tipe pseudogeen bekend as ‘n oortollige pseudogeen, oftewel ‘n "redundant pseudogene" – waar ‘n organisme sowel ‘n funksionele geen en een of meer pseudogene dra. Daar is baie voorbeelde van sulke oortollige pseudogene wa t gedeel word tussen primate en mense – o.a. die geen vir ψη-globien, ‘n hemoglobien pseudogeen. Dit kom net in primate voor, op presies dieselfde plek in die chromosoom, met dieselfde mutasies wat die funksie vernietig het (Goodman M, Koop BF 1989 Genome 31, 316-335).  

Voorts besit mense twee kopieë van die steroïed 21-hidroksilase geen : een wat funksioneel is en een nie. Mense en sjimpansees deel dieselfde agt-basispaar delesie in die pseudogeen (Kawaguchi H en O’hUigin C 1992 Am J Hum Gen 50, 766-780). Daar bestaan ook ander voorbeelde. 

Dit is uiters onwaarskynlik dat ander soogdiere dieselfde oortollige pseudogene in dieselfde chromosomale lokusse sal hê as dit nie die gevolg is van gemeenskaplike afstamming nie. 

Endogene retrovirusse is ‘n verdere bewys vir gemeenskaplike afstamming. Hulle is die molekulêre oorblyfsels van vorige (oer)virale infeksies. Wanneer kopieë van ‘n retrovirusgenoom in die gasheer se genoom gevind word, word dit endogene retrovirale volgordes genoem. Retrovirusse (bv HIV of HTLV1) maak DNS-kopieë van sy virale genoom en plaas dit in die gasheer se genoom. As so iets in ‘n kiemsel (dws spermselle of ova) gebeur dan sal die nasate van die betrokke organisme die virale DNS in hul genome erf. Die proses is skaars en taamlik lukraak, dus beteken dit dat retrogenes in identiese chromosomale posisies alleenlik op gemeenskaplike afstamming kan dui.  

In die mens beslaan endogene retrovirusse nagenoeg 1% van die genoom – oftewel, nagenoeg 30 000 verskillende retrovirusse is in elkeen van ons se genome ingebed (Sverdlov ED 2000 BioEssays 22, 161-171). Daar is tans ten minste sewe retrovirusse wat ons met sjimpansees deel (Bonner TI en O’Connell 1982 Proc Nat Ac Sci USA 79, 4709; Dangel AW en Baker BJ 1995 Immunogenetics 42, 41-52; Kjellman C en Sjogren HO 1999 J Gen Vir 80, 2383; Lebedev YB, Belonovitch OS, Zybrova NV, Khil PP et al. 2000 Gene 247, 265-277:  Svensson AC en Setterblad N 1995 Immunogenetics 41, 74; Sverdlov op cit). 

Die onderstaande skets toon hoe virusinfeksies van primaatgenome ons verwantskap aandui. 
 
 

                                                                                                      _12,13,14 mens

                                                                                        10, 11 │                                                                                                                                                                                                                      

                                                                                 __ ______│

                                                                            8,9 │              │_____sjimpansee

                                                                         ____│

                                                                       │       │_____________gorilla

                                                 _5,6,7_____ │             

                                                 │                  │               

                           3,4                 │                   │______ ____________oerangoetang

               _________________│

            │                                │

             │                                 │_________________________________gibbon

   1,2     │

____ __│__________________________________ou-wêreldse aap

             │

             │

             │

             │

             │____________________________________nuwe-wêreldse aap 
 

Die syfers 1-14 toon virusse wat in die betrokke genome gevind is – dit is natuurlik nie hul korrekte name nie maar is slegs ter wille van illustrasie.. Hoe dit ook al sy, hierdie skets is ontleen van ‘n onlangse publikasie (Lebedev et al, op. cit.) en toon ‘n filogenetiese stamboom van verskeie primate wat ‘n aantal retrovirusse in hul genome deel. Hierdie is ‘n duidelike voorbeeld van die evolusionêre verwantskap tussen die betrokke organismes. Die evolusieteorie voorspel dat virusse 10 en 11 bv nie in die genome van gorillas of gibbons gevind sal word nie, en die betrokke virusse is inderdaad dan ook daar afwesig. Virusse 5,6 en 7 daarenteen sal alleen in die mens, sjimpansee, gorilla en oerangoetangs aangetref word. Hierdie "virale" stamboom stem ooreen met alle ander voorspellings wat die evolusieteorie maak ivm die evolusionêre verwantskap tussen die organismes genoem. Maak IO (of enige ander kreasionistiese sienswyse) sulke voorspellings? 

Genetiese informasie spesifiseer alles omtrent ‘n organisme en die potensiaal daarvan. Genotipe spesifiseer fenotipe en dus volg fenotipiese veranderinge op genotipiese veranderinge. Uitgebreide genetiese veranderinge is waargeneem in sowel die laboratorium as in die natuur en hierdie meganismes sluit in geenvloei, genetiese dryf, natuurlike seleksie en mutasie. Mutasies vind plaas dmv  waargenome geenduplikasies, mobiele introns, rekombinasies, transposisies, retrovirale insersies (horisontale geenoordragte),  basissubsititusies, basisinsersies en chromosomale herrangskikkings. Chromosomale herrangskikkings sluit in genoomduplikasie (bv. poliploïedie) ongelyke oorkruising (unequal crossing over), inversies translokasies, splitsing (fissions) fusies, chromosoomduplikasie en chromosoomdelesies. (Sien Futuyma D 1998 Evolutionary Biology, Sunderland Sinauer Assoc.). Daar is dus sommer ‘n hele paar meganismes waardeur mutasies die genoom kan beïnvloed en informasie daartoe byvoeg – maar die skrywer van die "studiestuk" vertel ons die teenoorgestelde : geen van die miljoene eksperimente oor mutasies het kwansuis enige informasie tot die genoom bygevoeg nie! 

Kladistiese klassifikasie en derhalwe filogenetiese rekonstruksie is grootliks gebaseer op spesies se kenmerkende morfologiese eienskappe. Evolusie vereis dat organismes se morfologie met verloop van tyd verander en dus behoort ons in moderne populasies dan ook morfologiese veranderinge te kan waarneem. Artikels waarin spesiasie beskryf is, is reeds genoem, maar evolusie behels natuurlik meer as net morfologiese veranderinge.  Bakterieë het weerstandigheid teen virusse ontwikkel (Luria S en Delbruck M 1943 Genetics 28 491-511) en teen antibiotika (Lederberg J en Lederberg EM 1952 Proc Nat Acad Sci USA 99, 803-808). Die vermoë om nuwe aminosure of DNS-basisse te sintetiseer is beskryf deur Futuyma op, cit.) en die vermoë om nylon en pentacholorofenol te metaboliseer is reeds genoem. Laasgenoemde behels die ontstaan van ‘n hele nuwe multi-ensiem metaboliese baan (Lee SG en Yoon BD 1998 J Appl Micribiol 85, 1-8). 

‘n Panoramiese oorskouing van die geskiedenis van lewe op aarde toon aan mens ‘n asemrowend mooi verskeidenheid van bekoorlike organismes wat die verloop van evolusie demonstreer. Die oudste rotse is nagenoeg 4 biljoen jaar oud en bevat geen tekens van lewe nie. Die vroegste potensiële lewe word aangetref in die Apex chert van Australië wat ongeveer 3,46 biljoen jaar oud is. Daarna vind ons fossielbakterieë en stromatoliete wat op ongeveer 3,4 biljoen jaar gedateer is. Vir byna die volgende biljoen jaar bevat rotse geen multisellulêre lewe nie en word slegs prokariote aangetref. Die oudste eukartiotiese lewe is acritarche wat sowat 1.75 biljoen jaar oud is. Vir die volgende byna een biljoen jaar is daar steeds geen "vordering" te bespeur nie.  

Eers naby die Prekambriese/Kambriese oorgang, sowat 580 miljoen jaar gelede, vind ons die eerste fossiele van multisellulêre lewe in die Ediacariaanse en Burgess neerslae. Hierdie lewensvorms is meestal klein met liggame wat uit sagte weefsel bestaan en meeste is oppervlakkig verskillend van enigiets wat ons vandag vind. Soos ons uit die standaard filogenetiese stamboom sou verwag is die vroegste fossiele van meersellige lewensvorme die van eenvoudige sponse en see-anemoonagtige organismes. Ongeveer 20 miljoen jaar later tref ons die eerste oorblyfsels aan van eenvoudige molluske, wurms en echinodermata en na nog sowat 15 miljoen jaar verskyn die eerste vertebrate : klein wurm- en visagtige organismes sonder beendere en kake. 

Namate ons deur die Fanerozoiëse tydperk nader aan die huidige beweeg word lewe meer soos dit wat ons vandag ken. 

Daar is niks in die natuur wat daarop dui dat die evolusieteorie verkeerd is nie. Vanselfsprekend is daar nog geweldig baie navorsing om te doen en dis ook goed so.  

Antwoord sg "studiestuk" oor evolusie bevat hoegenaamd geen data of argumente wat evolusie as onwaar bewys nie, alhoewel dit ongetwyfeld talle mense wat niks van evolusie weet nie die verkeerde indruk sal gee. Al wat dit verder uitrig is om die skrywer se onkunde en bevooroordeeldheid ten toon te stel. Die stuk behoort in der waarheid van die webwerf verwyder te word en vervang word met ‘n apologie an alle wetenskaplikes wat oor evolusie navorsing doen. 

  • Leon Retief  is ’n lid van Sceptic South Africa en woon in die Wes-Kaap.